Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Veilige uittog na die see wat jy net mag sien

Strande sal gesluit wees, maar slaggate sal oop bly. Dit is omtrent die beste opsomming van die vakansie wat vir onse piepols in hierdie dae voorlê.

Ten minste hoef ons ouens wat tuisbly, nie in die volgende paar weke gras te sny nie, want die tuinroete is mos toe.

Blouwillem

Nee kyk, alle grappies op ’n stokkie. Ek het nog altyd so heimlik my vriende beny wat so oor die feesdae sommer so tien kleinkinders in die groot vakansiehuis daar reg oppie strand by Grootbrak, Kleinbrak, Mediumbrak en Hondeklipbaai in groot Krismisbeddens kon akkommodeer, maar wat nou elke dag gemaak met daai spulletjie? Onthou net, ’n drie jaar oue mannetjie speel nie Monopoly nie. Ten minste weet die oupas en oumas darem nou dat hulle nie hierdie jaar oor haaie hoef te bekommer as die kleintjies strand toe laat spaander nie.

Dik Daan, wat nou daar hoog en baie droog in Die Hinderlaag sit en verlangend na Buffelsbaai-in-sy-maai sit en staar, sê een geluk is darem dat die Noord-Kaapse en Vrystaatse strande oop bly, so hy sien al hoe die ouens nou na gewilde swemplekke soos Kimberley se gat en Loch Logan se strandmeer in Bloemies gaan stroom.

Intussen het hy maar Saterdag ’n vrag riviersand daar by hom laat aflaai sodat die kleinvolk darem nog sandkastele kan bou.

“Hierdie Tuinroete-Kremlinbevel voel vir my soos ’n onsinnige sperstreep op ’n 5 km lange stuk oop pad in die Karoo,” sê hy.

“Die een of ander tyd gaan selfs ’n wetsgehoorsame ou verbysteek en dan gaan 40 spietkops nie eens kan keer nie.”

Jammer, Oom, maar ons probeer net by die ander karre bybly.

Met almal wat nog petrol in hul tenk en ’n swemplek by die see het wat hierdie week in die pad val, is so een of twee spietkopstories dalk gepas, ook as waarskuwing om nie te jaag nie. Die see gaan nog daar wees as jy daar kom, ou maat, selfs al gaan jy net vir hom sit en kyk.

Ons ry doerie jare Potch toe met ou Schalk se rooi Volla om te gaan intervarsity hou teen die Pukke. Tussen Bothaville en Viljoenskroon spring ’n ou in uniform en met ’n woeste krulsnor agter ’n dik bloekom uit, stap afgemete en onheilspellend nader en sê triomfanklik: “Ja, manne, ek wag al heeldag vir julle.”

Kom ’n stem agter uit die Volla: “Sorry, Oom, maar ons het gekom so vinnig ons kon.”

“Luister, julle mannetjies, moenie nog met my slimstorietjies kom maak nie! Hoekom ry julle so vinnig?”

Antwoord ou Schallies agter die stuurwiel: “Jammer, Oom, maar ons probeer net by die ander karre bybly.”

“Watter ander karre? Hier’s g’n ander karre nie, man!”

Weer Schallies: “Sien Oom hoe ver het ons agtergeraak?”

So, vriende, ry veilig en baie stadig en as jy daar kom, bly weg van die strand en sorg dat jy so vinnig moontlik by ’n veilige plek soos ’n besige Mallhuis of ’n verhitte onderdakswembad uitkom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.