Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Ver-dom-de land weens verdommende beleid

Suid-Afrika is ’n ver-dom-de land weens verdommende beleidsrigtings. Die minister van finansies snuffel as’t ware in die ANC-vullisdrom op soek na verwerpte beleidsadvies in ’n desperate poging om die uitstroming van kundiges te beperk. Die matriekuitslae, ondanks die gejubel, wys ook die verdomming stoom onverpoosd voort, skryf Johannes Wessels.

Foto: Getty Images

Op ons stortingsterreine sien ons hoe die desperates delf om brokkies herwinbare en deels bruikbare artikels te vind. Dié beeld van desperaatheid het vlietend by my opgekom toe ek hoor van Tito Mboweni, minister van finansies, se colloquium om te besin oor die ekonomiese beleid omdat die huidige stelsel nie die groei lewer wat nodig is nie.

Hy het as’t ware in die ANC-asblik begin soek na die verworpe verslag van Ricardo Haus­mann, Harvard-ekonoom en destydse voorsitter van die interna­sionale paneel van deskundiges oor die regering se versnelde Suid-Afri­kaanse groeiplan (Asgisa).

Hausmann se bevindings en aanbevelings in 2008 het die ANC in sy ideologiese pap laat stik. Die verslag is effektief deur ignorering verwerp.

Vol bravade en ontslae van die gehate Thabo Mbeki het die Jacob Zuma-administrasie swartbemagtiging en regstellende aksie sonder brieke begin volg.

Hausmann, bekend vir sy analises van produktiewe kennis as skeidslyn tussen suksesvolle en mislukkende lande, het destyds gewaarsku: “Maak swart ekonomiese bemagtiging (SEB) groeigerig. Tref alle maatreëls om die emigrasie van wit kundigheid op hoë vlak te stop.”

Hy het SEB bestempel as ’n voortdurende belasting op kapitaal en voorgestel dat ’n spertyd gestel moet word om dit af te skaf. Intussen moet dit omvorm word om nie groei te belemmer nie.

Hy het ook uitgespel dat werkskepping vir ongeskoolde arbeid afhang van die mate waarin geskoolde arbeid die ekonomie kan laat groei.

Enige beleid wat dus kundigheid aan bande lê, is in wese ’n beleid waaruit die armes nie voordeel trek nie.

Enige beleid wat dus kundigheid aan bande lê, is in wese ’n beleid waaruit die armes nie voordeel trek nie. 

Tussen 1994 en 2003 het Suid-Afrika 7% van alle professionele kundiges verloor. Daar het wel opgeleides uit ballingskap teruggekeer, maar vir elke agt kundiges wat die land verlaat het, het net een geïmmigreer.

Tydens die jare van hoë groei het die uitvloei effe afgeneem, net om weer te versnel namate die Zuma-administrasie die land ondermyn het.

Beleidsrigtings om die demografiese rasseprofiel te neem as sjabloon vir hoe elke staatsdepartement moet lyk, het in die lig van die kundigheidsverliese tot ’n verroeste en ineengestorte staatsdiens bygedra.

Wie dit wil ontken, moet kennis neem dat die Wêreld- Ekonomiese Forum se indeks die Suid-Afrikaanse polisiediens as een van die 20 onbetroubaarste ter wêreld gereken het.

Bedink ook Suid-Afrika se swak prestasies wat onderrig-standaarde in wiskunde en natuurwetenskap betref. En daar is ook die herhalende mislukkings en inploffings van plaaslike owerhede, asook staatsondernemings soos Eskom, Transnet, die SAUK en die wat net nie ophou nie.

Die regering is deeglik bewus van die verlies aan kundigheid.

Die regering is deeglik bewus van die verlies aan kundigheid. Hul eie witskrif oor internasionale migrasie (2017) stel: Swart kundige emigrasie oortref reeds getallegewys wit emigrasie van kundiges; en

* Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) erken kundigheid moet sowel beskerm en bevorder word om groei aan te moedig, maar die regering het nie beleidsmaatreëls om die uitvloei van kundigheid te keer of om kundiges te lok nie.

Trouens, my navrae by die kantore van die registrateurs van maatskappye in Mauritius en Botswana het getoon dat ’n aansienlike aantal nuwe maatskappye in die afgelope tien jaar geregistreer is.

Vanne soos Botha, De Bruyn, Basson, Meyer en Van der Walt, wat nie ’n enkele SEB-punt in Suid-Afrika verdien nie, is van daardie maatskappye se direkteure.

Effektief is SEB nie net besig om Suid-Afrika se produktiewe kundigheid te verminder nie, maar dit is besig om lande soos Mauritius en Botswana te help om, wat die bruto binnelandse produk (BBP) per capita betref, Suid-Afrika agter te laat.

Dit is egter nie advies wat die desperate ANC kort nie, maar leierskap om uit te breek uit die verswelgende ideologiese moeras.

Mboweni grawe nou Hausmann se ou verslag uit en betrek hom as ’n kundige adviseur. Dit is onwaarskynlik dat die boodskap anders gaan wees.

Dit is egter nie advies wat die desperate ANC kort nie, maar leierskap om uit te breek uit die verswelgende ideologiese moeras. Leierskap wat sal besef om met ’n balanseertoertjie die eenheid van ’n bykans ideologies-skisofreniese organisasie te behou, is opsigself die voortsetting van die Zuma-benadering: Die ANC is belangriker as die land.

Wie voorgee dat daar ná die verkiesing beslissende leierskap gaan kom, hou nie rekening met die feit dat die partylyste vir sowel die Nasionale Vergadering en die provinsies ’n kompromie gaan wees nie. Die interne stryd sal eenvoudig voortwoed.

Suid-Afrika kan nie groei as die land verder aan produktiewe kennis verdom nie.
Johannes Wessels

Indien ekonomiese groei en daar­deur die verbetering van die kanse om werk te kry belangrik is, is dit nodig om voor die verkiesing ’n paar belangrike stappe aan te kondig: ’n Moratorium op SEB;

* ’n Onmiddellike oudit van die vier top-posvlakke in alle munisipaliteite om seker te maak dat kundigheid en nie kaders nie die munisipale bestuur beheer;

* ’n Verbintenis om die hawens, spoorweë en Eskom te privatiseer;

* Die onmiddellike aanpassing van hawetariewe tot die internasionale gemiddelde; en

* Vrystelling van alle ondernemings met ’n belasbare inkomste onder R50 miljoen van sentrale bedinging.

Suid-Afrika kan nie groei as die land verder aan produktiewe kennis verdom nie.

Johann Rupert se half geïrriteerde opmerking onlangs dat dit “baie maklik is om belangstelling te verloor en nie betrokke te wees nie”, is dalk ’n aanduiding dat die kantelpunt van ’n versnelde Groot Trek baie naby is.

Data uit die jongste matriekuitslae wys dat die onderwysstelsel ver van ’n ont-dommende stelsel is, maar eerder een is wat ’n sistemiese bydrae tot toenemende protes as tot ekonomiese groei gaan maak.

Wessels is direkteur van die Enterprise Observatory van Suid-Afrika (EOSA). Die volledige artikel is by https://eosa.org.-za/blog/

Meer oor:  Johannes Wessels  |  Verdomming  |  Beleid  |  Anc  |  Onderwysbeleid  |  Armmoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.