Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Verlange na 1984, toe reg nog reg was

Twee keer per week ry hy met sy Nissan-bakkietjie die buurt in, met drie werkers agterop en ’n sleepwa vol grassnyers en tuingereedskap agterna.

Dana Snyman

Gewoonlik wys hy vir die drie werkers wat om waar te doen, dan gaan staan hy by die bakkie in die straat en hou hom met sy selfoon besig terwyl die werkers iemand se grasperk sny en die tuin mooimaak. Hy betaal hulle getrou en goed.

Hy is nie veel ouer as jy nie, maar jy wil hom oom noem. Miskien is dit sy verbleikte boshoed en sandale, sy snor, en sy gewoonte om goed in sy blokkieshemp se bosak saam te dra: ’n selfoon, pen, botteltjie oogdruppels, pakkie sigarette, en deesdae ’n masker.

Hy is een van daardie mans wat op 27 al na ’n oom begin lyk het.

Hy het ’n stewige handdruk en kyk jou reguit in die oë wanneer hy jou groet. Hy het van jongs af geleer om hulle wat bo hom aangestel is te respekteer. Jy vra nie vrae nie.

Hy is een van daardie mans wat op 27 al na ’n oom begin lyk het.

Hy was vir jare ’n gesondheidsinspekteur by die munisipaliteit, maar toe hulle in 2008 ’n jong vrou met veel minder ondervinding as hy bo hom aanstel, het hy besluit om eerder ’n skeidingspakket te aanvaar.

Die grootste gedeelte van sy pakketgeld het hy belê by ’n makelaar wat Bybelverse aangehaal het terwyl hy hom vertel het hoe sy geld gaan groei. En toe die makelaar met sy geld verdwyn, kon hy dit nie verstaan nie. Dis dan ’n man van God.

Hy het altyd gedoen wat van hom verwag is: kinderkrans, katkisasie, kadette; en toe hy vir die eerste keer kon stem, het hy NP gestem. Tydens sy militêre diensplig was hy vir 14 maande op die grens bo in die ou Suidwes.

Hy het ja gestem in 1992 se referendum. Nelson Mandela het nie vir hom gelyk na die terroris waarvan hy vertel is nie, maar niemand het hom voorberei op wat ná 1994 kan gebeur nie. Hy het nie eens geleer hoe om behoorlik Engels te praat nie.

Met sy oorblywende pakketgeld het hy die tuindienstebesigheid begin. Sy vrou bak vleispasteie en verkoop dit, en hul dogter werk in Dubai.

Wanneer hy met sy selfoon daar by sy bakkie staan terwyl sy werkers iemand se tuin regruk, lees hy wat mense op Facebook sê.

Hoe die sosialiste ’n nuwe wêreldorde wil vestig. God het Donald Trump gestuur om dit te keer. Die koerante lieg. Kyk wat doen die liberaliste met die kerk. Die gays mag glads al daar trou. Die ANC wil hê die boere moet op hul plase vermoor word.

Hy was al op ’n Steve-konsert en het “Die Stem” uit volle bors saamgesing, maar die volgende oggend moes hy steeds sy werkers in die township gaan oplaai.

Soms wens hy dit was weer 1984 en hy is op die grens saam met sy makkers – wat reg was, was toe nog reg – maar party nagte skrik hy wakker, natgesweet, en sien weer daardie outjie naby Lubango dood langs hom op die grond lê. Hy het as kind laas gehuil.

Vir ’n leeftyd al is hy die slagoffer van sy eie mense.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.