Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Vlam kan ’n groot vuur word
Prof. Rantoa Letšosa

Ek is ’n kind van die Here. Waarom moet ek dan so sukkel en deur sulke moeilike omstandighede gaan?

Ek bid dan gereeld, woon eredienste by en probeer om eerlik te leef. Is dit alles die moeite werd? En waar is God in al hierdie toekomsonsekerheid in ons land?

In 1 Pet. 5:10-11 lees ons: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.”

In hierdie laaste hoofstuk van Petrus se eerste brief praat hy oor Christelike lyding. Agter die woorde “oprig” en “moedig, sterk en standvastig maak”, is ’n spesiale prentjie. Dit kan vervang of vertaal word met “herstel”, “vestig”, “versterk” en dan weer “vestig”.

Elk van dié woorde vertel ons iets oor wat lyding, wat deur God ontwerp is, aan ’n Christen doen.

Dit is vir niemand lekker om te ly nie. Waarom is dit dan die moeite werd om te ly?

Wat sit agter hierdie spesiale prentjie wat Petrus vir ons skets?

Deur lyding sal God ons herstel.

In dié geval is “herstel” moeilik om uit die Grieks te vertaal. In Mark. 1:19 word dit gebruik vir die heelmaak van nette: Om dít wat stukkend is te herstel en om te voorsien in iets wat ontbreek.

Hartseer en liggaamlike lyding laat jou óf ineenstort óf dit gee jou ’n sterker karakter wat jy nie andersins sou gekry het nie.

Lyding, wat in nederigheid, vertroue en liefde aanvaar word, kan die swak-hede in jou karakter herstel en die grootheid byvoeg van dít wat tot dusver ontbreek het.

Sir Edward Elgar het op ’n keer geluister hoe ’n meisie ’n solo uit een van sy werke sing. Haar stem was uitsonderlik suiwer en duidelik en haar tegniek bykans perfek.

Toe sy klaar was, het sir Elgar gefluister: “Sy sal wonderlik wees as iets haar hart kon breek.”

’n Man het eendag oor die dood van sy broer – sy ma se gunstelingseun – gesê: “Dít is waar my ma haar sagte oë gekry het. Daarom wend ander ma’s hulle na haar wanneer hulle ’n kind verloor.”

Lyding het iets aan haar gedoen wat sy nie op ’n maklike wyse sou kon kry nie.

Met lyding voeg God die genade-aantekeninge by my lewe.

Deur lyding sal God ons vestig.

Die Griekse woord “vestig” beteken om iets so solied soos graniet te maak.

Hartseer en liggaamlike lyding laat jou óf ineenstort óf dit gee jou ’n sterker karakter wat jy nie andersins sou gekry het nie.

Wanneer lyding en pyn oor jou pad kom, kom jy met voort­gesette vertroue in Christus soos solie­de, vuurgetem- perde graniet anderkant uit.

Deur lyding sal God ons versterk.

Die Griekse woord “versterk” beteken om met krag te vul.

’n Lewe sonder moeite en dissipline word byna onvermydelik ’n dwase lewe. Niemand weet regtig wat sy geloof vir hom beteken totdat dit in die oond van lyding getoets word nie. Geloof wat in hartseer en teleurstelling oorwin het, is kosbaar. Wind sal ’n swak vlam blus, maar ’n sterk vlam tot ’n groter vuur aanblaas. So is dit ook met geloof. Lyding kan jou geloof blus of aanblaas.

En dan weer die woord “vestig”.

In Grieks beteken dit ook om die grondslag te lê. In hartseer en lyding word ons tot die uiterstes van geloof beproef. Dan ontdek ons die dinge in ons wat nie geskud kan word nie. In sulke tye van versoeking ontdek ons die groot waarhede waarop ons lewe werklik gegrond is.

Ja, lyding is vir ’n Christen die moeite werd. Aanvaar dit met blydskap en met die wete dat ál die genade-gewende krag aan God behoort.

Meer oor:  Geloof  |  God  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.