Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Volmaan oor die vallei is my Nagmaaltyd
Annemarie van der Walt

Sonder die daaglikse kerktoeganery kan ek nouliks.

Sou dit gebeur dat die alledaagse moete my besoeke daaraan in die wiele ry, is ek sommer omgeëllie en ongedurig. Dan moet ek maar tevrede wees daarmee om deur die vensters te kyk en te hoop ek sien die fladdering van ’n vlerk, hoor dalk ’n sagte voetval van ’n verbloemde iets en ruik die onnaspeurbare geur van . . . Ja, wat? Hoop?

Dit is goed om die dag in my kerk te begin.

Maar dis iets baie besonders om dit in die skemertyd te betree. Want was dit nie dié tyd van die dag dat Adam en Eva besoek gekry het daar in die Tuin van Eden nie?

Ek maak myself wys dit is die rede waarom ’n mens so diep kan verlang na wat of wie ook wanneer die skadu’s langer word en die aandwind opkom. Die blou uur.

Kyk, my kerk se banke bied beslis nie altyd die gemaklikste sitplek nie. Maar dis hoe ek dit van my kinderdae onthou. Anders as toe kan ek met die beste wil ter wêreld nie meer so sit-sit aan die slaap raak nie. Daar is heeltemal te veel om my waarop ek wil en moet ag slaan.

Anders as in die kerke waarin ek grootgeword het, is daar om elke hoek en draai altare waar ek my nou bevind.

Die preekstoel staan ook elke dag op ’n ander plek, en die kanselkleedjie se bewoording maak ek sommer self op soos dit my behaag.

Soms, eintlik meestal, is dit gedigreëls wat kom aanmeld, soos N.P. van Wyk Louw se “O Heer, laat hierdie dae heilig word: / laat alles val wat pronk en sieraad was . . .”

En ek hou van die ritme van dié sin van Goethe: “Über allen Gipfeln / Ist Ruh.” Dit klink soos ’n voetval: oor-alle-bergkruine-is-daar-vrede.

Anders as in die kerke waarin ek grootgeword het, is daar om elke hoek en draai altare waar ek my nou bevind. En sou daar die dag nie wees nie, bou ek sommer self een met die klippe wat ek in die loop optel.

Self hef ek nie sommer ’n psalm of gesang aan tydens die dienste nie. Ek is te vals gebek en bang ek verjaag die soet klinkende kore.

Hoe hou ’n mens ooit die noot saam met ’n heuglinjanfrederik se aandlied? Of die dringende pieeoee van ’n bosjakkalsvoël?

Net so ding ek geensins mee met my mede-kerkgangers se kleredrag nie. Vertel my tog waar kry ’n mens mooier as die skelrooi veredos van ’n rooivink of die skittergroen van ’n klein-rooibandsuikerbekkie?

In my gemeente is daar nie diakens of ouderlinge nie, en die predikers wissel gedurig. Soms is dit die waterval of ’n kiepersol wat kniel in die wind, ander kere die bosse sewejaartjies wat op ’n dag net dáár is in die veld.

Die beste tyd om Nagmaal te hou, is wanneer die volmaan oor die vallei opkom. Dan prewel ek my bondige geloofsbelydenis met die digter Herman de Coninck se woorde: “Alles had. Alles had ons.”

My kerk is ’n struwellose kerk.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Kerk  |  Kerke  |  Kerkdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.