Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Wêreld wat soos mis voor son verdwyn
Annemarie van der Walt

Dis pikdonker toe ek wakker word en ek wéét iets is anders. Eers omgedraai, my oë toegemaak en gehoop die slaap sal weer opdaag; toe op die horlosie gekyk en gesien dis drie-uur in die môre en gewonder vir wat is dit áltyd drie-uur wanneer die rus wyk deur ’n skreef gordyn oopgetrek deur die nag.

Opgestaan en venster toe gestap en daar was nie ’n ster of flerts maan te sien nie. Net die dik bank mis wat die huise rondom myne versluier, en ek het gedag: “Hoe heerlik, die somer is hier.”

Want hier op die byna allernoordelikste knoets van die Drakensberge is die somer dikwels sleepvoetend gehul in ’n mismantel. In die nag is die teenwoordigheid daarvan soos ’n ekstra kombers waaronder jy opkrul; bedags demp dit die skerp klanke van die verbygaande houtlorries op die teerpad, die knippende tuinskêre; en word die swartkopwielewaal se roep soos druppels wat uit ’n boom waai.

Wanneer ’n mens gaan stap in die digte mis is die verwondering telkens hoe dit so oop kan maak rondom ’n mens se lyf, as’t ware ’n spel tussen twee magnetiese pole: die waterdraende koffer van my siel met arms en bene en kop wat die klam slierte wolk verdring, elke keer ’n tree verder. Maar soms is die mis ’n terggees en peuter moedswillig aan jou kompas, sodat jy in jou spore moet stuit wanneer ’n boom of bank rotse opdoem op ’n plek waar jy dit allermins verwag en jy jouself moet afvra: “Watter afdraai het ek misgeloop en hoe het ek hier beland?”

Die einste vrae wat ook klokslag drie-uur in die môre moeilik is om te ignoreer.

En toe val dit my op wat ek mis. Daar is geen paddageluide nie. Nie die gorrelskurwepadda (Bufo gutteralus) nie, of die borrelvleipadda (Kassina senegalensis) en veral niks van die gunsteling-klareënpadda (Breviceps verrucosus) nie. Skielik was die nag killer.

En toe val dit my op wat ek mis. Daar is geen paddageluide nie.

Miskien is dit bloot net te vroeg in die seisoen, het ek myself probeer wysmaak. En onthou dis wat ons ook gesê het vier, vyf jaar gelede toe die blouswaels steeds nie opgedaag het om te kom broei op die lap grasvlakte tussen die plantasies nie.

Dit is langer as vyf jaar gelede wat ’n oribi op daardie einste Blouswaelvlakte gesien is; miskien twee jaar of langer reeds wat ’n tierboskat my pad gekruis het, en deesdae kom ek gereeld ’n enkele grysribbok teë, onkenmerkend omdat hulle in klein troppe hou.

Toegewikkel in ’n hartseer, verlies soos ’n kniekombers, het ek op die stoep gaan sit en wag vir die dag, die nanag ingeluister vir ’n geluid, enige geluid, en gewonder oor dit wat soos mis voor die son verdwyn, en hoe lank Atlas nog die wêreld op sy skouers gaan verduur.

Later is ek binnetoe om die mite te gaan nalees, en besef ons het dit verkeerd: Atlas is inderwaarheid die las opgelê om die hemelgewelf te dra. Ons kan die aarde nie op hom afskuif nie; en dit is ondraaglik.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Drakensberge  |  Menings  |  Somer  |  Wêreld  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.