Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Winter van misnoegdheid

Ons sal 2021 ongelukkig moet onthou as dit wat Shakespeare se Richard III “the winter of our discontent” noem. Die ondenkbare en onvoorstelbare is aan’t gebeur. Soos ek hier sit en skryf, huiwer Suid-Afrika op die dunste randjie van ’n afgrond waarvandaan daar geen terugkeer is nie. Ons sien iets wat elke dag al hoe meer lyk na die selfvernietiging van ’n inploffende, mislukte staat.

Anton van Niekerk

Wat het dit veroorsaak? Daar is sekerlik baie redes, waarvan ’n radelose ongeduld met armoede en voedselnood een van die vernaamstes is. Wat egter nie ontken kan word nie, is dat die vonk by die kruitvat die geregtelike optrede teen ’n oudpresident van hierdie land was – ’n man wat ’n gewetenlose, korrupte en misdadige minagter van die reg en orde is. Dit is ironies-beduidend dat Jacob Zuma in die tronk is oor sy minagting van die hof, insluitende die hoogste hof van die land. Die begrip “minagting” staan geskryf oor die meeste aspekte van Zuma se optredes.

Hy minag die kern van die regstaat wat ons in 1994 gehoop het ons sal word – ’n staat waar wette en nie mense nie, regeer. Die staat is die versameling van instellings in ’n samelewing wat orde en reg waarborg en wat mense se regte en vryhede beskerm. Wetgewende instellings konstrueer die wette wat ons regeer. Die uitvoerende en regsprekende instellings sien toe dat daardie wette uitgevoer word.

Ons het verder gekies om ’n konstitusionele staat te wees, ’n staat waarin die hoogste wet waarmee alle wette moet korreleer, die Grondwet is, en waar die gesaghebbendste arbiter oor wat die Grondwet sê, die konstitusionele hof is.

Zuma het onomwonde en ondubbelsinnig getoon dat hy – wat eens moes sweer dat hy die Grondwet sal (laat) uitvoer – geen agting vir die Grondwet het nie. Wat egter meer skrikwekkend is, is dat hy en sy trawante daarin kon slaag om ’n horde gewelddadige rampokkers te monster om hulle aan ander mense se eiendom te vergryp, en dit boonop terwyl die polisie die vandalisme lusteloos staan en betrag.

Ons sien die minagting van Zuma wat blykbaar endemies in minstens twee provinsies (dalk ook verder?) versprei het.

Kortom: Ons sien die minagting van Zuma wat blykbaar endemies in minstens twee provinsies (dalk ook verder?) versprei het.

In die proses is die sabotasie van die ekonomie wat hier plaasvind, onberekenbaar en ysingwekkend. In Durban alleen word die skade voorlopig op R20 miljard bereken. In ’n land wat kreun onder werkloosheid en armoede, is ’n maaltyd of drie se proviand dalk gegryp en mee weggehardloop. Wat gebeur egter môre en oormôre wanneer die buit op of onbeskikbaar is en werkgeleenthede verder gedesimeer is? Storm en gryp ons maar weer?

Is hier iets aan te doen? In my moontlike naïwiteit hou ek meermale vas aan Jan Smuts se stelling dat dit met Suid-Afrika nooit so goed gaan soos dit lyk nie, maar ook nooit so sleg soos dit lyk nie. As ons enigsins hier gaan uitkom, is daar minstens een ding wat sal moet gebeur: Ons sal die instellings en regsorde wat ons met soveel moeite gebou gekry het, moet leer respekteer. Daar is in hierdie land eenvoudig nie plek vir minagters soos Zuma en sy span verwoesters nie.

Ons sosiale kontrak met mekaar, wat in wese neerkom op ’n verbintenis tot ons Grondwet, sal herbeding moet word. Thomas Hobbes, een van die grondleggers van die idee van ’n sosiale kontrak, het reeds daarop gewys dat ons onsself moet verbind aan ’n kontrak, nie omdat ons van mekaar hou nie, maar omdat ons mekaar vrees.

As dit dan al basis is waarop ons vorentoe kan beweeg, laat dit dan wees. Die alternatief is te afgryslik om te bedink.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Armoede  |  Ekonomie  |  Politiek  |  Plundertogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.