Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ná 40 jaar terug in die wiskundeklas
Die skrywer Dana Snyman. Foto: Wiebke Wilting

Dis die Riverside Castle buite Pretoria. Dit is ’n Saterdagmiddag, ’n maand of so gelede.

In die oopte is motors geparkeer. Half eenkant ’n Mahindra-bakkie. Seker Lucas of een van die ander wat gaan boer het s’n. Jy parkeer langs dit en wens jou dubbelken weg toe jy vlugtig jou weerkaatsing in jou bakkie se ruit sien terwyl jy uitklim.

Iemand kom nader. Kan dit Jackie wees? Is inderdaad Jackie. Of is dit Annemarie? Of Trudie?

Julle klink na twee reisigers wat pas terug is van ’n lang tog deur ver, gevaarlike lande. “Veertig jaar,” sê julle meer as een keer vir mekaar. “Kan jy dit glo? Is al 40 jaar.”

Dan is julle in die ontmoetplek, ’n lapa, met ’n kroegie daarby. En daar staan hulle: Seuns en meisies wat mans en vroue geword het. Hulle wat in 1980 saam met jou in matriek in die Hoërskool Nylstroom was. Franna. Naomi. Mia. Is dit tog nie Storries daardie nie? Hy lyk onrusbarend fiks. Emmarie. Ronel. Rooiberg. Markus. Eddie. Zizzilee.

Oom Fanie lyk beter as die meeste van julle. Wys jou die voordele van ’n sagte hart.

Die meeste van hulle het jy op skool laas gesien. En hier kom Harry, eerstespankaptein, ook. “Ja, jou bliksem,” sê hy, asof dit die eerste periode op Maandagoggend is en julle het weer nie tant Tienie se wiskundehuiswerk gedoen nie.

Slegs een onderwyser is hier: oom Fanie, die een wat nie aan lyfstraf geglo het nie. Oom Fanie is al 70, en eers na die tweede glas wyn sê julle dit vir mekaar: Oom Fanie lyk beter as die meeste van julle. Wys jou die voordele van ’n sagte hart.

Dis genoeg rede om nog ’n glas wyn te skink, maar eers ’n groepfoto. Piet Skyfies, die hoofseun, is steeds julle leier. Hy beduie wie moet waar staan. Julle kyk na die kamera. Nie een van julle het die lewe ontkom nie: Een het ’n been verloor, ’n ander een het kanker oorleef. Egskeidings. Motorongelukke. Julle is deur ’n leeftyd se veranderinge. Julle het die koms van televisie beleef, en later die internet. PW was die staatspresident toe julle mekaar laas gesien het. Julle moet leer om in ’n nuwe land te oorleef. Nylstroom is nou Modimolle.

Party dae wil jy uitgeput neersak, nes Piet Skyfies toe hy eerste oor die wenstreep in die 800 m by die interhoër is.

Party dae wil jy uitgeput neersak, nes Piet Skyfies toe hy eerste oor die wenstreep in die 800 m by die interhoër is. Maar hier staan julle en glimlag vir die kamera. Chanie. Flip. Mentha. Cobus. Louis. Sam, wat in st. 6 al radio’s oopgemaak en heelgemaak het en nou Eskom help regruk.

WP haal sy selfoon uit en wys ’n foto wat geneem is daardie heilige Saterdag toe julle Hans Strijdom op hul tuisveld getrap het. Harry kom staan by julle. Julle is terug in daardie kringetjie agter die paviljoen, met die reuk van Deep Heat wat om julle hang, terwyl Piet bid: “Here, gee tog dat daar nie ernstige beserings sal wees nie.”

Teen die muur rus ’n kruis met die name op van dié wat al oor is anderkant toe: Gys, Louise, Stefan, Hannie, Errol . . . ’n Pussycat-liedjie speel oor die luidsprekers. Buite is dit nou donker en jul stemme word ál harder en vroliker. Julle is nog hier.

Julle het mekaar weer gevind.

Meer oor:  Menings  |  Dana Snyman  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.