Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ná die 3de keer sing ek ‘die son gaan nooit set’
Gerhard van Huyssteen

Kyk, ek is #mos van donkie­jare se tyd af ’n reuse-Afrikaansepopmusiekaanhanger. Dit kom uit my st. 5-dae, toe my suster en haar vriendin Cielie my op ons stoep al om die pilare, al om die pilare geleer dans het. Ons het geoefendans op alles van Min Shaw tot Anneli van Rooyen, van Gé Korsten tot Leon Schuster. Dit was in die 1980’s . . .

Vandag is dit Juanita du Plessis, Andriëtte, Corlea, ­MoniQue en ander enkelnamige skattebolle wat my laat verlang na langarm- en op-die-tafels-dansaande. Ek koop my musiek aanlyn en stroom dit op my selfoon via my motor se Bluetooth-verbinding. Dis immers 2017 . . .

Op slegs een persoon ná in my vriende- en verwysingskring is ek die enigste ene wat ongegeneerd en trots na Afrikaanse popmusiek luister. My snobvriende is te grênd en slim om daarna te luister. (Ek vermoed wel hulle is almal in-die-kas-Kurt Darren- en -Bobby van Jaarsveld-akoliete. So stiekem in die oggendverkeer – as niemand kyk nie – stroom hulle ook maar ’n popmusiekie of drie, maar wis dan hul webblaaiergeheue uit wanneer hulle by die werk stilhou. Ek gun hulle die intelligente en volwasse musiek van Coenie de Villiers, Anna Davel en Die Heuwels Fantasties. Dié kan ek óók baie geniet, maar my opsies is net soveel meer.

As jy nou met die klomp snobbies praat, het hulle onmiddellik drie besware:

  • Die musiek is te doef-doef;
  • Die lirieke is niksseggend;
  • Die popsangers het nie die Afrikaanse dubbelontkenningskonstruksie onder die knie nie.

Ag sjeimpies, dink ek dan altyd, kan julle nie ’n bietjie afskakel, ontspan en soms minder intellektueel wees nie? Wie wil op die dansbaan nou loop staan sinnetjies ontleed? Nee, man, dáns, Ouboet!

Ag sjeimpies, dink ek dan altyd, kan julle nie ’n bietjie afskakel, ontspan en soms minder intellektueel wees nie?

Moenie my verkeerd verstaan nie: Toe ek vir die eerste keer hoor hoe Jay en Lianie May sing van die plek waar “die son nooit gaan set” (nie), het ek byna ’n dyspierbesering opgedoen. Ná die derde keer wat ek dit gehoor het, het ek uit volle bors saamgesing. Heerlik!

Einste Jay sing op sy jongste album: “So lank sal ek jou liefhê”, die dubbelontkenningbeswaardes volledig stil.

Die eerste reëltjie van “Bly by my” bevestig dalk alle vooropgestelde idees:

“Ek weet nie wat ek sonder jou sou doen / sonder elke dag se wakker-word-soen.”

Maar dan wys hy in die brug dit is eintlik alles digterlike vryheid, want hy het die ontkenningskonstruksie wel deeglik onder die knie:

“Ek sal nie aan kan gaan nie sonder jou!”

Kyk ook na die uitstekende gebruik van die dubbele ”nie” in die brug van die liedjie “Benoni”:

“Benoni, ek hou nie van jou nie. / Ek’s lief vir jou. / Ek wou nie so gou nie, / maar nou’s die tyd vir my en jou!”

En in die bekoorlike koortjie neem hy wraak op alle grammatikafasciste deur alle voorheen weggelate “nies” in te klits:

“Sy sê sy kom van Benoni af. / Sy’s bruin gebrand, / en sy hou van draf. / Sy luister Heuwels Fantasties; / sy vertel dit vir maatjies, / maar ek kyk nie na hulle nie, nié, NIE!”

Vatvyf, Jay, ek benoem jou #mos sommer vir die een of ander Koker-prys van die Afrikaanse Taalraad!

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Musiek  |  Afrikaanse Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.