Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ná die aksie is daar nie altyd die satisfaksie

Die naweek se smorgasbord van sport op TV het my weer laat besef sport is eintlik maar teater – pure drama, kompleet met eiesoortige akteurs, rolverdelings, tekste, souffleurs, dramatiese wendings en meegevoerde toeskouers. Én met unieke rekwisiete, of dan props, soos die Engelse sê.

In ’n teaterstuk kan die rekwisiete so min wees as ’n tafel, stoel, bed en ’n glas water. In hedendaagse rugby, by wyse van voorbeeld, is die props nie meer beperk tot vier fris stutte nie!

Rugby het nou verbysterende rekwisiete: Spelers draf op die veld met soveel verbande, pleisters en veelkleurige opbindsels dat dit lyk of hulle pas uit ’n hospitaal se ortopediese saal of “ongevalle” ontslaan is. En daar is bottels en bottels lafenis, masseerders, waterdraers, raadgewers en ’n swetterjoel onnoembares.

In sokker, die “heilige spel”, aldus die Hollanders, wemel dit al jare lank van rekwisiete. In The Soccer Tribe praat Desmond Morris byvoorbeeld van die vlagwaaiers wat by wedstryde in “kolomme vorentoe beweeg soos die vlagdraers in ’n marsjerende Middeleeuse leer”. Krieket, die ouwêreldse spel vir gentlemen in wit klere, het lankal verander. Kyk maar na die T-20-wedstryde en jy sien hoe floreer die rekwisiete: veelkleurige hooftooisels en afdrooglappe, beenskutte, kopskutte, elmboogskutte en ander lyfskutte waar opslagballe “gevoelige” plekkies pynlik kan tref.

En rofstoei? Van nader bekyk, geen sport nie – net lyfpronk en verstommende rekwisiete,

Ook so met tennis. Rafael Nadal kan net behoorlik speel as sy rekwisiete (sy botteltjies troos- en laafwater) presies staan waar dit móét staan. En Maria Sharapova, soos ander tennissterre, vaar net goed as sy toegelaat word om te gil, kreun, steun, brom en grom; die desibelskaal verby die intensiteit van ’n hoekslyper.

En rofstoei? Van nader bekyk, geen sport nie – net lyfpronk en verstommende rekwisiete.

Miskien is dit toeskouergedrag en -verwagtings wat die verskil tussen teater op die sportveld en teater “op die planke” weerspieël.

In ’n opvoering is daar by die gehoor nog die verwagting van ’n drieledige struktuur – die aanloop, die konfrontasie en die onvoorspelbare ontknoping. Dis bevredigende teater.

Sportskares (die fans) is nie so nie. Die meeste wil net ’n vernietigende oorwinning oor die opponent sien. Dit is omdat hulle duur betaal om vermaak te word; ter wille van hul verlange na ’n bietjie oorwinning te midde van die sleur van werk en lewensbedruktheid.

Soos die mistroostige fan Dave Boyle dit beleef in Dennis Lehane se roman Mystic River: “Win for me. Win for my kids. Win for my marriage so I can carry your winning back to the car with me and sit in the glow of it with my family as we drive back toward our otherwise winless lives. Win for me. Win. Win. Win.”

En as “ons span” verloor, voel die fans in die steek gelaat. Die vreugdevolle eenheid met die massa (die “tribal joy”) in die stadion het verdwyn en die fans keer terug na ’n saai lewe – verwese en bedruk.

Meer oor:  Sport  |  Drama  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.