Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ná die virus se skok mik ons stembus toe

Het ons ons so blind gestaar teen die virus dat ons die “lewe” misgekyk het?

Martie Retief Meiring

Onthou ons net die skok? Die alkoholverbod, die aandklokreël, die seismiese sigaret-sage wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma die nommereen-diktator in die land gemaak het, die perk op byeenkomste, die amper verpletterende afname in soengroet en omhels, die wete dat kantoorwerkers wat tuis werk net bolangs hemp en baadjie dra en onderlangs in ’n pajamabroek op Zoom verskyn.

Die “buitewêreld” was Donald Trump en ons “binnewêreld” was Raymond Zondo. Ramaforie het na Ramavrees geswaai en rampokkers het traksie gekry. Intussen het winkels en restaurante leeg, soos gapende wonde, in die strate gestaan.

Studente wat hul honneursgraad in joernalistiek by die Universiteit Stellenbosch doen, het met die viering van Persvryheidsdag in ’n publikasie bestek geneem van die pandemie-tyd: van die toename in die misbruik op sosiale platforms tot die afgryslike toename in plastiekafval wat aangehits word deur die toename in beskermende drag.

Hulle berig ook oor alles van openbare vervoer tot die klerebedryf en die fliekbedryf wat tot stilstand gekom het; die skok wat kunstenaars getref het; ’n afname in aannemings van kinders; en die sosiale implikasies ná die verbod op Xhosa-inisiasieskole.

Ook onder die loep is die ramp in die onderwysstelsel met leerlinge en studente wat afhanklik geraak het van rekenaars en data vir skoling; die verlamming van maatskaplike dienste; en bowenal, die toename in geweld, ook en veral in die huis.

Reeds voor die pandemie het plaaslike regering die achilleshiel van ons daaglikse bestaan geword.

So was dit. En vorentoe? Die gevierde Nigeriese joernalis Dele Olojede het by die Persvryheids-seminaar wat deur die studente aangebied is die toekomstige joernaliste se visier op ’n nuwe trajek gerig, naamlik plaaslike regering.

Reeds voor die pandemie het plaaslike regering die achilleshiel van ons daaglikse bestaan geword. Tog, dapper soldate wat ons is, gaan ons, pandemie of te not, einde Oktober probeer om nuwe stadsrade te kies. Ons gaan van gewone mense vra om die ongewone te vermag: om riolering reg te kry, slaggate te herstel, nie elektrisiteit te steel nie, nie énigiets steel nie. Ons gaan die moeite doen om te registreer en dan vir ’n mens te stem om eerlik en regverdig te wees.

Die afhanklikheid van enige samelewing van ondersoekende joernalistiek blyk die sterkste teenmiddel teen fopnuus, misdaad en wanbestuur deur die staat te wees.

Ons het reeds ’n trotse tradisie van ondersoekende joernalistiek begin bou. Sou Ace Maga­shule nie nog soos voorheen kon kattemaai met geld en mag as dit nie vir Pieter-Louis Myburgh se onthullings in Gangster State was nie? Sou die EFF makliker slaap as dit nie vir Pauli van Wyk se oog op die VBS-skandaal is nie?

Aspirerende raadslede sal dus wakker moet slaap as hulle Oktober se verkiesing wil oorleef.

Meer oor:  Martie Retief-Meiring  |  Verkiesing  |  Virus  |  Stem  |  Stembus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.