Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ná Fran was rugby nie meer so belangrik
Blouwillem

Aan ieder en elk wat die afgelope week of wat Swerfenisdag, Braaidae en Springbok- rugby beleef en oorleef het, welkom in die mooiste maand!

Ek was die naweek Mangaubloem toe vir die toets teen die spul Aussies. Eintlik heel teen my sin, maar nou ja, iémand moes seker maar gaan, of hoe?

Die lekker ding van rugby in die Rosestad is dat almal dié geleentheid gebruik om ’n reünie van die een of ander aard te reël om met die toets saam te val.

So bevind ek my teen Vrydagaand by die reünie van die 1986-Shimla-span wat daardie jaar die Toyota-klubkampioenskap gewen het.

Gysie, Helgard, Rolls-Royce Joubert uit Durban, almal daar.

En ons eet ’n Vrystaat-skaap van die spit af dat sy karkas later soos ’n fietsraam lyk. Toe dink ek by my sellers die lewe is goed so met skaapvleis, braaiaartappels en goeie pelle.

Wen, gelykop of verloor.

En ja, gepraat van aartappels en gala­dinees: Ek sien die Moerkweker van die Jaar is die afgelope week in Johannesburg op die Moerkwekersforum se galadinee aangewys.

As ek nou vir wyle Fanus sou vra hoe ’n pa moet voel as sy seun gekies word as Jongmoer van die Jaar, sou hy geantwoord het: “Moer trots, natuurlik!”

En as sy laaitie dit nie gemaak het nie?

“Moer de moer in!”

Blykbaar was daar ook pryse vir die innoverendste moerkweker. Die naaswenner is ’n ou wat so ’n soort hark ontwerp het wat hy oor die aartappels sleep. Hy boer met slaptjips.

En die wenner? Ou Erries van Bloemhof, wat vanjaar sy stoomroller waarmee hy met mash boer by Nampo bekend gestel het. Ja nee, Slim Noakes se dieet is lank vergete in daai omtes!

As iemand onlangs R73 000 vir Hitler se onderbroek betaal het, wat dink julle gaan hulle vir ou Hugh se kamerjas kry?

Haai siestog, en daar’s oom Hugh Hefner van Playboy toe ook langbome toe. Vir die jonges wat nie weet nie, Playboy was doerie jare ’n verbode tydskrif, anders as vandag, wat dit ’n ou met ’n rugbykontrak is.

Ek sal oom Hugh ewig dankbaar wees, want sedert hy en ou Gideon Louw my in st. 7 aan Maart 1967 se middelbladmeisie, Fran Gerard, voorgestel het, was rugby nooit weer vir my so belangrik nie.

Oom Johnny sê hy reken dit moet lekker wees om soos ou Hugh die laaste dae daar so met sy bates en al húl uitsonderlike bates in die Playboy mansion met bedrus te kon geniet.

“As iemand onlangs R73 000 vir Hitler se onderbroek betaal het, wat dink julle gaan hulle vir ou Hugh se kamerjas kry?” wonder hy.

“Dink net, om elke dag op ’n groot waterbed wakker te word, omring deur nakende skoon­hede en jy’t soveel geld, maar jy dra net kamerjas en gaan nooit uit nie, want jy’s bang jy mis iets. Dink julle dis sinvol?”

“Jááááá, baie!” kom die koor se antwoord. Maar ai siestog, was die laaste tye nie maar ’n bietjie soos die oom sonder tande wat ’n biltongwinkel bedryf nie?

Meer oor:  Blouwillem  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.