Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ná súlke kuiers vat jy pakkies plaas huis toe

Nog voordat die lente gekom het, het die hunker na die platteland verskyn. Maande lank moes stedelinge agter slot en grendel bly. Diegene gewoond aan buitelandse besoeke is steeds tussen grense gehok.

Emile Joubert

Gevolglik wil dit lyk of al wat leef en beef oor naweke of in enige aftyd pad vat na die ruimtes van die platteland hier aan die suidpunt van Afrika.

En die redes daarvoor, asook die aantrekkingskrag van om in die pad te val, is legio.

Die natuurskoon, veral in Leipoldt se mooiste maand, Oktober, bruis en tuimel uit die aardkors. ’n Rou en grys Kaapse winter het die wêreld laat blom en die veld ’n groener gelaat gegee as wat die mees jaloerse minnaar ooit kan inneem.

Die rye wingerde staan ruig beblaar, miniatuurdruiwetrossies reeds aan’t korrel kry en regmaak vir Januarie se pluk en pars.

Die lug daarbo is wyd en diepblou, met die son nog nie heeltemal priemend en skel genoeg om die koel kleur uit te was nie.

Langs die kus is die see rustig en fris, met ’n geurige, fyn mis wat hom soggens en saans in ’n misterieuse dynserigheid hul.

Dit is geen wonder nie dat die paaie vol reisigers is, baie sonder bestemming. Die oop pad, die natuur se ruimte en die rustige hartklop van die platteland, die’s mos genoeg.

Sy mense, die platteland s’n, speel egter net so ’n groot rol in die uitkom en wegkom na die yl bewoonde landstreke. Die geslagte van oorleef en leef op afgeleë plase en naamlose dorpe het daar ’n weergalose gasvryheid en medemenslikheid geskep.

Vir die reisiger kan hierdie gasvryheid ’n vloek en ’n seëning wees.

Vir die reisiger kan hierdie gasvryheid ’n vloek en ’n seëning wees. Bevind jy jou op die N2-hoofweg tussen Kaapstad en die Suid-Kaapse hengelwater en jou ou skoolpel wat buite Heidelberg boer vind uit jy het verby gejaag sonder om in te val . . . wel, ’n lewenslange vriendskap kan skipbreuk ly. Sy of haar of hul ingeburgerde hartlikheid maak jou afjak suurder om te aanvaar.

Aan die anderkant, val mens sommer onverwags en ongenooid in by plattelandse kennisse en die seëning is groot. Mense daar skyn meer tyd te hê vir ander. Of die daaglikse doen en late en verpligtings, soms veel meer as waarmee stedelinge te make het, vir eers kan wag. Gaste, mense, kom eerste.

Die plaas se vereistes en die dorpskantoor kan wag. Want die besoekende reisiger moet verwelkom word. Hy of sy het immers ver gekom, al was jy skaars twee uur op die pad. Die blydskap waarmee jy ontvang is, word gevolg met die ware jammerte dat die besoek verby is.

Al was die kuier hoe kort, staan daar iets by jou kar wanneer jy regmaak om te vertrek. ’n Houer vol lemoene of ’n halwe boks wyn. ’n Opgepofte plastieksak met ’n ware melktert daarin. Als net so onvermydelik soos die afskeidswoorde “dankie vir die kuier” en “veilig ry”.

En die besef dat die goedheid van mense eintlik deel is van hoe die natuur gemaak is.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Plaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.