Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nag vir VS; effe hoop vir NK
Gert Coetzee

Ter nabetragting blyk dit die Vrystaat het in die jare ná 1994 onder premierskap van Mosiuoa Lekota en die Noord-Kaap onder Manne Dipico s’n ’n wittebrood beleef in salige onbewustheid oor die realiteite wat wag.

Onder Ivy Matsepe-Casaburri, Winkie Direko en Beatrice Marshoff is gedink dit gaan sleg, maar toe tref die bende stropers onder Ace Magashule die Vrystaat. Ná Dipico het Noord-Kaap se kreeftegang veral onder Hazel Jenkins en Sylvia Lucas ingetree.

En kyk hoe lyk ons provinsies nou.

Nasionaal hoop Cyril-optimiste vir ’n keerpunt, maar verkiesing 2019 bring klaaglik vir die Vrystaat g’n uitkoms nie.

Soos vooraf geweet, bly die ANC hier volstrek aan die bewind. Sy poste in die wetgewer daal wel van 22 tot 19, maar die vrotstes bly oor. Terwyl die Magashule-gekoöpteerde Sisi Ntombela allesbehalwe ’n inspirerende leier is. Anders sou sy dadelik ’n verskil kon meebring deur net onder kaders en amptenare in te vlieg en die gemors oral te laat opruim. Dan deur knap staatsbestuur vir goeie diens­lewering van bo af te dwing.

Die vertrekpunt sou wees om die NVG se nuwe spesiale ondersoek-direktoraat dadelik te nooi om tender- en kontrak-bedrog onder jy-weet-wie hier deeglik forensies te kom deurtrap. En agter die kap van die byl oor die gratis Pierneef-skildery aan ’n premierslyfwag en oor ’n sekere “gesteelde” skootrekenaar te kom. Helaas.

In die Noord-Kaap het niks van die DA-droom dat die ANC onder 50% gaan daal, gekom nie.

In die Noord-Kaap het niks van die DA-droom dat die ANC onder 50% gaan daal, gekom nie. Tog skemer ’n sprankie hoop vir die provinsie deur. Hier neem dr. Zamani Saul oor as premier – en nie John Block, oudleier van die Noord-Kaapse ANC nie. Block is in die Upington-tronk oor geldwassery.

Saul, wat ’n doktorale regsgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal het, steun Ramaphosa. Hy word ook as ’n pragmatiese tegnokraat beskou. Ná die aankondiging van sy premier-skap, het hy getwiet: “Die volgende vyf jaar (vir Noord-Kaap) gaan rof wees, maar die armes se belang gaan eerste kom. Hou die ruimte dop!”

Hy moedig volgelinge aan om verder te studeer. En juig op Twitter toe een ’n graad behaal.

Ons hou dop. Soos Cyril Ramaphosa nasionaal dopgehou word in die hoop dat oornag skoongemaak gaan word. “The new Broom,” sê The Citizen. “Cyril faces cabinet pressure,” sê The Star.

Soos in Animal Farm is die ANC in elk geval net ’n kollektief totdat dit by die verdeling van die buit kom.

“Ramaphosa lays down the law,” meen Sowetan. En “Ramaphosa opts for strong advisory unit,” sê Business Day.

Nie so maklik nie. Met steun van bykans 80% aan die ANC/EFF in Noordwes, Limpopo en Mpumalanga, ontwikkel daar duidelik twee ANC’s – ’n landelike een en een in metrostreke.

Magashule, ANC-bedryfshoof, se teenspraak dat ’n “kollektief” (en nie Ramaphosa nie) die party beheer, is buikspraak met ’n angel in die stert. Hy kom Ramaphosa by, maar wys sy hand. En bevestig die interne magstryd.

Soos in Animal Farm is die ANC in elk geval net ’n kollektief totdat dit by die verdeling van die buit kom.

Oor die OVK: Van ses verkiesings heers vrae oor geloofwaardigheid die ergste oor 2019 s’n. Die argelose skouerophalery waarmee die OVK die verdwyning van sowat 1 200 DA-stemme by die stemlokaal by die Hoërskool Sentraal begroet, is veelseggend.

In die Vrystaat kry die DA ’n pos in die wetgewer by as loon vir sy ontbloting van korrupsie, onder meer met die Vrede-suiwelskandaal. In die Noord-Kaap kry hy twee by – beter as landwyd.

En ’n Oraniër is een van die VF Plus se ses bykomende LP’s. As nuusmens, herinner dit my aan berigte wat ek in Orania oor dr. Wynand Boshoff se pa, prof. Carel Boshoff, gaan skryf het.

En aan die laaste foto wat ek van sy ouma, tannie Betsie Verwoerd (toe 98), in haar huis daar geneem het.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Verkiesing 2019  |  Verkiesingsuitslae  |  Vs  |  Nk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.