Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Name is soms komieklik toepaslik

Mense se name kan soms nogal toepaslik wees, skryf Rhynie Greeff. In hoeveel boerefamilies is daar vanne soos Saayman of Landman? Hoeveel dokter Snymans is daar in Suid-Afrika? Hoeveel bouers is daar genaamd Eksteen of Bouwer?

Kardinaal Jaime Sin by ’n kerkdiens in Manila in 1986. Foto: Getty Images

Vir ’n kwarteeu tot 2003 was die Vatikaan se man in die Filippyne ene kardinaal Sin. Met (verskoon die woordspeling) ’n sin vir humor het hy dikwels besoekers by sy woonplek verwelkom met: “Welcome to the house of Sin.”

As ek hy was, sou ek ook gesê het: “In the name of Sin I fight sin.”

Ja, name is soms buitengewoon.

Op hoërskool het ek, byvoorbeeld, ouens geken met die vanne Bolsenbroek, Seevinck en my goeie skoolvriend, Roelof Fekken, wat later ’n bekende en fekken vinnige tydrenjaer in motorsport geword het.

Soms kan ’n gewone familienaam verkeerd uitgespreek word.

Jammer ek verwys na julle, ouens. Maar onthou, ek is in dieselfde bootjie as julle, want Greeff klink soos ’n nat niesblaf in ’n spreekkamer.

Soms kan ’n gewone familienaam verkeerd uitgespreek word. In my studentejare was ek ’n verkoopsman toe ’n kliënt my sy Pretorium Trust-koopboekie gee. Ek kyk toe na sy naam en vra verbaas: “Is u ’n meneer Death?” Die man antwoord my toe met ’n kil grafstem: “Nee. Dis De Ath!”

Die ou Romeine het meer as een naam gehad, maar die gebruik het ’n De Ath gedoen en uitgesterf. Ons moderne familiename het maar eintlik eers in die Middeleeue ontstaan as plekverwysings, fisieke eienskappe (soos De Korte), patronieme (soos Williamson as seun van William) of beroepsverwysings (soos Bakker).

Dis asof sekere mense bestem is vir wat hulle doen

Tiger Woods kan met sy eenhout ’n bal gemiddeld 260 m ver slaan. Foto: Getty Images

Soos wat beroepe destyds vanne geword het, lyk dit asof familiename nou ook omgekeerd na ooreenstemmende beroepe kan lei. Op grond van die Engels “apt surnames” het die term aptronieme ontstaan (ook as ’n anagram van patronieme).

In gholf is daar byvoorbeeld Gary Player, Hubert Green, wat die Amerikaanse Ope-kampioen in 1977 was, en Chip Beck, wat tweede geëindig het in die Meesters van 1993. En wat van Tiger Woods, wat met sy eenhout ’n bal gemiddeld 260 m ver kan slaan?

Ek dink nie ’n Gary Hackman, Hubert Duff, Hook Beck of Tiger Shankley sou gholfsterre word nie.

Met die familienaam Ball is daar al jare lank rolmodelle in balsporte soos sokker, Amerikaanse voetbal, bofbal en rolbal.

Charlie Chase se naam het my in my jong dae altyd gefassineer. Hy was een van ons bekendste Comrades-atlete met 28 medaljes. As jou naam Charlie Chase of Usain Bolt is, is jou toekoms as spoedvraat op bene uitgestippel.

Dis soos die eertydse tennisster Anna Smashnova, Nathan Leeper, die Amerikaanse hoogspringer, Margaret Court, die tennisspeler, Scott Speed, die resiesjaer, die eertydse pokerkampioen Chris Moneymaker en Frank Duckworth, die mede-ontwikkelaar van die Duckworth-Lewis-Stern-formule in krieket wat waarde aan vorige nul-uitslae gegee het. Geen meer “ducks” vir spanne nie.

Met die familienaam Ball is daar al jare lank rolmodelle in balsporte soos sokker, Amerikaanse voetbal, bofbal en rolbal. Ene John Ball was tussen 1888 en 1912 agt keer die Britse amateurgholfkampioen en het in 1890 die Ope gewen.

Sigmund Freud (wie se van 'vreugde' beteken) het die sielkunde van plesier bestudeer. Foto: Getty Images

Hoeveel lesers is in boerefamilies met die name Saayman of Landman? Hoeveel dokter Snymans is daar in Suid-Afrika? Hoeveel bouers is daar genaamd Eksteen of Bouwer?

My bankbestuurder toe ek my eerste huis gekoop het, was meneer Rich.

Verlede week ontdek ek ’n boek genaamd ESD: The Scourge of Electronics, wat handel oor elektrostatiese ontlading (“electrostatic discharge”). Die skrywer? ’n Sweedse kenner genaamd Sten Hellström.

William Wordsworth het koningin Victoria se hofdigter geword.

Dit lei my toe na Eskom, waar ek uitvind die Wes-Kaapse streekbestuurder van Eskom 40 jare gelede was ’n meneer G.F. Hellström. Ewe interessant, sien ek dáárna dat Herbert Hellström tans Eskom se senior adviseur by Koeberg vir kernkraggehaltebeheer is.

William Wordsworth het koningin Victoria se hofdigter geword. Die neuroloog Lord Russel Brain was ’n president van die Britse Royal College of Physicians. Sigmund Freud (wie se van “vreugde” beteken) het die sielkunde van plesier bestudeer.

Die sielkundige Carl Jung (wie se naam “jonk” beteken) het geskryf oor vyf vorms van hergeboorte.

Determinerende name

As jy grootword met die konnotasie van rusverstoorder en strategies historiese leier is die kanse goed dat jy, soos oudpres. Nelson Mandela, die wêreld ’n beter plek vir almal sal maak. Foto: Getty Images

In 1994 het The New Scientist geskryf oor die idee dat jou naam jou professie bepaal en die term van “nominative determinism” voorgestel, miskien in Afrikaans determinerende naamgewing.

Die tydskrif het verwys na ’n boek oor die poolstreke geskryf deur Daniel Snowman en ’n akademiese artikel oor onwillekeurige urinering in die Britse Joernaal vir Urologie geskryf deur A. J. Splatt en D. Weedon.

Ek het nou rondgekyk en ander interessante medici gevind. Miami het ’n endokrinoloog genaamd dokter Fili. Dokter Touchy is ’n skedeldokter in Los Angeles. Daar is ’n gastro-enteroloog genaamd dokter Butt in Amerika, ’n Nederlandse ginekoloog Ben Dhoekie en dan het ons self ook ’n ginekoloog in Johannesburg genaamd dokter Kramer.

De Wet is ook ’n toepaslike familienaam vir die wet in Suid-Afrika.

Die wêreld is besaai met oogkundiges en oogartse genaamd Seymour. Die inwoners van Toowoomba in Australië word reggesien deur ’n oogarts genaamd Ashley Seawright.

Maar weg van medies moet regters in howe ook dinge reg sien. Kalifornië het ’n regter Otis D. Wright. In Suid-Afrika het ons regter G.C. Wright in Gauteng. ’n Onlangse hoofregter van Engeland en Wallis is gebore as Igor Judge en het sy loopbaan geëindig as hoofregter Lord Judge.

De Wet is ook ’n toepaslike familienaam vir die wet in Suid-Afrika. Wyle regter Quartus de Wet, wat Nelson Mandela met die Rivoniaverhoor gevonnis het, het gevolg in die voetspore van sy pa, Nicolaas, wat voorheen hoofregter was.

Oudpres. Nelson Mandela het egter miskien ook ontwikkel volgens sy name Rolihlahla (“moeilikheidmaker”) en sy ander naam, Nelson, se assosiasie met die strategiese leierskap van admiraal Horatio Nelson. As jy grootword met die konnotasie van rusverstoorder en strategies historiese leier, is die kanse goed dat jy, soos Mandela, die wêreld ’n beter plek vir almal sal maak.

Ontwerp ’n nuwe naam vir ’n nuwe toekoms

Rhynie Greeff

As jy voel jy het nie reeds die regte naam nie, kan jy jouself altyd ’n ander naam gee.

Die familienaam van Stefani Joanne Angelina Germanotta het miskien vir ’n musiekloopbaan kiemerig geklink. Toe verander die meisie haar naam na iets wat self nie só uiters gesond klink nie, maar sy bereik sukses as Lady Gaga.

Francois Henning het vir sý musiekloopbaan sy naam weer teenoorgesteld so effens kiemerig en nieserig na Snotkop verander.

Farrokh Bulsara se naam was ideaal vir ’n ou wat Oosterse tapyte verkoop en daarom het Farrokh homself omvorm in Freddy Mercury.

As ek in hierdie skrywe wintie alwetend geklink het, vra ek om verskoning en belowe ek dat ek nie my naam na Google sal verander nie.

• Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Tiger Woods  |  Sigmund Freud  |  William Wordsworth  |  Rhynie Greeff  |  Vanne  |  Patronieme  |  Name
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.