Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Name wat verander in die onderhandelde republiek

Herbenoemings en ander kulturele prosesse moet só bestuur word dat ons nie terugverval in ’n eindelose kringloop van kulturele hegemonie en oorheersing nie, skryf Frederik R van Dyk.

Die Khoi-gemeenskap in die Oos-Kaap het die nuwe naam vir die Port Elizabeth-lughawe voorgestel.

Die grappies begin invloei kort nadat Nathi Mthethwa die naamsverandering van Port Elizabeth, King William’s Town, Uitenhage en Maclear aankondig.

The Kiffness se “The Click Song”-geïnspireerde nommertjie probeer die uitspraak van die Xhosa-klanke in Gqeberha (PE), Qonce (King William’s) en Nqanqarhu (Maclear) vir die witter tonge vergemaklik.

’n Bruin kollega deel laggend ’n gesirkuleerde weergawe van Gqeberha soos dit in ’n Afrikaapse volksetimologie uitgespreek word: “Gee-bier-ha’”.

Suid-Afrikaners is tegelyktydig sensitief, kwaad, en koddig aan die lag vir mekaar se vreemdhede en stereotipes. Hopelik is ons geduldig en leer ons mekaar op voetsoolvlak en buite die elite-politiek ken. Eerder dít as dat ons vasklou aan die denkfout dat 1994 in ’n oogwink ’n magiese nuwe gemeenskap gebou het.

Nietemin, die meme waarvoor ek veral wrang aan die giggel gegaan het, was ’n skermskoot uit die satiriese Western-reeks The ballad of Buster Scruggs. James Franco se karakter, ’n veroordeelde veedief, staan op die galg om gehang te word en loer na die veroordeelde langs hom. Iemand het langs Franco se kop die woorde “Afrikaans placenames: ‘First time?’ ” ingevul, opgevolg deur ’n skermskoot van Franco se medeveroordeelde, wat hom oorbluf aanstaar met die beskrywing PE, King William’s en Maclear oor sy bors ingevul.

Die gemaklike wyse waarop die minister die Oos-Kaapse naamsveranderings kon aankondig, dui daarop dat die Afrikaanse gemeenskap nie juis omgee oor die herbenoeming van ou sentrums van plaaslike Anglo-kultuur nie.

Ek het gelag hoe die galgehumor met Engelse plekname in Suid-Afrika spot, wat blykbaar nie so geredelik soos Afrikaanse plekke herbenoem word nie, waarskynlik omdat daar minder daarvan is. Dit het my ook laat besef dat die gemaklike wyse waarop die minister die Oos-Kaapse naamsveranderings kon aankondig, daarop dui dat die Afrikaanse gemeenskap nie juis omgee oor die herbenoeming van ou sentrums van plaaslike Anglo-kultuur nie.

Dalk praat ek te gou, maar vergelyk hierdie stilte met die opstand en rumoer rondom Pretoria en Nelspruit se herbenoeming.

Verwant hieraan, het daar relatief min teenstand uit Anglo-kringe na vore gekom. ’n Entiteit met meer as ’n deeglike skeut Britse liberalisme in haar politieke herkoms, die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR), het by monde van Hermann Pretorius in debat getree met DAK Netwerk-voorsitter, Danie van Wyk, oor die naamsveranderinge op RSG Praatsaam (26 Februarie 2021).

Pretorius het vinnig ’n metodologie voorgestel waarvolgens naamsveranderinge uit die gemeenskappe rondom die benoemde omgewing moet kom, of dat kombinasie-name gebruik moet word om sodoende aan alle belanghebbers erkenning te gee.

Van Wyk het weer redeneer dat infrastruktuur soos Jan Smuts-rylaan in Kaapstad, deur bruin buurte loop en dat hierdie bewoners graag figure uit hul verlede, soos die bruin struggle-held Franklin Sonn, se naam daar wil sien.

Almal soek ’n plekkie in die son

Die standbeeld van pres. Paul Kruger in Pretoria loop gereeld onder vandale deur. Foto: Deaan Vivier

Terwyl ek luister het ek gedink aan hoeveel raakpunte daar werklik tussen die twee benaderings is: Albei wil graag hê dat openbare gedenkwaardighede en plekname aan méér kultuur-historiese figure en groepe ’n teenwoordigheid gee. Almal soek graag ’n plekkie in die openbare son.

Daar is al op hierdie blaaie voorgestel dat Suid-Afrika ’n kultuurverdrag skort. Ander het al aangevoer dat fisieke openbare gedenkwaardighede nie verwyder moet word nie, maar heroriënteer en met teenstrydige gedenktekens gekontekstualiseer word.

Ek het al hier geargumenteer dat dit simplisties sal wees om die geskiedenis van hierdie wêrelddeel in ’n goeie en slegte kamp te verdeel. Die staatsvorming in die 1990’s was ’n radikale lyn in die sand ná ’n woeste verlede, gevul met veelparty-konflikte tussen verskuiwende groepsidentiteite, koninkryke, republieke en kolonies.

In ’n land wat grondwetlik ’n eenheidstaat is moet ons ander plan sien oor openbare gedenkwaardighede.

Die grondwetlike bedeling wat in die 1990’s begin het, was veel groter as samewerking tussen die ANC- en NP-magsblokke, dit was ’n samevatting van talle groepe se versugtinge om in een grondwetlike demokrasie aan almal leefruimte te bied.

Die Grondwet vereis nie-oorheersing van een groep oor ’n ander, ’n versugting wat gestalte vind in oudpres. Nelson Mandela se woorde tydens die Rivonia-verhoor: Hy het gestry teen wit oorheersing, en hy het gestry teen swart oorheersing.

In aansluiting hierby het ek ook al op Litnet se blaaie gewaarsku teen ’n begrip van nasiebou waar die heersers van die dag se kulturele voorkeure deurskemer en die botoon voer. Ons grondwetlike raamwerk breek juis weg van ’n hegemoniese identiteit, soos ou Suid-Afrika wit baasskap of Swart Eerste Suid-Afrikaanswees.

In ’n land wat grondwetlik ’n eenheidstaat is, dus sonder etniese of streeksgebaseerde outonome deelstate, moet ons ander plan sien oor openbare gedenkwaardighede.

Kulturele verdrag met wigte en teenwigte

Frederik R van Dyk

Diverse mense leef in dieselfde dorpe en stede, selfs al bestaan die uitleg van die ou Groepsgebiedewet steeds. Ons deel die openbare omgewing. Daarom is dit vir almal bemagtigend as maatskaplike gegewens, soos plekname en monumente, ’n toonbeeld is van die hele gemeenskap se insette en onderlinge kulturele behoeftes.

Die feit is dat wit groepe in Suid-Afrika die leeueaandeel plekname geniet. Rondom daardie plekname is geskrewe geskiedenisse en gemeenskapstories opgebou, wat darem nie verlore gaan as ’n plek ’n nuwe naam kry nie.

Ons kan nie swart en bruin gemeenskappe ignoreer wat sommige wit Afrikaanse en Angel-Saksiese plekname met eiegoed wil vervang nie. Dit sal selfsugtig wees. As almal die vooruitsig van betekenisvolle gedenkwaardighede het, sal ons graag saam met mekaar bly wees oor alles van Piet Retief tot Makhado en Kariega.

Dit help egter nie as ’n pleknaam met simplistiese politieke heethoofdigheid weggegooi word, so asof dit vir niemand niks beteken het of slegs ’n onreg was nie.

Ons moet nie terugverval in ’n eindelose kringloop van kulturele hegemonie en oorheersing nie.

As sentralisme, politieke absolutisme en ’n ANC-gedrewe geloof in swart-geleide Suid-Afrikaanswees die proses lei, sal daar nie maatskaplike geregtigheid wees wat plekname en gedenkwaardighede betref nie.

Die mening dat daar ’n kruipende verwerping van alles is wat nie binne die ANC se wêreldbeskouing pas nie, sal dan toenemende, selfs polariserende vastrapplek kry.

Ons benodig billike beleide om gemeenskapsbesluitneming te lei, sodat herbenoemings en ander kulturele prosesse só bestuur word dat ons nie terugverval in ’n eindelose kringloop van kulturele hegemonie en oorheersing nie. Sonder dat behoorlike wigte en teenwigte in so ’n kulturele verdrag bestaan, sal groepe wat voel hul word nie geken nie, bloot na hul private en aparte inisiatiewe onttrek en die koue oorlog oor kultuur-historiese erkenning in Suid-Afrika sal onopgelos bly.

• Van Dyk is ’n LLM-kandidaat en direksielid van StudentePlein NWO, ’n organisasie wat Afrikaanse akademiese ondersteuning aan Matie-studente bied. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.