Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Namibië, waar niks mooier is as net niks nie
Wilhelm Jordaan

Dit is menslik om by die aanskouing van ontsagwekkende skoonheid spontaan trane te stort. Die mooiheid oorweldig jou en jy begin huil . . .

Op ’n onlangse eerste besoek aan die suide van Namibië was dit juis so toe ek van ’n uitkykpunt die Visrivierskeurvallei onder my sien oopvou – 350 miljoen jaar oud, 160 km lank, 27 km breed en 500 m diep. Saam daarmee kom die bewustheid van oerkragte wat dit gevorm het. En dat jy en jou reisgenoot klein en ademloos staan in die verrukking van ruimte, tyd en stilte so eie aan Namibië se uitgestrekte landskappe van nietigheid en ewigheid.

Dit herinner aan wat Erika von Wietersheim skryf in Hentie Burger se aangrypende fotoboek Namibia Unique: “Met niks wat jou begrens nie, met die ruimte wyd om jou en die hemel oop bo jou, moet jy mos vra: Wie is ek en wat is my plek daarin?”

Daaruit kom die bewussyn van ’n spirituele landskap waarin die altyd veranderende lig met die wisselende pastelkleure van blou-blou berge en romerige woestynsand, veldgeure, klippe, bossies, blommetjies, goggas, beeste, wildeperde, wildsbokke, die helder sterrebeelde bo jou en jou eie voetstappe op ’n gruispaadjie in die nag in harmonie saamgevoeg word.

Opeens neem verbeelding van jou besit. Van die berge lyk kompleet soos versteende oerdiere. Kyk, daar is ’n Arctodus simus met sy pote stewig geanker in die aarde en sy skubagtige rug en stert wat stil gekronkel lê. En daar staan ’n Tyrannosaurus rex regop, waaksaam gereed vir aksie. Sê nou dié goed kry lewe!

Namibië is ’n klipparadys. Waar ons gereis het, lê dermiljoene klippe en gesteentes roerloos gekoester in die son, in skaduwees en in die skemer.

Nog betower deur dié landskap wil-wil jy glo legende bied sinvoller verklarings as evolusie en wetenskap. Geologies is die Visrivierskeurvallei deur magtige aardkorsbewegings en -insinkings gevorm, maar ’n Nama-legende reken dit was anders. ’n Reusagtige slang het gemaai onder die mense, vee en wild in dié kontrei. Met fakkels, pyle en spiese het die Nama-stryders die slang aangeval en in sy doodskronkelinge het die magtige, swiepende slang diep groewe in die aarde geslaan. En siedaar, daar lê die slangvallei 160 km lank!

Namibië is ’n klipparadys. Waar ons gereis het, lê dermiljoene klippe en gesteentes roerloos gekoester in die son, in skaduwees en in die skemer. En plek-plek verrys hulle soos enorme kunswerke uit die barre grond; getuienis van die diep verweefdheid van mens en aarde. Maar die mens het met woeste lewensvaart die geheime van klip langs die pad verloor; soos ’n klip uit die pad geskop. Want ons sê dom dinge soos: Dom soos ’n klip.

Dít terwyl klip en mens van oudsher intiem bestaan in ’n lang geskiedenis; dat hoe ons geword het wat ons is, uit die fyn didaktiek van klippe, gesteentes en beendere na vore kom. Digters begryp dit. Soos Wilma Stockenström wat in “Die klip” skryf: “My klip, my klip, sê my in jou stomheid wat jy bewaar.” Sy sê klippe word goed versorg daar waar hulle “wawyd wakker en weerloos” lê: “die bloukopkoggelmander / waak oor jou! Die bossies verwarm jou! / Die sand skuif ’n laken oor jou! / Die slak versier jou met silwer kettings /en die spinnekop verpleeg jou! / Ek sal weer kom.

Ons sal weer kom, ja. Soos my reisgenoot sê: “Niks is so mooi as die niks hier nie.”

  • Jordaan is ’n emeritus-professor in sielkunde.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Namibië  |  Klippe  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.