Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Namibiërs is deel van Afrikaanse gemeenskap
Gerhard van Huyssteen

Die afgelope week het die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die tweede keer in sy bestaan in Windhoek, Namibië, vergader. Die eerste keer was in Maart 2013.

Waarom wéér in Namibië vergader? Namibië het die tweede grootste populasie moedertaalsprekers van Afrikaans in die wêreld (naastenby 200 000). (Australië is die land met die derde grootste populasie met so ongeveer 35 000 Afrikaansmoedertaalsprekers.)

Daarom dien daar ook Namibiërs by wyle in die TK, soos Herman Beyer (tot en met 2017) en Leona Compion (vanaf 2018; flussies meer oor haar).

Soos die vorige keer, het ons die afgelope week ook die nuwe Afrikaanse woordelys en spel­reëls (AWS) in die Namibiese media en op ’n onderwyserskongres bekend gestel.

Hier volg ’n paar nuusbrokkies oor die afgelope sitting:

  • Vir die eerste keer in die geskiedenis dien daar meer vroue as mans in die TK. Ook vir die eerste keer is daar meer vroue as mans in die dagbestuur: Suléne Pilon (Universiteit van Pretoria) is die ondervoorsitter (ook die eerste keer wat ’n vrou dié amp beklee) en Jana Luther (Virtuele Instituut vir Afrikaans) die sekretaris. (Die uwe is herkies as voorsitter.)
  • Twee nuwe lede het vir die eerste keer ’n TK-sitting bygewoon. Leona Compion is ’n Namibiër in murg en been en staan al meer as 40 jaar haar plek vol in die onderwyswêreld: as onderwyser, opleier van Afrikaans-onderwysers en kurrikulumontwikkelaar (byna 20 jaar).
  • Gerda Engelbrecht is ’n besturende redakteur van Media24 in Kaapstad, maar gee ook deeltyds klas in Afrikaanse redigering aan die Universiteit Stellenbosch se departement joernalistiek. Sy is ’n leesverslaafde met ’n PhD in letterkunde, asook ’n blokraaibetottelde wat blokraaie vir tien tydskrifte in die Media24-stal opstel.
  • Die Akademie het meer as 250 eksemplare van die 2017-AWS aan Afrikaans-onderwysers geskenk. Met dié gebaar word nie net aan Namibiërs gewys dat hulle ook as ’n kerndeel van die Afrikaanse gemeenskap geag word nie, maar dit dien ook om Afrikaans-onderwysers te bemagtig om op hoogte van die jongste verwikkelinge in Afrikaans te bly.
  • Daar is met groot erns en toewyding begin werk aan ’n volgende uitgawe van die AWS. Soos dit nou maar die gebruik is in Afrikaanse organisasies, is daar kleiner komitees uit die subkommissies van die hoofkommissie benoem om reeds op die volgende sitting met konkrete voorstelle vir ’n vernieude AWS te kom.
  • Van die lekkerste werk van die TK is om ure en ure en ure te bestee aan gesprekke en navorsing oor nuwe en ou woorde in Afrikaans. So byvoorbeeld het die woord “gebenedyde” byna-byna gesneuwel, maar is tog ter elfder ure in teetyd gered deur ’n gekoukus en -stemwerwery deur Frikkie Lombard.
  • Gelukkig is ook bykans 100 nuwe woorde voorlopig opgeneem, waarvan “gefotobom” die meeste gesprek ontlok het.
  • Ek het vir die eerste keer in my lewe geleer dat “alteveel” en “altevol” sinonieme is wat “baie” beteken. Jy kan byvoorbeeld sê: “Hy was altevol/alteveel lief vir sy hond.”

Dit moet natuurlik nie verwar word nie met “alte vol” (Hy is alte vol van homself) en “al te vol” (Die emmer is al te vol om te dra). #sug

Meer oor:  Menings  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.