Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Napoleon: vader van Europa

Napoleon het vandeesweek twee eeue gelede gesterf. Eben Meiring kyk na die lewe van dié “Europeër in murg  in been”.

’n Standbeeld van Napoleon in Laffrey, Frankryk. Sy militêre strategieë word vandag nog bestudeer. Foto: ISTOCK

Dit was die einde van ’n era, ’n geskiedenis en ’n wêreld toe Napoleon Bo­naparte twee eeue gelede, op 5 Mei, op St. Helena, ’n verre eilandjie in die suidelike Atlantiese Osean, gesterf het.

Dit het alles 51 jaar vroeër begin, op 15 Augustus 1769, toe ’n seuntjie met die naam Buonaparte op die eiland Korsika gebore is ’n jaar nadat dit Franse besit geword het.

Ironies genoeg moes die toekomstige keiser van Frankryk Frans as vreemde taal aanleer, want sy eerste twee tale was Korsikaans en Italiaans. Hy het sy lewe lank Frans met ’n aksent gepraat.

Napoleon het nie die vroeë gebeure van die Revolusie meegemaak nie. Hy was toe op Korsika met verlof. Hy het nietemin vinnig militêr gevorder. Hy was vir ’n ruk deurmekaar met Augustin Robespierre en sy Jakobyne, ’n radikale faksie van die Revolusie. Augustin was die broer van Maximilien Robespierre, die dryfkrag agter die Skrikbewind van 1793- ’94 teen die sogenaamde vyande van die Revolusie. Vir sy bande met die broers, wat altwee ’n guillotine-dood gesterf het, was hy ’n ruk onder huisarres.

In 1795 het hy opdrag gekry om ’n rojalistiese opstand te onderdruk. Die een in Parys het hy blykbaar met ’n enkele kanonskoot beëindig. By die een in die Vendée-streek, waarin sowat 300 000 opstandelinge gesterf het, was hy nie betrokke nie. Hy het swak gesondheid voorgehou.

In 1796 was hy bevelvoerder van die Franse leer in Italië en wanneer hy nie vuurwarm liefdesbriewe aan Josephine (sy nuwe bruid, ’n weduwee ses jaar ouer as hy) geskryf het nie, het hy die Oostenrykse vyand uit Italië verdryf. In die slag van die Arcole-brug het hy dapper voor sy manne oor die brug gestorm – as voorbeeld, sodat hulle hom kan volg.

Dis ’n mite dat Napoleon ’n kort mannetjie was. Sy vyf voet ses maak hom langer as moderne politici soos Nicolas Sarkozy.Foto: ISTOCK

Meester van propaganda

Pleks van Engeland binneval – ’n keuse wat die regerende direktoraat hom gebied het – het Napo­leon verkies om in Egipte te gaan veg en die Engelse se handelsbande met Indië te ontwrig. Hy het gereken sy leër was in 1798 nog nie gereed vir ’n aanslag op die Engelse se koninklike vloot nie. Hy was reg, want in die slag van die Nyl is sy vloot erg deur die Engelse vyand verniel.

In veral sy eerste twee groot veldtogte, dié in Italië en Egipte, het Napoleon die propaganda-waarde benut. Hy het die kuns van selfbevordering geken en beoefen. Hy het gesorg dat ’n veldtog, met die regte konteks en sy rol daarin, in die openbare oog bly. Van die artikels in sy leër in Italië se lyfblad het hy blykbaar self geskryf. Prentjies van palmbome en piramides het vir agtergrond gesorg. Eeue voor Mohammed Ali het hy gespog: “Ek vlieg soos weerlig en ek tref soos donder.”

Terloops, Napoleon se berugte kort postuur was waarskynlik ’n mite. Met sy geraamde lengte van vyf voet ses was hy langer as politici soos Nicolas Sarkozy, Dmitri Medwedef en Silvio Berlusconi.

“Die Revolusie is verby. Ék is die Revolusie.” Napoleon was nie net ’n dapper soldaat nie, maar het ook die waarde van propaganda besef.Foto: ISTOCK

Kuns en kultuur

Toe Napoleon besef hoe vloeibaar en onseker die Franse politiek is, het hy sy leër in Egipte gelos en teruggekeer Frankryk toe. In ’n staatsgreep in November 1799 het hy en twee makkers die mag gegryp en ’n bewind van drie konsuls gestig, met Napoleon as eerste konsul.

Nadat hy ’n ruk as eerste konsul regeer het, het hy homself en Josephine as keiser en keiserin in Parys se Notre-Dame-katedraal gekroon. Dit was 1804. Napoleon was 34.

Intussen het die Vrede van Amiens met Engeland gekom (1802) en gegaan, en Frankryk se groot kolonie in Noord-Amerika, Louisiana, is ’n jaar later vir $15 miljoen aan die jong nasie verkoop. Napoleon het geld gekort vir onder meer sy oorloë. Dié transaksie sou verreikende gevolge hê.

In 1805 illustreer Napoleon sy veerkragtigheid. Eers verloor hy byna sy hele vloot in die slag van Trafalgar teen adm. Horatio Nelson se Engelse, maar later die jaar behaal hy een van sy roemrykste seges oor die Oostenrykse vyand by Austerlitz, vandag een van Frankryk se grootste treinstasies.

In 1809 verjaag Napoleon (tydelik) die Britse mag uit die Iberiese Skiereiland waar hulle die Portugese en Spanjaarde teen Napoleon moes help. Die res van dié veldtog verloop minder voorspoedig vir die Franse omdat Napoleon nie self sy leër aangevoer het nie. Daar sou weer eens onvoorsiene gevolge wees.

Dit is bekend dat Napoleon meer oorwinnings behaal het as drie van sy beroemde voorgangers, Alexander die Grote, Hannibal en Julius Caesar. Van 1807 tot 1812 het Napoleon oor ’n groter stuk van Europa geheers as enige ander heerser sedert die Romeinse tye.

Daarby wou hy bekend staan as ’n man van kuns en kultuur. Hy het die ou paleis die Louvre verhef tot een van die wêreld se grootste kunsmuseums. Hy het die Mona Lisa in sy slaapkamer gehang. Hy het ’n roman geskryf. Van die 150 wetenskaplikes op sy Egiptiese ekspedisie het die Rosetta-steen ontdek, die sleutel wat duisende jare se hiërogliewe ontsluit het.

Maar in 1812 begaan hy ’n fatale flater. Om tsaar Alexander te straf omdat hy hom onttrek het aan sy handelsblokkade teen Engeland, val hy Rusland binne. Alexander veg met slim taktiek terug. In plaas daarvan om die Franse in ’n beslissende veldslag aan te vat, bly die Russe terugval en lok die vyand al hoe dieper die binneland in.

Napoleon bly opruk na Moskou, wat hy verlate en grootliks afgebrand vind. Dis ’n deel van die Russe se beleid van verskroeide aarde om die Franse alle voorrade te ontsê. Boonop is hulle totaal onvoorbereid op die komende winter. Napoleon wag vergeefs in Moskou op ’n oorgawe wat nie kom nie.

Op hul rampspoedige terugtog word die Franse genadeloos geteister deur Russiese vegters. Van die kolossale “Grande Armée” van sowat 600 000 man wat Rusland binnegeval het, het skaars 40 000 lewend uit dié “wit hel” gestap. Dit het Napoleon sy keiserryk gekos. Ook 140 jaar later sou Hitler hom in die onverbiddelike Generaal Winter vasloop.

Napoleon se graf in die Hôtel des Invalides op die oewers van die Seine Foto: ISTOCK

Banneling

Ná sy rampspoedige Russiese avontuur word Napoleon in 1813 in die Slag van die Volke by Leipzig verslaan. Hy abdikeer en word na Elba verban.

In 1815 ontsnap hy en begin die Honderddaagse Oorlog in die aanloop tot sy afspraak met Waterloo. Sy neerlaag daar op 18 Junie 1815 teen Wellington se Britte met die hulp van Gebhard Leberecht von Blücher en sy Pruisiese magte het ’n einde gemaak aan sy kort triomfantlike jaagtog oor Europa.

Napoleon word St. Helena toe verban. Maar sy geniale taktiek – ’n kombinasie van omsingeling, spoed, verrassing en mobiele artillerie “om te verdeel en te verower” – word vandag steeds in militêre akademies bestudeer.

Tussen sy veldtogte deur het Napoleon die orde in revolusionêre Frankryk herstel met veral ’n bondige, duidelike vernuwende dokument wat vandag nog in gebruik is – sy beroemde wetboek, die Code Napoleon. Sy offensief van bevrydende idees het klaargespeel met ’n uitgediende feodale orde en lang tradisies van ongelykheid, bevoorregting en vooroordeel, ook buite die grense van Frankryk.

Hy het marteling en anti-Joodse diskriminasie verdoem en afgeskaf. Hy het die metrieke stelsel ingevoer, braille help ontwikkel en Europa geleer om aan die regterkant van die pad te ry (terwyl die Britte steeds links hou).

Napoleon was ’n Europeër in murg en been. Sy leër het uit manskappe van oor Europa heen bestaan, manne met ’n persoonlike lojaliteit aan die keiser. In ’n ideologiese sin het hy nasionalisme aangewakker. Met sy sin vir gesentraliseerde instellings het Napoleon die kontinent onder nuwe administrasie geplaas.

Maar terselfdertyd het ’n teenreaksie posgevat – ’n vrees vir revolusie, wat sou uitloop op totalitêre tendense.

‘Om elke dag te sterf’

Eben Meiring

Napoleon het homself selfs buite die grense van Europa laat geld. Dis te betwyfel of die jong VSA vandag se formidabele swaargewig-moondheid sou geword het sonder die aankoop van Louisiana. En die Franse inval in Spanje het dié regime so verswak dat sy kolonies in Suid-Amerika hulle begin regmaak het vir onafhanklikwording.

Napoleon moes vroeg al besef het dié genadelose eiland is sy graf. Elba was ’n mini-keiserryk. St. Helena was ’n tronk, gepatrolleer deur 2 000 soldate en twee skepe, 24 uur per dag.

Om verslaan en roemloos te sterf is om elke dag te sterf, som Napoleon sy emosies op.

Napoleon is teen sy wens op die eiland begrawe. Eers in 1840 is sy oorskot terug Parys toe en later in die Hôtel des Invalides aan die oewers van die Seine gehuisves. Dié praalkis, met die name van sy groot oorwinnings rondom, is een van Parys se voorste toeriste-attraksies. Hitler was ’n geesdriftige besoeker in 1940.

Daar is al gesê Napoleon het te veel geskiedenis te vinnig laat gebeur. Sy lewe was die triomf van ’n enkeling wat ’n wêreld van reaksionêre magte uitgedaag het deur die Revolusie sy eie te maak.

“Die Revolusie is verby. Ék is die Revolusie,” het hy arrogant gespog. Dit het hom die vader van Europa gemaak.

  • Meiring is ’n afgetrede lektor in Frans aan die Universiteit Stellenbosch.
Ná Josephine

Napoleon het geen opvolgers gehad nie. Ná Waterloo het Lodewyk XVIII sy troon teruggekry.

Toe Josephine hom nie ’n erfgenaam kon gee nie, het hy van haar geskei en in 1810 is hy met Marie-Louise, ’n 18-jarige Oostenrykse prinses, getroud. Hul seun, Napoleon II, bekend as die “koning van Rome”, het nooit regeer nie.

Napoleon se neef, Napo­leon III, het van 1851 tot 1871 oor ’n tweede keiserryk regeer.

Sy huwelike het Napoleon natuurlik nie weggehou van ’n hele bondel buite-egtelike avonture nie waaronder dié met die Poolse adellike Maria Walewska.


Meer oor:  Napoleon  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.