Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Narre te midde van ’n pandemie

Die inperkingstyd het nuwe uitdagings aan predikante gestel. Soms, skryf Cas Wepener, is die dominee maar net die nar in dié sirkus van die lewe.

Die afgelope naweek lees ek Elizabeth Strout se roman Abide with Me, die verhaal van Tyler Caskey, ’n dominee van ’n Gereformeerde gemeente in ’n klein dorp in die staat Maine in Amerika.

In ’n stadium is Tyler radeloos en besoek hy sy eertydse dosent in homiletiek (preekmaakkunde), prof. George Atwood. Hy bekla sy lot: It’s a very hard job, George. Good Lord, it is a hard job.

Waarop sy professor droogweg antwoord: “Why do you think I teach?

’n Regter het eenkeer vir my gesê hy dink regte en teologie is werklik nie die moeilikste kursusse wat jy op universiteit kan loop nie, maar om ’n goeie prokureur of dominee te wees, dit is inderdaad van die moeilikste loopbane wat ’n mens kan kies om te volg.

Hoekom?

Die antwoord lê opgesluit in die vreemde woord hermeneutiek – die kuns van verstaan, interpreteer en verduidelik.

Dis maklik om ’n mening te hê.

Dis glad nie so maklik om ’n ingeligte, oorwoë mening te hê wat op ’n deurdagte wyse die beskikbare bronne geraadpleeg het, waarvolgens sinvolle besluite geneem kan word en wat lewens op ’n positiewe wyse beïnvloed nie.

En boonop moet dominees hul interpretasies nie net máák nie, hulle moet dit ook beliggaam en lééf – ’n preek sypel deur die lyf van ’n prediker voordat dit by ’n hoorder uitkom.

Daar is min beroepe wat dit van jou vra.

En die laaste maande word dominees gedruk vir hul mening en moet hulle, al was die kerkdeure dig gegrendel, aanhou preek.

Maar hoekom, Dominee?

Dikwels is die vraagstellers se eie mening ook reeds opgesluit in die vraag.

Illustrasies: istock

Hoekom hou julle aanlyn eredienste, terwyl mense eerder kospakkies moet kry? Hoekom gee julle kospakkies, terwyl God eerder in ’n aanlyn erediens geprys moet word?

Hoekom het julle geswig voor wêreldse owerhede en die kerkdeure gesluit? Hoekom swig julle voor wêreldse owerhede en sluit die kerkdeure weer oop?

En dan is ons nog nie eens by die vrae oor waar God in verband met die virus staan nie.

Daar is baie moontlike antwoorde op hierdie vrae en opsies oor hoe om daarop te reageer. Een ding is duidelik, met enige opinie vaar hulle tussen Skilla en Charybdis. Aan die een kant is swye nie nou ’n opsie nie en aan die ander kant is klinkklare, swart- en-wit antwoorde ’n slegter opsie.

Soms laat die dominee se situasie ’n mens aan die arme hansworse in Boswell en Wilkie se tent dink, totaal potsierlik en besig met ’n balanseertoertjie.

Daardie narre is nie deel van die hoofprogram, soos die leeus of die sweefstokartieste nie, maar hul rol om die hele petalje van ’n sirkus (die lewe!) se program so plus-minus te balanseer, moet ook nie geringgeskat word nie.

Predikante is al dikwels met die beeld van die nar vergelyk.

Anna M. Louw is byvoorbeeld bekend daarvoor en doen dit met haar karakter Chris Predikant, ’n tokkelok in Kroniek van Perdepoort, maar ook die karakter Wynand in Op die rug van die tier met sy belangstelling in godsdienstige sake en soeke na lewensin.

Soms word die narbeeld selfs in ’n karakter se fisieke voorkoms ingebou, soos Chris, wat Louw as ietwat komieklik en onbeholpe uitbeeld.

Pastoraal of profeties?

Dis gepas; dominees is inderdaad vreemde verskynsels, randfigure by uitstek, die persoon by wie broosheid en swakheid en dwaasheid (in die oë van die wêreld) vervloei, die een in wie se lewe lag en huil vermeng en wat die geringheid van die mens demonstreer.

Koddig, lagwekkend – en ongetwyfeld nie ’n beroep wat iemand uit vrye keuse volg nie.

In ons eie omstandighede dink ek ons dominees is by uitstek (hof)narre, hulle is geroep om hansworse te wees en hul opdrag is vergelykbaar met die taak van spotprentkunstenaars soos Niël van Vuuren, Fred Mouton en Zapiro.

Tradisioneel is die hofnar die een wat die magte van die wêreld koggel en ontbloot. Dominees moet dit ook kan doen, maar hulle kan ongelukkig nie daar stop nie, die taak is tans veel groter en vra ook meer.

Ons homiletiek-dosent se felste kritiek op ons preekpogings op universiteit was saamgevat in twee woordjies, in rooi: “So what?”

Dit sou soveel makliker gewees het indien die dominees tydens hierdie pandemie gewoon net in ’n pastorale toonaard kon sê: “God is liefde; genade in oorvloed; ’n lewe van dankbaarheid.”

Of in ’n profetiese modus die magte van die dag kon koggel: “Mag korrupteer! Laat geregtigheid aanrol soos waterstrome.”

Dit is alles mooi, maar so what?

En dis presies wat die joppie so moeilik maak in dié dae. ’n Opinie is een ding, ’n ingeligte een wat ’n tree verder gaan, goeie hermeneutiek bedryf en ’n So what? sinvol beantwoord, wel, dis moeilik.

Ons benodig pastorale profete en profetiese pastore wat huiwerig, maar tog bereid is, om narre te wees – potsierlik, in die krake, dapper.

Ook maar mens

Miskien is regte en teologie nie die moeilikste kursusse nie, maar dis om goeie rede van die langste kursusse, want reg in die middel van daardie kuns van verstaan, van sin maak en uitlê, staan ’n mens. Dis ook hoekom hulle soms droogmaak.

Of mense dit nou wil weet of nie – tydens ’n pandemie is almal, soos dominees en regslui, interpreteerders.

Om te sif tussen bronne, te oorweeg, te heroorweeg, ’n oordeel te vorm en te sorg dat die uitspraak deur jou hele wese gaan, voordat jy die kanseltrappe van jou Twitter- of Facebookrekening aandurf.

Meer oor:  Predikante  |  Dominees  |  Inperkingstyd  |  Nuwe Uitdagings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.