Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nasionalisme se goed en se sleg
Leopold Scholtz Foto: Foto24

Is nasionalisme ’n goeie of ’n slegte ding? Dié vraag is nie so dom as wat dit dalk mag klink nie, want die antwoord is soos ’n ui – onder elke laag wat jy afkrap, is weer ’n volgende laag, en dit ad infinitum.

Enersyds is nasionalisme nie slegs góéd nie, natúúrlik nie. As dit nie vir Afrikanernasionalisme was nie, sou hierdie rubriek in Engels geskryf gewees het; dit was dié nasionalisme van ’n eeu gelede wat die Afrikanervolk van kulturele uitwissing gered het.

Maar alles in die lewe het, soos munte, twee kante. Dit was dieselfde nasionalisme wat op grond van die vrees vir kulturele uitwissing ánder – mense van kleur – verdruk het.

Op ’n eiesoortige manier sien jy iets min of meer soortgelyks op talle plekke in die wêreld gebeur. Waar ’n meerderheid – reg of verkeerd, dis irrelevant – die idee kry dat ’n minderheid sy regte en voorregte kan aantas, word sy nasionalisme aggressief en onverdraagsaam.

Dan begin hy daardie minderheid aktief verdruk. (Die Afrikaners was weliswaar nie getallegewys ’n meerderheid nie, maar wel die maghebbers.)

Jy sien dit byvoorbeeld in China, waar die meerderheid, die Han, 91% van die bevolking uitmaak. Onder die minderhede is die Uighur (9 miljoen sterk of 0,78% van die totale bevolking) dalk die bekendste.

Die Uighurs woon hoofsaaklik in die mees westerse provinsie, Xinjiang, waar tot ’n miljoen mense in konsentrasiekampe aangehou word omdat hulle groter selfbeskikking eis. Dit komende van ’n diktatuur wat nasionalisme – om China weer groot te maak – as sy bestaansrede aangegryp het.

Die Uighurs woon hoofsaaklik in die mees westerse provinsie, Xinjiang, waar tot ’n miljoen mense in konsentrasiekampe aangehou word omdat hulle groter selfbeskikking eis.

Daar is ander minderheidsvolke wat oor verskeie state se grensgebiede verspreid woon. Byvoorbeeld die Koerde, wat in die grensgebiede tussen Turkye, Irak, Iran en Sirië woon, maar wat oral vervolg word. Verdere voorbeelde van minderhede wat dreig om onder die nasionalisme van meerderhede te beswyk, is die Sjiïete van die Golfstaatjie Bahrein en die Moslems wat in die Indies-beheerde deel van Kasjmir woon.

Soos die Britse veteraan-ontleder Patrick Cockburn in The Independent skryf: “Die nasionalistiese opmars in die wêreld is slegte nuus vir etniese en sektariese minderhede. Oral word hulle deur groter verdrukking en minder outonomie van nasionale regerings, wat hul mag vergroot, in die gesig gestaar.”

Cockburn meen nasionalistiese meerderheidsregerings onderskat die skade wat verdrukte minderhede aan hul gesag kan doen: “Kyk na die moeilikheid wat die Iere en Boere ’n eeu gelede die Britse Ryk op die toppunt van sy mag berokken het. Toe, soos nou, verlei die geringe omvang van klein gemeenskappe se opposisie skynbaar almagtige regimes om versoening te verwerp in die geloof dat hulle nie kompromis nodig het nie. Hulle verstaan nie waarom hul oorweldigende politieke en militêre mag nie beteken dat hulle die maklike wenners is nie.”

Dié waarheid geld ook vir die huidige Suid-Afrika. Die regering word gevorm deur ’n swart nasionalistiese party wat meen hy is só magtig dat hy hom niks van minderhede soos wit mense, Afrikaners en bruin mense hoef aan te trek nie. Natuurlik is nie álmal in die ANC só nie. Maar die Nkosazana Dlamini-Zumas en die Panyaza Lesufi’s is deesdae meer tipies van die party as dié wat egte veelrassigheid aanhang.

Dalk die tragiesste is dat invloedryke Afrikaners – byvoorbeeld diegene in beheer van die Universiteit Stellenbosch – aktief aan die verdrukking van hul eie taal meewerk. (Nee, dit beteken nie ek hunker terug na apartheid nie!)

Nasionalisme kán ’n goeie, edel ding wees. Maar alte maklik word hy die “swart engel” waarteen N.P. van Wyk Louw ons gewaarsku het.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  China  |  Chinese  |  Mening  |  Nasionalisme  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.