Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Naspers se jong joernaliste en die WVK

Soms, as jy gelukkig is, kom daar ’n oomblik wanneer die ideologiese oogklappe afgeruk word, skryf Christi van der Westhuizen oor die Naspers-127 en die WVK.

Prof. Christi van der Westhuizen

’n Betekenisvolle oomblik in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse media maak deesdae weer draaie op Naspers se platforms: die voorlegging van die sogenaamde Naspers-127 aan die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) in 1997.

In ’n onlangse artikel skryf Lizette Rabe (Netwerk24, 16 September) daaroor, maar ongelukkig laat sy die rol van die jonger lede van die Naspers-127, waarvan ek een was, in geheel uit.

Dit is belangrik om hierdie stemme in te sluit, om ook idees te toets soos dat die joernaliste almal uit “lojale verset” die stap gedoen het, wat gewoon nie waar is nie. Daar is ook die destydse bewerings wat steeds kop uitsteek dat die jonger joernaliste deur die ouer joernaliste voorgesê is. Dus, die jongeres het maar net gekonformeer tot die verwagtinge van die oueres.

Gewoonlik dink ’n mens aan konformering as dat ’n idee opgestel word wat mense onkrities aanhang sonder om verder daaroor te dink. Uiteraard word druk op allerlei implisiete en eksplisiete wyses uitgeoefen om mense te kry om te konformeer. Deur die loop van apartheid het konformering ’n al belangriker aspek van Afrikaner-nasionalisme geword, waarskynlik ook omdat die interne weerstand teen die apartheidsidee aan die opbou was.

Maar met die sage van die Naspers-127 het ons ’n interessante voorbeeld van hoe konformering ook kan werk. Daar word uit die staanspoor aangeneem dat die jonger joernaliste die leiding van die ouer joernaliste gevolg het, veral in die hiërargiese opset van ’n maatskappy.

Die aanname is nie net dat Afrikaners outomaties konformeer nie, maar ook dat hulle outomaties behóórt te konformeer. Dit is tog die aard van die Afrikaner-identiteit, ten spyte van die romantiese praatjies oor historiese dwarstrekkers.

Die effek van hierdie aanname is dat die hele sage van die Naspers-127 tot ’n paar figure gereduseer word. Dit word ’n stryd tussen magtige mans oor die erfenis van Afrikaner-nasionalisme in die media.

Die meeste van ons jonger joernaliste het op een of ander manier moreel gestoei met die gegewens wat uit die WVK-proses gekom het.

In die proses bly die ingewikkelde en verwikkelde werklikheid in die slag. Maar meer belangrik: die etiese dilemma waarvoor wit Afrikaanse joernaliste destyds te staan gekom het, en wat ons steeds behoort te konfronteer, verdwyn in die newels van die nuwe mite.

Dit wil sê, daar word vandag, 20 jaar later, van aanhoorders ’n spesifieke konformisme verwag, naamlik om die nuwe storie met gepaardgaande verswygings en magseffekte goedsmoeds te aanvaar. ’n Eiland word geskep waar Afrikaner-gevoelens gespaar kan word en niemand hoef te dink oor wat dit beteken dat jou identiteit so intiem aan ’n onmenslike stelsel verbind is nie.

Hiermee dus ’n poging om van die ander relevante besonderhede te boekstaaf. Die WVK het destyds alle media in Suid-Afrika die geleentheid gegee om voorleggings oor hul rol gedurende apartheid te maak.

In daardie stadium het ’n koerant soos Beeld sy openbare plig vervul met daaglikse nuusberigte oor die geweldsvergrype van apartheid en hoe dit swart mense se lewe verongeluk het, soos verwoord in die WVK-verhore.

Wit mense, en veral Afrikaners, is gekonfronteer met die gruweldade, maar ook die menslike ellende wat geskep is om wit heerskappy te handhaaf. Dit het verskillende reaksies ontlok, ook in die Naspers-koerante.

Daar is sedertdien heelwat akademiese werk oor wit ontkenning gedoen, en van die reaksies in Naspers kan as handboekvoorbeelde van hierdie verskynsel dien.

Beeld was egter destyds anders en het in ’n hoofartikel aangedui dat die koerant aan die WVK-proses sal deelneem.

Groot was die skok dus vir my en my kollegas toe die moedermaatskappy standpunt téén deelname inneem. DIe bekroonde onderwysverslaggewer Cornia Pretorius het destyds die eerste vrae oor die maatskappy se WVK-standpunt op Beeld se intranet-ruimte gevra.

Dit het tot ’n debat in die nuusredaksie gelei, en ’n etiese standpunt het gevorm dat ons nie die maatskappy se besluit kan of mag aanvaar nie.

Die rede: Soms, as ’n mens gelukkig is, kom daar ’n oomblik wanneer die ideologiese oogklappe afgeruk word en jy gekonfronteer word met die volle werklikheid van ’n situasie.

Suid-Afrika se oorgang na demokrasie was só ’n oomblik. Die tweede helfte van die 1990’s in Suid-Afrika was ’n vensterperiode gekenmerk deur ’n groter ontvanklikheid vir mededingende idees. Daar was ’n gevoel van potensiaal in die lug.

Die WVK-proses het die gevoel van optimisme gekompliseer. Die meeste van ons jonger joernaliste het op een of ander manier moreel gestoei met die gegewens wat uit die WVK-proses gekom het.

Van ons moes ook berig oor die WVK, en mense soos die bekroonde joernalis Adri Kotzé het daagliks oor die verhore geskryf.

Niemand kon onaangetas bly nie – dit was onmoontlik om afsydig te staan teenoor wat die WVK aan die lig gebring het.

’n Ekstra klousule is bygevoeg vir die jonger joernaliste om aan te dui dat ons nie deel was van die apartheidsgeskiedenis van die maatskappy nie, maar die voorleggings as ’n noodsaaklike stap beskou.

Talle van ons het eers ná 1990 by Naspers begin werk. Ons het dus nie aandadig gevoel aan die maatskappy se dekades lange steun aan die Nasionale Party en sy beleid nie.

Maar wat is die implikasies vir jou praktyk as joernalis in ’n nuwe demokrasie as jou werkgewer nie bereid is om krities na sy rol in die vorige bedeling te kyk nie?

Wat sal die maatskappy se posisie wees as ’n regerende party weer van hom vra om ’n dowe oor te draai?

Ons het die gewig van die geskiedenis en ’n onontkombare verantwoordelikheid gevoel om ons onomwonde van apartheidspraktyke soos die verswyging van ongeregtigheid te distansieer.

Die gevolg was ’n voorlegging aan die WVK wat elkeen individueel geteken het. ’n Ekstra klousule is bygevoeg vir die jonger joernaliste om aan te dui dat ons nie deel was van die apartheidsgeskiedenis van die maatskappy nie, maar die voorleggings as ’n noodsaaklike stap beskou.

Die Naspers-127 wys wat moontlik is wanneer die swaar hand van ’n ideologie sy greep verloor en groter beweegruimte vir etiese besluite ontstaan, selfs vir Afrikaners.

* Prof. Christi van der Westhuizen is medeprofessor in sosiologie aan die Universiteit van Pretoria en genoot van die Democracy Works-stigting. Sy was destyds werksaam by Beeld, onder meer as politieke beriggewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.