Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nathan, jy het my uitgevang – dankie

Dis Sondagaand en bitter koud. Die wind loei buite – ’n storm is aan die broei.

Ek lê in die bed toegedraai in ’n vereduvet met dik sokkies aan, ’n elektriese kombers en ’n fantastiese boek.

Antoinette Louw

(’n Boek wat ek gedink het nogal mooi sal pas by die Ingrid Jonker-boek wat op die koffietafel lê.)

Die lewe kan nie beter nie.

Daarby voel ek goed oor iets wat ek vandag gedoen het. Niemand weet daarvan nie, ek hou dit vir myself. Ek glo dis nie vir ander nodig om van my “goeie dade” te weet nie. Want sien, ek probeer meer bewustelik leef. En dit laat my minder skuldig voel oor ek hier in my warm bed lê terwyl ander mense verkluim.

Maar dan lees ek die volgende: “(en net oppe side note, vi my wit vriende: ek wiet julle hou daarvan ommie stalltjie man ennie swat waiter se naam te vra, maa julle moet ophou dai shit doen, wan is condescending. Hou op die waiter soese mens te wil treat, hy wiet hy isse mens, en hy haat most likely die feit dat jy ’n meal van twie honderd rand kan afford en dan nog altyd met jou pen sit en ywek presies hoeveel rand sy tien percent tip is.)”

Ondanks die vereduvet, die elektriese kombers en dik sokkies, word ek koud.

Hemel, besef ek, dis dan wat ék doen?

Stof tot nadenke.

In my kop probeer ek medemenslik wees, om menswaardigheid terug te ploeg in ’n land waar onmenswaardigheid en ongeregtigheid vir dekades (eeue) geseëvier het – en steeds onder alle groepe seëvier. Nooit, ooit het dit eens by my opgekom dat dit as neerhalend kan oorkom nie.

Dis nie ’n lekker besef oor myself nie.

Dat êrens, diep binne, daar ’n arrogansie en meerderwaardigheid is om iemand anders mens te laat voel net omdat ek tot ’n sekere groep behoort. Dat ek ’n redder is.

En ek voel skaam. So ontsettend skaam. Want ek het gedink – gehoop – ek is anders.

Maar ek is nie.

Want ek het gedink om Nathan Trantraal saam met Ingrid Jonker op my koffietafel te laat pryk, my beter sal laat voel.

Maar die skrywer vang my weer uit in een van sy gedigte: “My naam lê innie monne van Cash for Gold se mense ennit lê oppie koffietafels van ryk mense in Oranjezicht”

So. Wat nou?

Nee, besluit ek, ek gaan nie ophou om vir kelners te vra wat hul name is nie. Ek was self een, en ek weet hoe sleg mense kelners hanteer.

En karwagte. En mense agter die kasregisters. En ag, sommer net mense.

Ek is self een.

En ek gaan ook nie deel oor die “goeie daad” wat ek gepleeg het nie.

Ek wou, toe ek met hierdie rubriek begin het, om ’n punt te maak. Maar ek het daarteen besluit.

Want dit wat gebeur het, was net tussen my en ’n ander vrou. En ons kon ’n glimlag deel.

En dís my redding.

En skrywers soos Nathan Trantraal. En Ingrid Jonker.

Meer oor:  Antoinette Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.