Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nathan Trantraal: Check dat daai pulse nie nét in jou kop is

Franny WhatsApp my yt Amsterdam, sy sê sy dink an ôs. Sy het êrens online gelies vannie anne pandemic in Syd-Afrika, gender-based violence. Haa voice note is lank en sad soese country song. En êrens innie middel mention sy vanne anne vriend van haa wat onlangs ’n plaas anval survive et.

Maa surviving is relative as jy al een in jou familie was wat survive et. Franny trip oo dai deel asof sy my nie wil bore met it ie. Asof die thought net tangled geraak et innie stream of consciousness vanne voice note.

Sy sê haa vriend is soe nice en sy familie was soe ordinary soos kan kom. Sy add by oorie vrou wat dood is:

“Daai is die vrou wat ek jou laas van vertel het wat jou boek gaan koop het, onthou jy?

“Ek het nog so gelag want sy het my gevra om van die Kaaps vir haar te vertaal, toe sê jy nog los my revolutionaries af, ek het so gelag en toe ek vir haar dit sê, was sy so skaam omdat sy nie wou hê jy moet dink sy spot Kaaps nie, onthou jy?”

Ek wil vi haa ’n voice note trug stuu, maa ek sukkel met voice notes. As die record knôpie activate, dan voel ek asof ek op radio is. Dan moet ek ees diep inasem, enne bietjie ramble voo ek byrie punt ytkom. Dai is okay vi radio, wan die sound technician sny dai stukkie yt later as hy it mix. Real life is swaader.

Franny is funny, even as sy in mourning is, weigh sy haa sadness tien haa white privilege. Sône omme vlag te wai vi ammel om te sien, ek sien it wan ek ken haa. Sy’s probably my beste vriend.

Maa sy hoefie haa grief onnerie mat te vie nie. Is okay, is sad as mense doodgan, miskien worse assit violent was. En as sy sad voel is ek sad. Isse horrible ding as jy nie safe in jou hys kan voelie. Ek wens it vi nieman toe nie.

Ek try had somtyds om net oo my eie mense om te gie. Mense wat yt die circumstances kom wat ek ytkom. Omdat nieman ’n pause vat as ôs doodgan ie.

Omdat ek kwaad is, en omdat ek die hele historical picture kan sien. Maa ’n mens liewe nie holistically nie. Jy kannie altyd na die hele picture kyk ie. As jy dai doen is al wat jy sien, die brutality en futility van life. En dai sal jou soe cold maak dattie dag wat jy doodgan sal nieman ees kan sê of jy liewe of dood issie.

’n Mens need warmth om te liewe. ’n Mens need om die pulse van anne mense te voel, om te wiet jou eie pulse issie net in jou kop ie. ’n Mens moet kan voel asse nex mens se pulse stop. En jy moet stil wôd enne moment vat ommie weight van dai silence te hoor. Jy voelie soe sad virrie mense wat pass soes jy voel virrie mense wat moet vootgan met dai hollow ringing wat nou dee hulle liewens resound ie.

Ek sit en dink an dai poem van Ronelda “Dis vroeg winter in die Kaap die jaar” ek dink an dai lines:

“as die eerste reën geval het

en alles oorstroom

sal ek onthou dat pyn vir almal dieselfde is”

Is annoying, maa is waa. Wan it is makliker om deerie wêreld te gan en selectively te beslyt wie se pyn vi jou belangrik is.

Swaader om te sien hoe pyn die ding is wat ôs ammel connect anmekaa. Ôs assume wit mense consume hulle pyn met comfort food en rooiwyn. En ek dink hulle sien ôs dieselfde way wat hulle 18th century mense sien. Hulle assume ôs is sieke gewoond an alles.

Ek wiet ek hette capacity vi coldness wat nog unexplored lê, maa ek het die tip vannie iceberg gevoel en gedink die issie vi my nie. Ek dink al die goed maa ek sê it ie vi Franny nie. Ek sal haa sê as ek haa wee sien. Vi nou sê ek net:

“Baie sad oo jou vriend Franny. En ôs is baie lief vi jou. Van Nathan, Ronelda en Seymour. xxx”

Meer oor:  Nathan Trantraal  |  Sypaadjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.