Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Natuurlik sal die duiwel Afrikaans praat

Dit kon niemand seker verras het nie toe die nuus verlede week rugbaar geraak het dat die lingua franca in die ander plek – die vagevuur – niks anders as die Boeretaal is nie.

Enige twyfel is deeglik uit die weg geruim toe, in ’n episode van die Amerikaanse trefferreeks Lucifer, die Kaaps gebore aktrise Lesley-Ann Brandt se karakter, Mazikeen, haar mond demoonagtig oopsper en haar terapeut in ’n growwe helletaal aanspreek.

Wat hoor ’n mens? Haar nasaliteit ten spyt is dit onmiskenbaar die volgende: “Kan jy vir my verstaan wat ek praat? Want ek wil saam met jou praat.” Die slordige sinsbou is maar hoe mense praat as hulle nie van ’n teks aflees nie. Dis warempel herkenbare, regte Afrikaans.

Maar ons weet dít tog al ’n goeie klompie jare – dat die eintlike Rooitaal inderdaad Afrikaans is. Het Hansie Cronjé dan nie toentertyd, toe sekere krieketmoleste oopgevlek is, laat val dat dit die duiwel self, ou Lucifer of Niek, was wat hom aangepor het om sy oë vir die reëls te sluit nie?

In ’n jammersê-faks aan Ray McCauley, die groot indoena van die Rhema-kerk, het hy geskryf: “In ’n oomblik van dwaasheid en swakheid het ek Satan en die wêreld toegelaat om aan my voor te skryf hoe om op te tree.” Dis tog sekerlik in Afrikaans dat die duiwel Cronjé so ’n opdrag gegee het.

Vir baie lê die assosiasie tussen Afrikaans en Afrikaanses en die duiwel lank reeds volkome voor die hand.

Vir baie lê die assosiasie tussen Afrikaans en Afrikaanses en die duiwel lank reeds volkome voor die hand.

Trouens, in sy bekende gedig “Klaas Geswind en Syn Perd” het F.W. Reitz (1844–1934) dalk reeds ’n voorgevoel van ’n hedendaagse troebadoer en omstredenheid gehad: “Daar speul di duiwel op ’n tromp/Fer feertig spoke in ’n klomp:/Hul dans daar rond, dat dit so gons/Gen ouderwetse kotiljons.” Maar genadiglik is ons almal tog nie so nie.

In die rolprent An Act of Defiance, wat tans draai, is die soeklig op ’n ander soort Afrikaanse, die advokaat en vryheidsvegter Bram Fischer.

Ná ’n lang termyn op die hoofregterstoel van die Oranje-Vrystaat was die veelsydige Reitz van 1889 tot 1895 dié republiek se vyfde president.

Fischer se oupa Abraham was ’n dekade later eerste minister van die Oranjerivier-kolonie, en sy pa, Percy, weldra regter-president van die Oranje Vrystaat-provinsie. Maar sy kleinseun Bram sou ’n ander pad kies – die pad waarop sy gewete hom gelei het. In sy eenman-verhoogstuk Die Bram Fischer Wals probeer Harry Kalmer dié ingrypende kentering verstaan.

Inteendeel, bid eerder vir ’n Afrikaanse regter. ’n Engelse een sal vir die eiser agteroor buig. Die Afrikaner sal die teendeel doen.

In An Act of Defiance is Fischer op die kruin van sy loopbaan as advokaat en lid van die Johannesburgse Balie.

In die Rivonia-verhoor, wat in 1963 en 1964 in die Paleis van Justisie in Pretoria sou afspeel en waar Nelson Mandela aangeklaagde nr. 1 was, lei hy met groot welslae ’n span wat Arthur Chaskalson, later hoofregter van die demokratiese Suid-Afrika, en George Bizos insluit.

Maar gou sou hy self aangekla word van oortredings van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme.

Vroeër het Fischer in ’n lastersaak, waar hy vir die koerant-verweerder opgetree het, aan die redakteur gesê wat die versugting uitgespreek het vir ’n Engelssprekende regter: “Inteendeel, bid eerder vir ’n Afrikaanse regter. ’n Engelse een sal vir die eiser agteroor buig. Die Afrikaner sal die teendeel doen. Stuur ’n skietgebed op vir ’n Afrikaner.”

Met die herrysing van die VF Plus in verlede week se verkiesing, en die oordonderende musiek uit die kring van ’n sekere sanger, hoop ’n mens tog dat die duiwel-etiket vergeet kan word.

En dat ons steeds sulke skietgebedjies waardig sal wees.

Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde.

Meer oor:  Lucifer  |  Regter  |  Taal  |  Afrikaans  |  Duiwel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.