Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
NDZ gaan zol vir SA moet vat

Berigte het net voor die skryf van dié rubriek ingekom dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, tans verantwoordelike minister vir die bestuur van die ramptoestand, die verbod op sigarette en drank wil handhaaf tot die land op vlak 1 van inperking is.

Barnard Beukman

Die slegte nuus vir haar is, sy gaan die zol maar vir span Suid-Afrika moet vat en die ronde verloor. Al mag sy hoe reg wees met watter wetenskaplike bewyse ook al – en daar is ’n meningsverskil onder kenners daaroor – dryf haar voorstel sake net eenvoudig tot op ’n kantelpunt vir realpolitik wat haar president moeilik gaan verkoop.

Groot dele van die publiek, opposisiepolitici wat hul guns soek, en ’n groot verskeidenheid meningsvormers ontleed pres. Cyril Ramaphosa reeds nie aan die makroprentjie van ’n globale pandemie nie, maar juis aan die indeks van huishoudelike frustrasie, beskikbaarheid van drank en rookgoed en bepaald meer gewigtig en relevant: die geleentheid om ekonomies aktief te wees en geld te verdien.

Die vroeëre lomp ommeswaai oor die beskikbaarheid van sigarette het ’n ongekende gemoed­swaai onder die bevolking gebring. En die wegkomkans gegee aan diegene wat ongemaklik was in die koalisie van “eenheid en saamwerk in nasionale belang”.

Daar is ook nou reeds bewys dat baie mense steeds rook en smokkelaars maak die geld wat die belastinggaarder toekom.

Hopelik besef Ramaphosa dat hy hier ’n kans het om vele glasies op sy heil gelig te kry as hy die regte ding doen dié keer (weer, maar daarby hou). Om nie eens van die nasie se gemoedstoestand te praat nie . . .

En die land se belangrike wyn- en bierbedryf kan die nodige suurstof kry om te oorleef deur e-handel en in bepaalde afsetpunte.Goeie redeDaar is ’n goeie rede waarom dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, so skerp gereageer het op kritiek van die inperkingsbeleid deur prof. Glenda Grey, uitvoerende hoof van die Mediese Navorsingsraad en voorsitter van die Covid-19-adviesraad se navorsingsubkomitee.

Dit gaan nie soveel oor haar standpunt as oor haar reputasie nie.

Dié formidabele mediese wetenskaplike kom uit die UDF-stryddae en was aan die voorpunt om die Thabo Mbeki-regering tromp-op te loop oor die destydse omstrede MIV/vigs-beleid. Die ontvanger van die land se hoogste eerbewys, die Orde van Mapungubwe, het al meermale bewys dat sy nie bang is vir politici nie en het groot aansien in die “groter bevrydingstruktuur”, noem ’n ingeligte.Druk bou opDie relletjie is ’n bewys die druk bou op uit alle oorde en is selfs uit die geledere van kenners uiteenlopend en direk teenstrydig.

Om van ’n breër klomp stuurmanne aan wal nie eens te praat nie. En elkeen het ’n wetenskaplike ontleding, ’n land as voorbeeld en ekonomiese projeksies wat sy standpunt staaf.

Rede tot kommer in Suid-Afrika is steeds pogings om kosvloei na gemeenskappe te beheer en volumes Staatskoerant-bladsye vol absurde reëls.

Rede tot hoop is dat howe die geleentheid gaan kry om uitspraak te lewer oor die ramptoestand en verwante sake in ’n string hofsake daaroor.

Vinniger oopsluit van die ekonomie en minder regulasies, ja.

Die onmiddellike en roekelose skrap van alle inperkingsvlakke, nee. (Hoewel dit Beeld se standpunt is, hou ons vol om gebalanseerd oor alle gesigspunte verslag te doen en ruimte daarvoor te gee. Dit is ons werk. Ons dryf geen aksie nie.)

Die gemoed oor oorhaastige ontperking swaai in elk geval as die baie sterftes kom, vertel ontleders in New York. En dan moet die uitbreek-rasieleiers bontstaan. En tuis stem onderwysers en ouers reeds daarteen.

In ’n By-artikel vandag (ook op Netwerk24) vra sakeleiers vir ’n vinniger beweeg na laer vlakke van inperking.

Volgens Michael Jordaan van Montegray Capital is dit in ’n konteks waar onsekerheid oor die hede én die toekoms ongelooflik groot is, van deurslaggewende belang dat almal, veral die besluitnemers, “sterk standpunte inneem waaraan hulle nie verbete vasklou nie”.

Ramaphosa sit met al die raad en geraas om hom. Maar verdien steeds baie meer voordeel van die twyfel as wat hy gegun word.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.