Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nederland: Konserwatisme word die nuwe liberaal

Die oorwinning van die VVD en Mark Rutte in die Nederlandse verkiesing is eintlik ’n oorwinning vir regse konserwatisme netjies verpak in ’n sobere, liberaal-kapitalistiese gewaad, skryf Azille Coetzee.

Die Nederlandse premier, Mark Rutte, groet sy ondersteuners by ’n byeenkoms in Amsterdam. Foto: Yves Herman | Reuters

Hierdie week slaak Europa ’n lang sug van verligting toe die VVD, die politieke party onder leiding van Mark Rutte, die Nederlandse verkiesing wen. Hiermee verslaan Rutte vir Geert Wilders, die verregse populis wat wêreldwyd berug is vir sy radikaal Islamofobiese uitsprake en politieke doelwitte.

Die internasionale media beskou die uitslag van die verkiesing as ’n duidelike “nee” van Nederland teenoor die vlaag van populistiese verregse politiek wat dreig om ’n einde te maak aan die Europese Unie, en die wêreld soos ons dit ken.

Hoe verklaar ons hierdie optimistiese oomblik in vandag se oorweldigend beklemmende politieke klimaat? Wat het die Nederlanders in staat gestel om as nasie te verenig teen die verwoestende nasionalisme en xenofobie wat nou oral kop uitsteek en wat aanleiding gegee het tot Brexit en Donald Trump?

’n Nederlander hou nie van enigiets ekstreem nie.

Wel, vir enigiemand wat die Nederlanders ken, is die antwoord eenvoudig: ’n Nederlander hou nie van enigiets ekstreem nie. “Doe maar gewoon, dan doe je al gek genoeg” is ’n bekende refrein onder Nederlanders.

Daarom kies hulle byna sonder uitsondering grys motors, staan hulle bekend as mense wat reëls volg en sien hulle hulself as ’n nasie met ’n “nuchtere” of “sobere” karakter. Vir ’n Nederlander is dit veral belangrik om nie uit te staan nie. ’n Veelgebruikte (en onheilspellende) Nederlandse spreekwoord is: “Wie het hoofd boven het maaiveld uitsteekt, word zijn kop eraf gehakt.” Rofweg vertaal beteken dit: Die een wie se kop bo die mielieland uitsteek, word onthoof. Dit is ’n waarskuwing om niks te besonders te onderneem nie, of om nie jou nek te ver uit te steek nie, soos ons in gewone Afrikaans sou sê.

Die koopman en die dominee

Dit is ook welbekend dat die Nederlandse publieke moraal deur twee argetipes beheer word: die koopman en die dominee. Die koopman is die handelaar wat let op die belang van ’n liberale, kapitalistiese vryemark en die dominee pleit vir deugsaamheid.

Albei verteenwoordig veral ywer, selfdissipline en spaarsamigheid.

Ons het dus hier te doen met ’n hoogs konsensieuse, gematigde groep mense wat normaliteit en gewone, ou liberale kapitalisme hoog op prys stel. Die gevolg? Die Nederlanders word (gelukkig) maklik afgeskrik deur ’n man soos Wilders wat met sy ekstremistiese en dikwels irrasionele uitsprake sy kop heeltemal te ver bo die spreekwoordelike maaiveld uitsteek. Dit bring Nederland gereeld in die verleentheid in die internasionale pers.

Ten koste van die Ander

Tog, moet ek bieg, interpreteer ek nie Rutte se oorwinning as ’n baken van hoop in ’n toenemend konserwatiewe en haatdraende wêreld nie. Die VVD is ’n regse party. En iets wat duidelik blyk uit hierdie verkiesing is dat Nederland, in ooreenstemming met die tydsgees, selfs meer regs geword het.

Rutte is die klassieke voorbeeld van die pragmatiese Nederlandse koopman, die liberale kapitalis wat die status quo handhaaf. Hy was aan die konserwatiewe kant om mee te begin, en het toe selfs konserwatiewer geword in aanloop tot vanjaar se verkiesing.

Dit beskerm ’n ryk, wit Nederland ten koste van die Ander.

So het hy byvoorbeeld geen standpunt ingeneem teen die rassistiese tradisie van Swarte Piet in die Nederlandse Sinterklaasfees nie. En aan die einde van verlede jaar het hy aktiviste en betogers wat hulle teen Swarte Piet beywer het, diep gegrief met sy beroep op hulle om “normaal te doen” en dus nie te protesteer nie. Hy het dié beroep gedoen al ervaar menige swart Nederlander en immigrant hierdie uitbeelding van dom, swart “helpers” in slawe-uitrustings as diep vernederend.

Rutte het hom ook baie maal sterk uitgespreek teen immigrante in Nederland wat hulle volgens hom nie genoeg met Nederlandse waardes en kultuur vereenselwig nie. Sy uitsprake laat dit aanvaarbaar voel vir die Nederlander om ongedeerd en eksklusief “Nederlands” te wees. Só beskerm dit ’n ryk, wit Nederland ten koste van die Ander.

’n Nuwe links

Voorts het die VVD se beleid toenemend meer konserwatief geword met betrekking tot deurslaggewende kwessies soos immigrasie.

Die gemiddelde konserwatiewe Nederlander wat byvoorbeeld nie haar wit bevoorregting wil konfronteer nie of nie vlugtelinge in haar land wil toelaat nie, het dus nie ’n Wilders nodig nie.

Die VVD en Rutte bied genoeg regsheid en konserwatisme, netjies verpak in ’n sobere Nederlandse, liberaal kapitalistiese gewaad.

Geert Wilders gesels met verslaggewers nadat hy gestem het. Foto: Carl Court | Getty Images

Rutte bly ongetwyfeld beter as die skrikwekkende alternatief Wilders. Maar die nadeel is die selfgenoegsaamheid wat gekweek word. Die herverkiesing van ’n leier soos Rutte word nou as ’n progressiewe mylpaal in vandag se Europa bestempel, terwyl dit eintlik die teendeel is.

Die Geert Wilderse en Donald Trumps van die wêreld maak die gevare van politieke geslotenheid, geïnstitusionaliseerde rassisme en ongetemperde kapitalisme so eksplisiet dat iemand soos Mark Rutte as ’n verligte leier beskou word. Wat gebeur dus hier? ’n Konserwatiewe politiek word die aanvaarde standaard. Konserwatisme word die nuwe liberaal.

Die ligpunt? Die Nederlandse mense staan darem nie onverdeeld agter die VVD nie. Die VVD is die kleinste grootste party in die geskiedenis van Nederlandse politiek. Daar is ander, verfrissende alternatiewe partye wat toenemend politieke steun begin geniet. ’n Goeie voorbeeld hiervan is Groenlinks, ’n party wat veg vir die omgewing, inklusiwiteit en verandering en wie se setels van vier tot 14 gestyg het in Woensdag se verkiesing.

In ’n toenemend geslote en onverdraagsame Europa, is dít ’n skitterende bron van hoop.

* Azille Coetzee gradueer volgende maand met ’n PhD in filosofie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en Stellenbosch Universiteit. Sy het drie jaar in Amsterdam gewoon en is sedert Desember terug in Kaapstad.

Meer oor:  Nederland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.