Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nederlander gee bruin mense ’n ‘mond’

Die verhale van bruin mense, wat vroeër monddood was, eis nou om gehoor te word, skryf Danny Titus.

Dr. Danny Titus

Die Nederlandse joernalis en historikus Bart de Graaff vertel hoe hy Afrikaans begin leer het. Hy kon hom goed vind in die taal, behalwe die een woordjie “mos” kon hy net nie onder die knie kry nie.

Die woord vertaal nie so maklik in Nederlands nie. Die naaste is “immers” en tog is dit ook nie dieselfde nie.

Ek moes dink aan my gestrompel met Nederlands.

Die woord “wij” het ek verstaan, maar kon net nie dit oor my Afrikaanse tong kry nie.

Ons het Nederlands so vereenvoudig dat daar nie meer plek was vir “ik ben, jij bent en wij zijn” nie. Dis gewoon “ek is, jy is en ons is”.

De Graaff is in die land om sy boek Ware Mense bekend te stel. Die boek wat in Nederlands Ik, Yzerbek getitel is, is in Afrikaans vertaal as Ware Mense. Eintlik die Khoi-Khoin, of “mense-mense”.

Ware Mense omsluit soveel meer. Dat dit nie net sou gaan oor ’n gemaklike vertaling van mense-mense nie, maar pertinent oor die erkenning van mense wat na die kant geskuif is, wat in hul mensheid ontken is en uit ons geskiedenis uitgeskryf is.

Dit was opvallend hoe mense uit Riverlea, Eldorado Park, Ennerdale se gesigte opgehelder het oor die terugbring van hul geskiedenis, of ’n deel van hul geskiedenis.

Hierdie mense staan nou sentraal in die boek. Die foto’s is deur ’n professionele Nederlandse fotograaf Geert Snoeijer geneem as deel van ’n interkontinentale projek oor (stief-) kinders van die VOC in Indonesië, Australië en Suid-Afrika, kinders uit verhoudings met inheemse mense wat die VOC agtergelaat het.

Die foto’s van hierdie Suid-Afrikaners, wat aanvanklik in die Bloemfonteinse museum uitgestal was, sal vir ’n wyle in die Kasteel te sien wees.

Die motivering agter die foto’s is ook om waardigheid terug te bring aan mense van wie nie normaalweg foto’s geneem is nie. Daardie voorreg was vir die adel beskore, sê De Graaff.

Dit was opvallend hoe mense uit Riverlea, Eldorado Park, Ennerdale se gesigte opgehelder het oor die terugbring van hul geskiedenis, of ’n deel van hul geskiedenis.

Ek neem aan dit sal dieselfde in die Kaap wees. In sy outobiografie skryf Hermann Giliomee dat die twee pilare van apartheid die teologie en die geskiedenis was.

Ek moet sê ek het nou nie juis so pertinent na die geskiedenis gekyk nie. Giliomee verwys na die belangrike mites van die “onbesette land” teen 1652 en die van “Bantoe-aggressie” en “roofsugtigheid” waaronder boere sedert die eerste kontak in die 1770’s gely het.

Sy boek bied waardevolle insigte oor die beperktheid van geskiedskrywing, van veral by die departement aan die Stellenbosch Universiteit en die ontwikkelinge daar sedertdien.

Interessant hoe hy in 1976 versoek het dat die bruin geskiedenisdosent Henry (Jatti) Bredekamp vir nagraadse studies aan die US se geskiedenisdepartement toegelaat moes word.

Hulle varieer van oer oue mitiese verhale tot stukkies hartseer geskiedenis. Dit gaan oor die lewe op die diepe platteland, maar ook oor die harde bestaan in die grote stad.

Die antwoord was bloot dat “ons ons hande nie met dié ding moes ‘vuilmaak’ nie”.

Prof. Bredekamp het hom ten spyte hiervan op verskeie velde van die dissipline gaan onderskei.

En dan vra mense De Graaff hoe is dit dat hy as Nederlander oor hierdie onderwerp moes skrywe. Sy antwoord is gewoon “omdat julle dit nie doen nie”. Akademiese werk oor Khoi-mense vind egter gestadig plaas. Dr. Willa Boezak se werk So glo ons, prof. Bredekamp se publikasies en konferensies oor die onderwerp sowel as enkele ander publikasies is gevestig. Maar veel meer kan nog gedoen word.

In sy hoofstuk “Amper bure” skryf Giliomee hoe hy as jong lektor in die 70’s agtergekom het hoe bruin mense feitlik heeltemal uit die Afrikaners se geskiedenis geskryf is – hetsy as ’n gemeenskap of ’n klas.

“Dit was amper of daar by my, soos by ander Afrikaner-historici, iets was wat ons daarvan weerhou het om behoorlik die verweefde historiese wortels van die twee gemeenskappe te ondersoek.”

Post 1994 het daar wel twee boeke uit Stellenbosch gekom, nl. In ons bloed onder redaksie van Hilton Biscombe en Giliomee se eie Nog altyd hier gewees.

De Graaff skryf oor Suid-Afrika: “. . . vrywel daagliks duik daar ‘nuwe’ ou verhale op, nuwe ou stories. Dit is verhale van mense wat vroeër monddood was en wat nou eis om gehoor te word.”

Hulle varieer van oer oue mitiese verhale tot stukkies hartseer geskiedenis. Dit gaan oor die lewe op die diepe platteland, maar ook oor die harde bestaan in die grote stad. Wat die verhale in gemeen het, is dat dit in Afrikaans vertel of geskryf word.

In dié taal kan Nederlanders maklik lees en met ’n bietjie moeite redelik vinnig leer verstaan.

’n Mens kan byvoeg dat in die Afrikaanse taal Suid-Afrikaners ook meer van mekaar kan leer en verstaan.

* Dr. Titus is die ATKV se uitvoerende direkteur van kultuur.

Meer oor:  Danny Titus  |  Khoi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.