Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nee, minister, mens mors nie met ’n sopraan
Martie Retief Meiring

Dat kuns ’n politieke daad is, is gewis. Net jammer politici verstaan dit nie.

Ons het ’n minister van kuns, kultuur en gooi sommer sport by. Hy is nie besonder inspirerend nie. Trouens, niemand weet presies waar die minister, ene Nathi Mthethwa, hom bevind as nog ’n teater sluit, nog ’n museum sy deure moet toemaak en o, jitte, tog, wanneer iemand laat weet “die mense” het skoon vergeet om die Nelson Mandela-huis te versorg nie.

Ook – skande, skande – met die herdenking van Charlotte Maxeke se geboortedag onlangs blyk dit haar huis, ’n toerisme-plek, word ook nie in stand gehou nie.

Toe, nog voordat die minister sy das kon vasknoop vir ’n TV-onderhoud, is die beroemde Liliesleaf Farm in sy josie in. Die ikoniese kleinhoewe waar Nelson Mandela as kammakastige tuinier gewerk het terwyl die ANC se leiers daar beplanning gedoen het, is sommer tydens die minister van kuns en kultuur (en, oukei, sport) se wagbeurt asblik toe. G’n geld. Toegegroei met gras. Verf skilfer af.

Skande.

’n Verkiesing kom.

Die ANC is in die dwêng. Oudstryders gaan dood. Begrafnisse, lofredes moet gehou word, die verlede moet geëer word, maar die monumente is vodde.

Jy mors nie met ’n sopraan nie. Dit sal elke liewe dirigent jou ook vertel.

’n Groter ramp speel hom af. Die minister van kuns ensovoorts het vergeet van die kunstenaars.

Plekke se naam word verander, beloftes gemaak van beelde vir gestorwe helde, definisies van wat inheems is of nie word geformuleer, terwyl vergeet word dat daar agter die kwaste, die penne, die klei, die woorde die werklike karteerders van hierdie tyd is.

Toe loop die minister hom in ’n sopraan vas.

Jy mors nie met ’n sopraan nie. Dit sal elke liewe dirigent jou ook vertel.

Waar’s die geld wat julle aan die kunstenaars beloof het, het Sibongile Mngoma met haar fiere houding gevra. Die sopraan en ’n hele rolverdeling kunstenaars trek net daar in die Nasionale Kunsteraad se kantore in en Mngoma, gedagtig aan die regering se swak geskiedenis met gebouesorg, slaap saans onder ’n tafel.

Dit blyk dat van die 1 374 kunstenaars onder wie R300 miljoen verdeel sou word, slegs 505 iets ontvang het. Netjies toegeknoop vertel die minister dat die geld nie weg is nie, net bietjie weg.

Dis nog in die Nasionale Kunsteraad se kantore, sê hy.

Soos te verwagte word die saak van die vermiste geld nou deur ’n spesiale ondersoekeenheid bekyk.

Die tragedie – of die komedie – is dat die minister g’n besef het van wat sy department wel al in hierdie vreemde tye kon gedoen het nie.

Waar is die opdragte vir werk tydens die pandemie, die musiek wat gemaak moet word, die operas, die musiekspele, die digters en die skrywers wat ’n tyd moet karteer soos nog nooit voorheen beleef is nie?

Of dalk dink hy nog ’n dorpsnaamverandering sal die kulturele ding doen.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Martie Retief-Meiring  |  Minister  |  Geldelike Hulp  |  Kunste  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.