Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nee wat, werk eerder aan jou kuite

Ag wat, loop liewer. Stap. Trap. Skoert te voet. Voertsek per poot. Dis beslis myle beter as om deesdae te ry. Stry?

So jy wil stry? Het jy onlangs jou rybewys gaan hernu? Dis soos ’n vyfjaarlikse besnydingsritueel. Daar is nie genoeg byvoeglike naamwoorde of vloekwoorde om die onaangenaamheid van die proses uit te druk nie. Dis ’n gebeurtenis gedoop in absolute ellende vir diegene wat karre besit.

Ons bestuurders word maar sekondeliks beproef. As dit nie die toll is nie, is dit petrol en deesdae die hernuwing van ’n rybewys.

Wanneer ’n mens in die lisensiekantoor kom, tref die eerste klap jou. Jy moet vorms invul. Die vorms stel so baie vrae, baie meer as jou adres en ID-nommer. Dit is soos ’n vraestel wat jou geduld toets. Asof jou adres van die een bladsy na die ander verander het.

Jy het jou ID-nommer, bewys van adres en vyf kop-en-skouerfoto’s van jou wat die oomblik van smart perfek vasvang. Jy lyk ’n tikkie bleker en verskrik op die foto’s. Dit word so vinnig geneem, jy sit skaars dan is dit verby.

Nadat die vorms ingevul is, tref die ry wat geen lig aan die einde van die tonnel het nie jou soos ’n sweepslag. Dié proses duur nie minder nie as twee uur. Jy beweeg so vinnig soos ’n rots wat in die wind rol.

Die gange van die lisensiekantoor is duidelik ’n slagoffer van agteruitgang. Dis koud, donker, bitter, stukkend en lelik. Vensters is gebreek. Die mure is moeg. ’n Mens sou dink met al die geld wat hulle uit bestuurders tap, sal die plek minstens tweester wees.

Dan ná amper drie uur word jy aan ’n eienaardige oogtoets onderwerp. Om nie in dié toets geboelie te word nie kry ingeligtes vooraf ’n brief van hul oogartse.

Ek is oortuig daarvan dat mense die oogtoets druip – nie weens swak sig nie – maar uit verwarring oor hoe dit werk. Die beamptes se vriendelikheid is op lunch. En hulle is blitsig om jou te druip. “Jy kort ’n bril,” kan van hulle jou sommer net daar diagnoseer. Dit nadat jy drie uur van jou lewe in ’n ry vergaan het.

As jy wel die oogtoets slaag, sal jy jouself vir sowat 40 minute in nog ’n ry gaan verarm om te betaal. Tog besluit die amptenaar dis middagete. Sy plak haar lunch-teken op en trek weg asof sy die lotto gewen het. ’n Mens sou dink dat ’n kollega haar gaan aflos – maar nee, dis net vir atlete. Spoed is so afwesig soos geluk.

As jy uiteindelik ’n tydelike rybewys het, moet jy oor ’n paar weke weer jou rybewyskaart gaan afhaal. ’n Proses wat meer belowend klink, maar soos ’n skop in die manlikheid sien jy daar is weer ’n ry.

Taxi’s is nie ’n opsie nie, want hulle beskou padtekens en verkeersligte as padversierings. Stap is dus maar die enigste opsie. Minstens sal jy kuite kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.