Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Neem Bok-lesse ter harte, SA

Die Bokke se oorwinning het almal se verbeelding aangegryp. Hulle het die land bankvas agter hulle verenig. En almal is supertrots op dit wat hulle vermag het. Welgedaan!

Daarin is vele lesse vir Suid-Afrika en al sy mense opgesluit. Ook vir ons regering en elke instelling wat ’n rol van ’n gemeenskaplike aard vervul.

Wat is die boublokke vir hul sukses?

Van die belangrikste en mees relevante is visie, leierskap, meriete, inklusiwiteit, beplanning, samewerking, vertroue, verantwoordbaarheid, kreatiwiteit, harde werk en geloof. Waar dit ontbreek, is daar geen sukses ter sprake nie, maar eerder mislukking, verwyte, verdeeldheid en konflik. Dit neem nie ’n land of ’n organisasie vorentoe nie, maar is tot groot nadeel van almal.

In Suid-Afrika ervaar ons die afgelope dekade heelwat mislukkings. Van die verenigde “wenspan en wenkultuur” wat ná die eerste demokratiese verkiesing onder leiding van oudpres. Nelson Mandela momentum gekry het, het daar net ’n skadu oorgebly.

Die Bokke onder leiding van Rassie Erasmus en Siya Kolisi het eerder op die verwesenliking van ’n gedeelde visie gefokus.

Daarenteen het die Bokke onder leiding van Rassie Erasmus en Siya Kolisi eerder op die verwesenliking van ’n gedeelde visie gefokus. En te midde van al die politieke geraas en onstuimigheid nie ’n aks daarvan afgewyk nie. Dit is doenbaar, mits die visie of einddroom duidelik en eenvoudig is. En deur almal gedeel en gekoester word.

Regerings, instellings en gemeenskappe sonder ’n duidelike, eenvoudige visie bevind hulself spoedig op ’n pad van selfvernietiging. ’n Regering se visie behels om voorspoed, vrede, vryheid en vooruitgang vir al sy mense te bewerkstellig. ’n Skool om die beste opvoeding denkbaar vir leerlinge te ontsluit. ’n Munisipaliteit om plaaslik ekonomiese ontwikkeling deur topklas-dienslewering teweeg te bring.

Die verwesenliking van ’n visie vereis leierskap wat nie op eiebelang fokus en vergelding soek nie, maar wat “punte” op die telbord wil aanteken en “wedstryde” wen. Om dit te verwesenlik moet die span op meriete gekies word. En ’n fyn balans moet tussen meriete en inklusiwiteit gehandhaaf word.

Om ’n diverse wenspan bymekaar te bring en doeltreffend te laat funksioneer, vereis omvattende beplanning van leiers.

Albei boublokke is van kritieke belang.

Bekwaamheid kan wel nooit op die altaar geplaas word nie. Dis ’n resep vir mislukking. En ons sien die rampspoed wat dit vir ons land en vele instellings meebring. Ook vir mense wat in poste geplaas word waarvoor hulle nie die nodige opleiding, ervaring, emosionele intelligensie en deursettingsvermoë het nie.

Om ’n diverse wenspan bymekaar te bring en doeltreffend te laat funksioneer, vereis omvattende beplanning van leiers. ’n Bekende gesegde van Benjamin Franklin, een van die grondleggers van die VSA, lui: “If you fail to plan, you’re planning to fail.”

Goeie beplanning bring onderlinge samewerking, vertroue en verantwoordbaarheid mee.

Goeie beplanning bring onderlinge samewerking, vertroue en verantwoordbaarheid mee. Swak beplanning verwar almal. Dit veroorsaak wantroue tussen mense wat as ’n span moet saamwerk. Sulke regerings, organisasies en gemeenskappe is voortdurend in ’n staat van vryval en rigtingloosheid vasgevang.

Ek moet byvoeg die Bokke se benadering was allesbehalwe eendimensioneel en lineêr. Kreatiewe spel het hoogty gevier, met Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe se drieë die hoogtepunte.

Die grondlegger van laterale denke, Edward de Bono, is bekend om die volgende gesegde: “If you wait for opportunities to occur, you will be one of the crowd.” Sonder kreatiwiteit, harde werk en geloof is geleenthede slegs ’n hersenskim. En bly almal in ’n maalkolk van middelmatigheid vasgevang.

Ek vertrou pres. Cyril Ramaphosa, sy kabinet en almal aan die stuur van instellings neem hierdie lesse ter harte. As ’n wenspan kan ons baie meer vermag! ) Van der Rheede is uitvoerende adjunkdirekteur van Agri SA.

Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Sege  |  Rugby  |  Oorwinning  |  Samewerking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.