Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Neem hierdie oomblik in SA doodernstig op
Braam Hanekom

Die onlangse anargie het ons tot stilstand geruk. Die laaste paar maande loop ek al met ’n hol kol op die maag wat ek telkens probeer afskud het. Nou kan ek dit nie meer doen nie.

Jy sien, Suid-Afrika was al stukkend lank voor die onlangse gebeure.

Stukkend in terme van beleid en regering, onderwys, opvoeding en moraliteit.

Stukkend in ons denke en psige en les bes, maatskaplike samehorigheid.

Soms het dit vir my gevoel of ons bloot voortstrompel in die hoop dat ons dan of wan kan ontvlug na ’n vredevolle plek in ons mooi land, ’n lekker sportbyeenkoms hier en daar of wat ook al.

Wat ons gesien het, was ’n Kairos-oomblik, ’n beslissende oomblik, ’n perfekte storm wat onkeerbaar soos ’n tsoenami oor ons gebreek het.

Die redes waarom dit gebeur het, is veel langer as wat hier gelys kan word. Ja, daar was anargistiese­, donker elemente wat ’n situasie uitgebuit het en hulle gaan waarskynlik sukkel om dit in die volgende paar dae en maande te herhaal. Dit mag ons nie laat terugsit en dink dat die storm verby is nie.

Suid-Afrika het nie net ’n paar dae van plundering gesien nie, maar het jare van plundering agter die rug.

As daar ooit ’n tyd was vir regdenkende mense om saam te staan, dan is dit nou.

Dit is vererger deur skreiende onbevoegdheid en beleid wat jou asem laat wegslaan het. Die nalatenskap is dat miljoene mense in armoede en hopeloosheid gedompel is en ’n kurkdroë landskap geskep het wat maklik kon brand.

Waar laat dit ons?

As daar ooit ’n tyd was vir regdenkende mense om saam te staan, dan is dit nou.

As daar ooit ’n tyd was vir kerke, gemeenskappe en selfs politieke partye om hande te vat, dat is dit nou.

Die geskiedenis oordeel wreed oor nasies wat beslissende oomblikke ignoreer.

Dit is nie ’n tyd om in verlamming en hopeloosheid te verval nie. Dit is nou tyd om op te staan en saam te staan. Die Evangelie leer ons dat die Lig, soos met die opstanding, verrassend kan deurbreek ná die donkerste tye.

Ons pleit jare al dat gemeenskappe moet opstaan en op groter vlak moet hande vat. Ook mét die plaaslike regering en téén die plaaslike regering as hulle korrup en onbevoeg is. Die anargie het menige van ons diep moedeloos gelaat, maar daar is ook ’n kant waar daar ’n groter vasberadenheid, moed en oortuiging in my groei as ooit tevore.

Dit is nou tyd om op te staan en baksteen vir baksteen te herbou, veral aan ons verhoudinge. Die burgerlike samelewing moet en sal die bolwerk teen anargie vorm. Graag herinner ek ook weer aan die woorde van Sagaria aan koning Serrubabel in ’n moedelose tyd: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” (Sag. 4:6)

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke­ Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Plundering  |  Kzn-Herstel  |  Plundery  |  Geweld  |  Anargie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.