Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Neem Suid-Afrikaners in jou vertroue, Cyril

Dis hoog tyd dat pres. Cyril Ramaphosa die lug suiwer oor die honderde miljoene rande wat vir sy CR17-veldtog ingesamel is. Hy moet die bespiegeling en onsekerheid oor dié veldtog, wat dag ná dag verdiep, nou eens en vir altyd uit die weg ruim.

Philda Essop

In Februarie verlede jaar met sy eerste staatsrede, twee maande nadat hy in Nasrec tot ANC-president verkies is, het ’n nuwe gees in die land posgevat. Daar was ’n gevoel van optimisme nadat oudpres. Jacob Zuma die amp ontruim en Ramaphosa oorgeneem en ’n nuwe daeraad – skoon deursigtige leierskap – belowe het.

Wat Suid-Afrikaners egter bykans daagliks ná die Mei-verkiesing hoor, is nie hoe die Ramaphosa-administrasie skouer aan die wiel sit met dienslewering, die bekamping van korrupsie of planne om die ekonomie weer aan die gang te kry nie.

Allermins. In plaas daarvan is die fokus op die CR17-veldtog en wie geld daarvoor geskenk het (en hoe dit aangewend is).

Alles het begin toe Ramaphosa in November verlede jaar deur Mmusi Maimane, DA-leier, in vraetyd in die Nasionale Vergadering oor ’n betaling van R500 000 aan sy seun Andile deur Bosasa uitgevra is.

Ramaphosa het geantwoord dat Andile konsultasiewerk vir dié maatskappy verrig het. Tien dae later het hy egter aan die speaker geskryf om die antwoord reg te stel omdat dit onder sy aandag gekom het dat dié R500 000 inderwaarheid deur Bosasa aan sy CR17-veldtog geskenk was.

Agt maande later bevind adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), dat Ramaphosa die parlement opsetlik met sy antwoord mislei het. Ramaphosa het aangedui dat hy dié OB-verslag in die hof op hersiening gaan neem.

Die kwessie ter sprake is of Ramaphosa bewus was van wie geld aan die CR17-veldtog geskenk het.

Intussen het vertroulike e-posse uitgelek wat die identiteit van sommige van sy skenkers bekend maak.

Hy het vroeër op ’n mediakonferensie in die Uniegebou gesê dat die veldtogbestuurders ’n doelbewuste besluit geneem het dat hy die kandidaat is en dat hulle die veldtog sal bestuur. Hy het natuurlik geweet dat geld ingesamel word, maar hy is nooit ingelig oor die “ingewikkelde kwessies” waarby hulle betrokke was nie. Hy het wel toesprake gelewer by geldinsamelings. Ja daar was kennis, maar dit was in ’n groot mate beperk, het Rama­phosa gesê.

Intussen het vertroulike e-posse uitgelek wat die identiteit van sommige van sy skenkers bekend maak.

’n Week gelede is berig oor sekere politici en sakelui wat óf geld vir die veldtog geskenk óf geld daarvan ontvang het.

Die afgelope naweek het Tebogo Mokwele, ’n EFF-LP, erken dat sy geld van die veldtog ontvang het. Dié party voer nou aan die feit dat sy geld uit die CR17-veldtog gekry het nadat sy met Ramaphosa gepraat het “wys dat hy regstreeks by die rekeninge betrokke was”.

Alle oë sal Donderdag om 14:00 stip gefokus wees op die parlement waar Ramaphosa vir die eerste keer ná die Mei-verkiesing mondelingse vrae sal beantwoord. Twee van dié vrae hou met die veldtog verband.

Dit is die ideale geleentheid vir Ramaphosa om Suid-Afrikaners in sy vertroue te neem en alle onsekerheid en verwarring oor die veldtog uit die weg te ruim.

  • Essop is ’n politieke joernalis by Netwerk24.
Meer oor:  Politiek  |  Korrupsie  |  Presidentskap  |  . Lug Suiwer  |  Cr17-Veldtog  |  Presidentsveldtog.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.