Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nes jy dink die chaos kan nie groter nie . . .

Hoe lank gaan Boris Johnson nog leier van die Konserwatiewe Party en Britse premier wees? Dié vraag word selfs in die gematig-konserwatiewe Londense dagblad The Times gestel nadat Johnson 21 lede van die Tory-koukus uitgeskop het omdat hulle teen sy Brexit-planne gestem het.

Die koerant berig verder dat talle koukuslede eis dat Johnson die skorsing van die 21 ongedaan maak. Meer as 100 Tory-LP’s het ’n verklaring uitgereik dat die besluit “in beginsel verkeerd en slegte politiek” is.

Talle Tory-swaargewigte is onder dié 21 – talle gewese ministers, soos Philip Hammond, Greg Clark en David Gauke, asook sir Nicholas Soames, ’n kleinseun van Winston Churchill­ (71), wat die Konserwatiewe Party sedert 1997 in die laerhuis as LP dien.

Intussen is John- son se politieke gesag kwaai aangetas deur ’n reeks nederlae in die laerhuis. Tevore het Johnson pogings om ’n Brexit sonder ooreenkoms te opponeer bemoeilik deur die laerhuis vanaf aanstaande week vyf weke lank te prorogeer, iets wat ’n storm van verontwaardiging – ook in dele van sy eie party – uitgelok het.

Toe die laerhuis Dinsdag van vakansie terugkom, is Johnson gekonfronteer met ’n opstand. Met die hulp van Tory-rebelle het die laerhuis­ beheer oor die agenda oorgeneem en ’n wetsontwerp goedgekeur wat Johnson verplig om ’n verdere uitstel van Brexit tot 31 Januarie 2020 by Brussel te beding.

Boris Johnson se politieke gesag is kwaai aangetas deur ’n reeks nederlae in die Britse laerhuis.

Johnson het die laaste weke sy bes gedoen om vasberade soos sy groot held, Winston Churchill (oor wie hy ’n goeie boek geskryf het), voor te kom. Maar sy stoomroller-taktiek, so lyk dit, het geboemerang.

Nie alleen het sy gesag in die Tory-establishment ’n knou gekry nie; hy kon nie eens sy troefkaart – ’n vervroegde verkiesing – speel nie. Die laerhuis het sy voorstel om op 15 Oktober te gaan stem, verwerp.

Dit sou moontlik ’n slim set van Johnson gewees het, want peilings wys dat die Tories tans nogal taamlik goed sou vaar. Maar die Britse kiesers is taamlik veranderlik: Toe Theresa May ’n eleksie in 2015 aankondig, het sy ook in die peilings ver voorgeloop, en uiteindelik het sy haar volstrekte meerderheid verloor.

Wat gaan nou gebeur? Nugter weet. Net so gou as wat jy dink nóú kan die chaos nie groter word nie, wórd dit groter.

Johnson moet Brexit nou met drie maande uitstel. In die tussentyd moet hy ’n nuwe skeidingsooreenkoms met Brussel beding, en Brussel is onbeweeglik.

Die EU het met steun van al die oorblywende 27 lande telkemale te kenne gegee hy is gewillig om hiér ’n woord en dáár ’n frase te verander, maar die corpus van die bestaande ooreenkoms staan vas soos die Rots van Gibraltar.

Dit beteken dat die chaos einde Januarie opnuut herhaal word. Genade!

Meer oor:  Konserwatiewe Party  |  Boris Johnson  |  Planne  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.