Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Net afstootlike idiote brand 'n Bok-trui
Charles Smith

Daar is iets wat vir my veel meer ontstellend is as die Springbokke se vertoning teen die All Blacks Saterdag. En dit is die optrede van sommige Springbok-ondersteuners.

’n Video van só ’n ondersteuner wat op Facebook gedeel word wys hoe die vent kru aanmerkings oor Saru en Allister Coetzee, die afrigter, maak voordat hy sy Springboktrui uittrek en in die braaivleisvuur gooi.

Wat hy sê – in Afrikaans, natuurlik – is onherhaalbaar. Sy vriende dink dit is ’n groot grap. En as hy sy bier gryp en ’n middelvinger vir die Springbokke gooi, hoor jy hoe ’n drinkebroer sing: “Uit die blou van onse hemel. . .”

Hu? Is dit hoe ons optree? Almal was verpletter oor die uitslag. Ons weet Springbokrugby vou, soos baie dinge in die land. Saru is, soos die kabinet, ook gekaap deur kripvreters. Maar dié optrede is eenvoudig onbeskaafd en walglik. Die taal en die optrede van die lummel sal jy net by diegene kry wat nog die ou vlag swaai.

Springbokrugby soos van ouds mag sterf, maar daar is steeds duisende laaities wat van die Groen-en-goud droom. Swart, wit en bruin. Daardie droom, ook om vir die Proteas te speel of om ’n dokter of ingenieur te word, is al wat ons oor het wat eg is. En die paar miljoen eerlike mense wat nog werk vir hul geld.

Dink bietjie oor ons rugby: Hoe sou Nieu-Seeland, Engeland of Ierland vaar as elkeen 100 of meer van hul beste rugbyspelers verloor?

Hoe sal die All Blacks vaar as die Suidsee-spelers nie vir hulle mag speel nie?

Maar idiote met groot pense gooi hul Bok-truie in die vuur vir die seuns om te sien.

Dis waar ons rugby nou is. Al wat ons het om op te bou is die laaities wat groter, vinniger en sterker as die All Blacks wil word.

Maar idiote met groot pense gooi hul Bok-truie in die vuur vir die seuns om te sien. Dis die soort wat net boikot en die Springokke se vroue en meisies dreig.

Ek het Saterdag o.11-krieket gaan kyk terwyl die toets aan die gang was. Ek het ’n hele paar jong Rabadas en Bavumas gesien. Jonk, geesdriftig, talentvol. Arm, van skole waarvan jy die naam nie kan uitspreek nie.

Maar hulle wil jol. Vinnige boulers. Wit, swart en bruin ding mee, gee hul beste. Baie trots op hul provinsiale kleure. En eendag gaan hulle hul merk maak met die vuis op die bors.

Net voor die wedstryd het ek en my meisiekind in die Wimpy ontbyt gaan eet en daar het ek iets gesien wat my diep beïndruk het. Twee vroue, wit en swart, sit teenoor mekaar. Elkeen geniet ’n Cream Soda float. Hulle kyk mekaar in die oë en hulle práát en luister na mekaar. Met deernis om die oë. Met meelewing en respek.

Daardie gesprek oor die Cream Soda floats is simbolies van die Groen-en-goud-land wat ons kan wees. Ons is tog nie ’n nasie wat ons Springbok-trui verbrand nie.

Ons is veel meer as dit.

Meer oor:  Bokke  |  Sport  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.