Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Net dalk help gesels dan tog meer as praat
Martie Retief Meiring

Die aand toe Tom Gouws, digter en mens-mens, doodgeskiet is, was ek by ’n lewe-viering. Pragtig in die gloed van lig en glas, rose en musiek, om te dink aan ’n lewe vol wysheid en mededeling.

Vriende vier ook die geboorte van twee meisietjies. ’n Week later neem ’n gesiene swart akademikus sy eie lewe. Luidens berigte sê sy familie hy het ernstig depressief oor die #FeesMustFall-protes en anargie geraak.

Elders sterf ’n politikus deur moord, kinders verdwyn en word in grafte en waterslote gevind, voertuie brand, winkels word geplunder, onwettige strukture word hardhandig afgebreek.

’n Vreeslike werklikheid word soos ’n knyptang en van oral – politici, kommentators, burgerregtegroepe – kom die oproep: Ons moet met mekaar praat.

Ek is vandag na ’n vrouebyeenkoms genooi. Dis ’n geleentheid om “met mekaar te praat”.

Waaroor sal ons praat? Hoe vroue nie genoeg hoë poste beklee nie? Hoe vroue verkrag en vermoor word?

Waaroor sal ons praat? Hoe vroue nie genoeg hoë poste beklee nie? Hoe vroue verkrag en vermoor word? Of sal ons vier hoe vroue uithou en aanhou? Oor die weduwees wat ná moorde agterbly op hul plase, in hul huise, in hul sinkkaias? Dan drink ons tee, darem bly om nuwe kennisse te gemaak het en ja, ag wat, om sommer ook oor banaliteite te kon gepraat het.

’n Vriendin wat ’n voedselprojek bedryf, is sardonies (of sarkasties) oor dié oproep om met mekaar te praat asof ’n soort waarheid-en-versoeningsoefening aangepak moet word. Om skuldbelydenis en skuldbeskuldigings uit te pak? Sy het al aan versetoptogte deelgeneem. “Daarna gaan ons almal huis toe. Nou het ons mos ‘gepraat’.”

Is “praat” ’n soort proses? Gaan praat help om die aaklige werklikheid te besweer, te red? Is gesels “praat”?

’n Swart vrou – jonk, modieus, bekkig, ’n student in sake-administrasie – leer my hoe om by straatsmouse te koop.

Daar’s ’n “white price” en ’n “black price”. Jy koop net “black price”, beveel sy.

Daar’s ’n “white price” en ’n “black price”. Jy koop net “black price”, beveel sy. Ek kry ’n besem, ’n stoffer, houtspaan op “black price”. Dis ’n heerlike gevoel, asof dit ’n winskopie was.

In ’n koffiewinkel skerts sy: Hier’s net een prys. ’n Mens koop nie goedkoop gemors nie. ’n Cappuccino is ’n cappuccino.

Ons is van ander geslagte. Sy stel belang in hoe oud ek was toe ek ’n motor kon koop. Het my ma ook gewerk? Waar het ek my baadjie gekoop – teen watter prys?

Haar ouma word 65. Sy gaan vir haar ’n handsak gee. “Black price.” Ook ’n egte wolpasjmina. “White price.” Is ouma gesond? Vol artritis, maar oukei. Verkoop sy nog vetkoek in die township? Natuurlik, al kla sy so oor die mince se prys.

Ons twee loop straataf. Sy groet ’n jong man. Bad news, daai ou, sê sy toe ons aanstap. Ons groet. Sy herinner my waar ek geparkeer het. Het ek my sleutels? Toe ’n drukkie. Sy haak haar spykerhakskoene af, skuif haar voete in plakkies en hol vir ’n taxi.

Ons skree vir mekaar: Volgende Woensdag!

Meer oor:  Tom Gouws  |  Sielsgoed  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.