Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Net dalk verras Bloomberg nog ons én Trump

Dit was sonder meer ’n goeie week vir pres. Donald Trump. Nie alleen het die Amerikaanse senaat, soos verwag, die klagte teen hom verwerp nie; die Demokrate het met die tel van stemme in die voorverkiesing in die deelstaat Iowa in ’n chaos verval.

Dit het aan Trump die geleentheid gegee om te kraai: Hoe kan mense verwag dat die Demokrate ’n land regeer as hulle nie eens ’n voorverkiesing in Iowa behoorlik kan reël nie?

Intussen het die voorlopige Iowa-uitslag duidelikheid oor ’n paar sake gebring.

Die eerste is dat die posisie van Joe Biden, die man wat luidens peilings landwyd voorloop – sowel binne die Demokratiese Party as betreffende die presidentsverkiesing van November – veel minder stewig is as wat tot dusver aanvaar is. Hy het sleg uitgesak tot vierde plek ná Pete Buttigieg, Bernie Sanders en Elizabeth Warren.

Nou moet ’n mens versigtig wees om te veel waarde aan die Iowa-uitslag te heg. Iowa het die eer om die eerste voorverkiesing te hou, en dus het dit hoofsaaklik simboliese waarde.

Die groot toets, wat kandidate kan maak of breek, is “Super Tuesday” (3 Maart). Dan gaan die kiesers in 14 deelstate (Alabama, Arkansas, Kalifornië, Colorado, Maine, Massachusetts, Minnesota, Noord-Carolina, Oklahoma, Tennessee, Texas, Utah, Vermont en Virginië) na die stembus om in die voorverkiesings te stem.

Dis moontlik dat Biden hom nog kan regruk. Sy probleem is dat hy te veel na ’n vriendelike oupa lyk, sonder die soort ruggraat wat mense van ’n president verwag.

En bowendien het die Republikeine reeds te kenne gegee dat hulle sy en sy seun, Hunter, se rol in die Oekraïne-kwessie gaan ondersoek.

Daar is ewenwel ’n Demokratiese buiteperd wat ’n mens moet dophou – die miljardêr Michael Bloomberg.

Dis irrelevant dat daar geen enkele sprankie getuienis teen hulle is nie – in die felheid van die polarisasie in die land is dit genoeg dat selfs net ’n bietjie van die modder waarmee hulle bestook word, vassit. En, wie weet, dalk lewer die ondersoek nog iets op ook.

Die verrassing in Iowa was die jong Buttigieg (38), ’n gematigde politikus met ’n vars uitstraling. Sy probleem is dat hy gay is, en dis ’n ope vraag of Amerika al gereed daarvoor is.

Indien die Demokrate se keuse uiteindelik op Sanders of Warren – albei uiters links – val, kan die verkiesing net sowel gekanselleer word, want dan is Trump se herverkiesing ’n uitgemaakte saak.

Wat ook nie help nie, is die verdeelde indruk wat die Demokrate skep teenoor die eensgesindheid van die Republikeine.

Daar is ewenwel ’n Demokratiese buiteperd wat ’n mens moet dophou – die miljardêr Michael Bloomberg.

Hy was ’n baie suksesvolle burgemeester van New York en is vele male ryker as Trump. Hy weier om ’n sent vir sy veldtog te aanvaar en betaal alles self.

Dit kan net wees dat hy almal verras.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Kandidate  |  Senaat  |  Wêreldburger  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.