Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Net die toekoms kan Winnie beoordeel

Die emosie wat die afgelope weke deur Winnie Madikizela-Mandela se afsterwe en begrafnis ontketen is, het weer gewys hoe lewend die verlede vir ons is. Dit was onmoontlik om by te hou met al die reaksies op haar lewe en haar nalatenskap.

Wat egter opvallend is, is die mate waarin daar met haar kompleksiteit geworstel is. Dit was in skrille kontras met vele ander struggle-helde en -heldinne, en dit was ’n weerspieëling van die mens hier ter sprake.

Ek kan my nie herinner dat daar in die onlangse verlede met die afsterwe van enige ander struggle-figuur só fel gedebatteer is oor die persoon se betrokkenheid by die minder aangename elemente van die vryheidstryd nie.

Kommentator op kommentator het op haar veelkantigheid gewys, selfs al het hulle die wind van voor gekry.

Haar bewonderaars se pogings om haar kompleksiteit weg te poets, dui onder meer op ons samelewing se ongemak met komplekse figure.

Die drang om mense as goed of sleg te kategoriseer bly onblusbaar. Dit dui ook op ’n versugting na helde – veral helde vir die post-Nelson Mandela- en #Rhodes­MustFall-generasie.

Vir dié geslag versinnebeeld Madikizela-Mandela hul ontnugtering met die onderhandelde oorgang, hul woede oor die apartheidsverlede en die voortslepende vernedering wat ons land se kroniese ongelykheid meebring.

Waar Nelson vergewe het, het Madikizela-Mandela geleer om te haat.

Waar Nelson vergewe het, het Madikizela-Mandela geleer om te haat.

’n Mens kan jouself afvra wat die verskil is tussen iemand soos Madikizela-Mandela, wat die binnelandse stryd fel beleef het, en diegene wat die ergste geweld op Robbeneiland en in die buiteland ontkom het.

Dit is weliswaar ook nie iets wat die nuwe geslag meegemaak het nie, maar hulle vind duidelik aanklank by ’n figuur soos Madikizela-Mandela: Iemand wat nie weggedeins het van woede nie, en wat ’n skerper skeidslyn tussen vriend en vyand getrek het.

Wat die verering van Madikizela-Mandela egter doen, is om haar menslikheid eenkant te skuif en van haar ’n simbool te maak. Wat sy verteenwoordig, is belangriker as wie sy was.

Dit is interessant om die vergelyking te tref tussen Madikizela-Mandela as “moeder van die nasie” en die Afrikaner-volksmoeder van ouds. Dink aan hoe die lyding van vroue en kinders in die Anglo-Boereoorlog se konsentrasiekampe verhef is om Afrikaner-nasionalisme in die 20ste eeu aan te vuur, en dink aan die verhale van vroue wat hul mans terug slagveld toe gejaag het, eerder as om die stryd op te sê.

In albei gevalle is daar van vroue se kompleksiteit vergeet, en is simbole van hulle gemaak.

In albei gevalle is daar van vroue se kompleksiteit vergeet, en is simbole van hulle gemaak – simbole wat noodwendig wentel om moederskap (hoewel die simboliek van moederskap ook in albei gevalle deur vroue self aangegryp is om politieke legitimiteit te verkry).

Ek glo egter dat toekomstige historici meer genuanseerd oor haar sal skryf. Vir historici is die afstand van tyd belangrik, en dit is iets wat ons nie tans het nie. Vir historici gaan dit ook daaroor om historiese figure in eie reg te bestudeer, pleks daarvan om hulle deur die lens van die hede te beoordeel.

Toekomstige historici sal ook probeer om Madikizela-Mandela in die konteks van haar tyd te plaas. Hulle sal probeer verstaan hoe haar omstandighede haar geslyp het, en hoe haar karakter oor tyd verander het en omvorm is.

Dit sal belangrik wees om uit te pluis hoe sy die wêreld om haar beskou het, hoe sy haarself gesien het, en hoe ander haar gesien het.

Om hierdie era in ons geskiedenis, met al sy morsigheid te begryp, sal dit nodig wees om moeilike figure soos Madikizela-Mandela te verstaan. ) Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Meer oor:  Winnie Madikizela-Mandela  |  Lindie Koorts  |  Toekoms  |  Politiek  |  Geskiedenis  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.