Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Net kru ras-nasionalisme
Julius Malema, EFF-leier, in Maart vanjaar by ’n EFF-saamtrek in Port Elizabeth Foto: lulama zenzile

Die EFF was kastig oudpres. Jacob Zuma se grootste vyand, maar hulle is stilletjies besig om sy ondermyning van ons demokrasie voort te sit.

Hulle neem oor waar Bell Pottinger opgehou het.

Toe ek in die jare sestig op die Vrystaatse platteland grootgeword het, het ek die Swart Gevaar met my oggendpap ingekry.

Dit was die kru boodskap van elke dominee, onderwyser en politikus: Ons moet die barbare uithou, want hulle gaan ons verswelg.

Dit het gewerk. Vir die drie dekades daarna het die oorweldigende meerderheid wit Suid-Afrikaners vir ’n ideologie gestem wat wit mense boaan die piramide gehou het.

Dit was lekker om in die Verwoerd-jare ’n Afrikaner te wees, en dit was voordelig om jou Afrikanerskap soos ’n skoolwapen op jou baadjie te dra.

’n Doodsteek vir jou sosiale status was om as “sag op die swartes” of ’n “k****rboetie” genoem te word.

Al wat jy moes doen, is om harder as die volgende ou die edelheid van die Afrikanervolk te besing en skerper teen die gevaarlike swart hordes te waarsku.

’n Doodsteek vir jou sosiale status was om as “sag op die swartes” of ’n “k****rboetie” genoem te word.

Ek rakel al dié nare goggas op omdat ek nou weer dieselfde kru ras-nasionalisme sien ontwikkel, dieselfde oproep op die mens se mees basiese instinkte.

Die populistiese EFF het duidelik besluit om ras sy primêre verkiesingskreet te maak. Nie net anti-wit nie, maar ook anti-Indiër, anti-bruin en ’n verheerliking van swart Afrikane.

(Die EFF se nasionale woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, het verlede week op Twitter die B-woord gebruik om te verduidelik wat hulle met swart of “African” bedoel: “Bantoe-leierskap” moenie ondermyn word nie, het hy getwiet.)

Swart mense verteenwoordig 80,5% van ons bevolking. Dit was húlle waarvan die ANC in sy ou motto gesê het dat hulle “black ­

people in general and Africans in particular” wou bevry.

Hulle is kwansuis die ware Afrikane; die res van ons is aangenaaide lappies.

Hulle is kwansuis die ware Afrikane; die res van ons is aangenaaide lappies.

Dit is dan ook reg en goed so dat swart Afrikane (want ek hou vol daar is ook wit, bruin en Indiër-Afrikane) verreweg meer getalryk in posisies van openbare en politieke leierskap is.

Dat hulle heeltemal onderverteenwoordig is in die ekonomie en sakelewe, is een van ons grootste uitdagings.

Maar ons geskiedenis en bevolkingsamestelling is wat ons gans anders as al die ander state in sub-Sahara-Afrika maak.

Die “kolonialiste” wat uit Europa hier aangekom het, het nie soos hul eweknieë elders in Afrika ná Uhuru teruggetrek Europa toe nie. Hulle het inheems geword.

Hulle moet die EFF streng teregwys elke keer as dié nuwe ras­chauvinisme sy kop uitsteek.

Die bruin mense, nou op 8,8% van die bevolking meer getalryk as wit mense, is meestal die afstammelinge van die Khoi en die San, die sowat 63 000 slawe wat tussen 1652 en 1808 na die Kaap gebring is, en ’n vermenging van al die groepe in die land.

Die 2,5% Indiese Suid-Afrikaners is meestal die afstammelinge van inboekelinge of gedwonge arbeiders wat vanaf 1860 na Suid-Afrika gebring is.

Die fondament van ons demokratiese staat wat in 1994 tot stand gekom het, is ’n erkenning van dié werklikhede. Dít is wie ons as ’n nasie is.

Om die 80% nou tot meerdere burgers bó die ander 20% te wil verhef, is om dié fondament te ondergrawe wat uiteindelik die hele konstruksie kan laat intuimel.

Suid-Afrikaners wat ’n beter toekoms vir hulle en hul kinders wil sien, moet drie goed doen:

  • Hulle moet die EFF streng teregwys elke keer as dié nuwe ras­chauvinisme sy kop uitsteek;
  • Hulle moet daarvoor werk dat die armoede en agtergeblewenheid van so baie swart Afrikane spoedig uitgewis word; en
  • Hulle moet elke vorm van rassisme in eie geledere met wortel en tak uitroei.
Meer oor:  Nasionalisme  |  Politiek  |  Anc  |  Rassisme  |  Eff  |  Oorlewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.