Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Net ’n begin van al groter dinge?
Leopold Scholtz

Dis uiters interessant dat die VF Plus nou vir Peter Marais vorentoe skuif as sy premierskandidaat in die Wes-Kaap. Dit wys dat die Afrikanerpolitiek – want die VF Plus is immers steeds hoofsaaklik ’n party wat deur wit Afrikaners gesteun word – positief ontwikkel.

Helaas het wit Afrikaners en hul bruin taalgenote tradisioneel ’n haat-liefde-verhouding.

In die laat 19de en vroeë 20ste eeu was daar ’n vlietende oomblik wat op ’n duursame versoening tussen die twee groepe kon uitgeloop het, maar verskeie faktore het dit laat misluk.

Grondliggend aan alles was die erfenis van slawerny en die gepaardgaande haas onoorbrugbare klasseverskil tussen wit en bruin, iets wat selfs op kerklike vlak neerslag gevind het. Dis versterk deur die opkomende Afrikanernasionalisme, wat die Afrikaners in-waarts laat keer en buitestanders (en dus ook bruin mense) uitgesluit het.

Die feit dat die destydse bruin elite doelbewus verengels en neergesien het op alles wat Afrikaans was, het nie gehelp nie. En toe kom apartheid, die Ontugwet, Groepsgebiede en al die intense vernederings wat daarmee saamgehang het. Baie sterk opgesom, is dít die belangrikste redes waarom wit en bruin Afrikaanssprekendes mekaar – in elk geval tot 1990 – nie mooi kon vind nie.

Daar wás leidende Afrikaners (’n mens dink byvoorbeeld aan N.P. van Wyk Louw, Jaap Durand en David Botha) wat ’n duursame versoening bepleit het, maar die politici van die tyd was oorwegend nie ryp daarvoor nie.

Maar ofskoon die meeste van hulle die DA met hul verstand aangehang het, het hy hul harte nooit verower nie.

In dié opsig was 1990 ’n waterskeiding. Die belangrikste historiese draer van die Afrikanernasionalisme, die Nasionale Party (NP), het toe apartheid afgeskaf en sy lidmaatskap vir alle Suid-Afrikaners oopgestel.

Teen 1994 het bruin mense oorweldigend vir dié party gestem. Dat die party daarna uiteengeval het, het niks met die bruin-wit-kwessie te make gehad nie, maar was te wyte aan ’n aantal leiers sonder gewete en moraliteit wat eerloos in die ANC beland het. Ná die einde van die NP het die meeste Afrikaners en bruin mense vir die DA gestem.

Maar ofskoon die meeste van hulle die DA met hul verstand aangehang het, het hy hul harte nooit verower nie.

Nou oor na die VF Plus. Dié party se voorouer is die Konserwatiewe Party (KP), ’n groep wat onbeskaamd rassisties was en die afskaffing van apartheid met hand en tand beveg het. Maar tye verander. Net soos Solidariteit uit die ekstreemregse Mynwerkersunie voortgespruit, maar verder ontwikkel het, kan die VF Plus nie meer die “sonde” van sy voorouers verwyt word nie.

Ek laat my nie uit oor die opregtheid van sowel die VF Plus as Marais nie.

Wat wel steeds waar is, is dat die VF Plus hom tot dusver hoofsaaklik op wit Afrikaners gerig het, maar sonder om apartheid of rassisme te verdedig.

Die vorige leier, dr. Pieter Mulder, het daarin geslaag om die party met sy aanhangers na die beskaafde politieke sentrum saam te sleep.

Nou word ’n verdere stap gedoen. In ’n onderhoud het Peter Marais vertel hy dat die VF Plus hom al in 2014 gevra het om die party se Wes-Kaapse premierskandidaat te wees. Hy het dit van die hand gewys, want hy was nie daarvan oortuig dat “die bedoeling toenadering op ’n breër vlak tussen bruin en wit Afrikaanses is nie”.

Hy is nou wel daarvan oortuig. ’n Bruin premierskandidaat van die party wat in die praktyk die mantel van die moderne Afrikanernasionalisme dra – dít is ’n opmerklike ontwikkeling.

Ek laat my nie uit oor die opregtheid van sowel die VF Plus as Marais nie. Wat hier belangrik is, is die simboliek van die saak, van die verdere stap in die versoening tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes. Mag dit die begin van groter dinge wees.

Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Vf Plus  |  Peter Marais  |  Premier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.