Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Net sorgsame gebruik keer taalverarming

Dis werklik indrukwekkend. Dit wat ’n mens van jou moedertaal weet. Hoe jy dinge wat jy waarneem, jou gewaarwordinge daaromtrent, tot in die fynste besonderhede in jou taal kan verwoord.

Dit is die onderwerp van ’n nuwe boek deur die Nederlandse taalkundige-joernalis Liesbeth Koenen: Wat je zegt, gaat vanzelf. “So gaan dit met taal: Jy weet nie wat jy weet nie, en dat jy dit nie weet nie, weet jy óók nie.”

Jana Luther

Sondag luister ek na Liesbeth op YouTube. Net so, dink ek. Onbuigsame voorskrifte, puntenerigheid skrik taalgebruikers af. Hoekom fokus ons gedurig op die praat- en skryffoute wat moedertaalsprekers maak?

Waarop ons moet wys, is hoeveel gewone taalgebruikers rééds weet, wat hulle vanself goed kan doen, hoe bevredigend dit is om goed met taal te werk.

Moenie bang wees om te skryf nie, moet ons sê. Jy kan aanvoel of ’n sin goed is of nie. Ons kan oor spelfoute praat, maar spelling is net ’n klein onderdeel van die taalkennis waaroor jy beskik. Nes Liesbeth, vind ek die gedurige gehamer op foute soms erg vervelend.

Van die vroegste tye af voel ouer geslagte jonger geslagte laat die taal agteruitgaan. Jong mense? Hulle is onbesorg. Hulle stel belang in wat hulle weet en wat hulle kan doen; is nie bang om hul taal te gebruik nie.

Dis tog wat ons wil hê? Dat ’n mens in jou taal kreatief kan wees; dat jy mooi dinge in jou taal kan doen.

Wanneer iemand ’n taalvraag vra, probeer ek antwoord, maar probeer in die reël vroliker skryf. As woordeboekmaker is ek deurentyd van die rykdom en seggingskrag van Afrikaans bewus. Daarin wil ek my verdiep.

Daarom lees, lees, lees ek, luister ek, swerf ek op die internet rond.

Maandag vertoef ek op my musiekstromingsdiens se Wat is nuut?-blad. Ek blaai deur die jongste Afrikaanse vrystellings. Heeloggend luister ek, lees ek lirieke.

Blouwildebliksemsfontein. Bekentenis: Ek doen dit nie gereeld nie.

Op 1 November 1993 skryf wyle Johan Spies in sy laaste Taalgereedskap-rubriek: “Ons het al ons regte Afrikaners gehad, daar in 1870, maar ons is nie altyd so seker waar en wanneer ons met regte Afrikaans te doen het nie.”

Vergun my dus dié aanhaling van enkele voorbeelde – saamgestring uit verskillende liedtekste, maar die woorde presies soos hulle daar staan:

“Ons gaan groot gaan . . . Die sonsak is oranje . . . Saam die manne gestaan in ’n kring . . . waar die miskiete op ’n streep van die koue verkleim . . . Ek kan nie glo dat jy is so stout nie . . . Te veel keur gekies teen rede en verstand . . . Onthou ek het nie veel nie, maar jy kan alles vat. Tweedehandse woorde . . . Is jy die een wat die vakkel dra? . . . Staan op uit die as uit steek jou vakkel aan. Huis ’n vlag uit jou hart uit. Jys afrikaans . . . di henuwee, di henuwee [die Here weet].”

Taalverarming sal nie deur wette of voorskrifte of watter instansie ook al gekeer word nie; net deur sorgsame taalgebruikers self met respek vir hul taal.

Meer oor:  Jana Luther  |  Taalverarming  |  Woordwisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.