Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
NG Kerk ‘moet uitreik’

Dr. André Bartlett, moderator van die NG Kerk se Sinode Hoëveld, was onlangs op ‘n toer van die antieke Christelike gemeentes in Turkye. Daar het sy pad met Barnard Beukman gekruis en hy het ingewillig om ‘n paar vrae te beantwoord.

Bartlett by die opgrawings van ’n Christelike kerk in Laodikeia, ’n antieke Turkse stad waar ook ’n nuwe testamentiese gemeente was. Foto’s: Barnard beukman

As jy so op die spoor van die eerste Christelike gemeentes beweeg, kry jy genoeg om te weet dat die Christelike geloof nie net ook een groot mitologie is nie?

As mens hier beweeg word dit vir my ‘n konkrete werklikheid en mens kry die gevoel hoe mense in die eerste geslag na Christus reeds met hierdie geloofswerklikheid in hul dorpies geleef het en gemeenskappe gevorm het. Dit was duidelik meer as net ‘n mite waarmee hulle op loop gegaan het, maar ‘n diep geloofswerklikheid wat uitdrukking gekry het in hierdie gemeenskappe. Die wete dat die Christelike godsdiens nie bloot ‘n idee is wat bo die werklikheid sweef en in mense se koppe is nie, maar ‘n werklikheid is, word altyd vir my meer konkreet deur sulke plekke te besoek. Hier was Christene wat ‘n verskil gemaak het deur hul geloof en swaar gekry het as gevolg van hul geloof. Dit is meer as inkoop by ‘n mite, maar eerder inkoop by ‘n manier van leef en kyk na die lewe. In ‘n sin is dit vir my versterkend.

Wat put jy uit die rol wat die antieke gemeentes destyds gespeel het?

Mens besef weer die kerk was op sy beste as godsdienstige minderheidsbeweging. Waar jy geweet het daar is druk en die toets word aan jou gestel om bereid te wees om die koste dra om as minderheid ‘n betekenisvolle rol te speel. Maar dit is ook tragies dat die kerk se spore op plekke doodgevee is. En dit wys die kerk kan nooit met selfgenoegsaamheid agteroor sit en sê ons is God se mense en daarom sal ons altyd hier wees nie. Dit bly dus ‘n verantwoordlikheid oor wat gedoen moet word om kontinuteit van die beweging te verseker. Dit laat my ook dink dat ons in die NG Kerk nog soms sit met die nagloed van toe ons ‘n groot en invloedryke kerk was en met ‘n selfversekerdheid in die agterkop dat ons altyd daar sal wees en ‘n verskil maak. Dit voel vir my die soort storie daag mens uit om ernstig te dink oor wat dit beteken om ‘n kleiner kerk te wees, maar om steeds betekenisvol te wees.

Opgrawings van die antieke Laodikeia.

Het die instelling van ‘n kerk nog ‘n rol? Baie mense voel hulle leef hul Christenskap sinvol buite ‘n kerk uit.

Daar moet altyd ‘n balans wees. David Bosch, die sendingkundige, het gesê ‘n balans tussen die beweging en die instituut is nodig. Die Christelike kerk was eers ‘n beweging, maar om in kontinuteit voort te bestaan is ‘n mate van institusionele strukture nodig, anders kan dit iets wees wat opbloei en dan weer in die sand wegloop. Die gevaar bestaan dat die balans versteur kan word deur grootliks te verskuif na die instandhouding van strukture en dit het in die kerk wêreldwyd gebeur. Kyk net hoe moeilik is dit vir die Katolieke Kerk om hervormings aan te bring omdat die instelling te groot, swaar en onbeweeglik is. Die uitdaging is om te sê ja, daar moet altyd ‘n vorm van institusionalisering wees, maar dit moet nooit die kerk laat ophou om ‘n beweging te wees nie. Dit is tot ‘n mate die worsteling van kerke wêreldwyd dat mense toenemend weerstand bied teen institusionalisering. Ek dink met reg ook, as die kerklike institute te swaar op die geloofsgemeenskap en gemeentes druk. Dan is daar iewers fout, want dan verloor die kerk sy karakter as beweging. Dan moet mens weer krities daarna kyk en in ‘n sin word met mens uitgedaag deur die eerste klein gemeentjies wat deel was van ‘n Christus-beweging. Met tyd het dit meer struktuur gekry wat ook goed was, want daar was ‘n mate van organisasie nodig. Maar op ‘n punt het dit waarskynlik ‘n te groot instituut geword. En so ‘n instituut is altyd baie kwesbaar. Toe die groot veranderinge in Turkye gekom het van ‘n Christelike staat na ‘n Moslemstaat, was die instituut skielik kwesbaar en kon nie die verandering navigeer nie, terwyl ‘n beweging eintlik meer vloeibaar is en makliker die aanpassing kan maak. In ‘n wêreld waarin daar vandag toenemend weerstand is teen institusionalisering en waar die kerk in ‘n sekulere samelewing al hoe meer krities bekyk word, is die uitdaging om te bepaal hoe funksioneer ons in die eerste plek as ‘n beweging, maar met die nodige struktuur om nie ‘n vlietende ietsie vir die oomblik te wees nie.

Wanneer jy as Hoëveldse moderator in jou streek beweeg, wat hoor jy van lidmate se behoeftes en hoe reageer jy daarop?

Wat ek hoor is dat mense minder hul kerkverband wil beleef as kerklike strukture wat in stand gehou moet word om een of ander rede. Daar is eerder ‘n behoefte om onderlinge ondersteuning van die kerk te kry. Gemeentes kry toenemend swaar, word kleiner, het minder invloed en kry finansieel swaar. Daar is ‘n behoefte dat iemand moet kom sit en luister wat is ons behoeftes op grondvlak is en waarmee geworstel word. En hoe ons mekaar daarmee kan help. Die gevaar is dat ‘n kerk onder druk na binne kan keer en dit gebeur plek-plek. Dit daag die kerkleierskap uit om te sê mense moet nie net na binne gekeer wees nie, maar eerder daarop gerig wees om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Baie gemeentes is gereed daarvoor en sien hul rol so. Hulle vra hulp hoe hulle dit moet doen, om hoorbaar te wees en die nodige kontak te maak. Die Hoëveldse sinode sien sy rol om gemeentes te help om sinvol gemeente te wees op grondvlak en so ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Deel van die uitdaging is om vir gemeentes te vra om aan nuwe bedieningsmodelle te dink en nuwe maniere van hoe om gemeente te wees – moenie dink dinge gaan vir altyd wees soos dit nou is of weer terugkeer na hoe dit voorheen was nie.

Jy meen dus die NG Kerk kan nog gered word?

Persoonlik dink ek so, maar op ‘n aangepaste manier. Die NG Kerk sal nog baie meer as tans homself as deel van die groter kerklike beweging moet sien en baie meer ekumenies moet saamwerk. Nie net op die vlak van kerklike verband nie, maar ook op plaaslike vlak sal gemeenstes hande moet vat met ander Christelike gemeenskappe. Die NG kerk dra nog aan die bagasie van die verlede - en alhoewel baie daarvan al weggewerk is – moet iets daaromtrent gedoen word. Ons kan nie kan nie in ‘n land soos Suid-Afrika in ‘n wit enklawe voortbestaan nie. En ek weet dit is vir mense moeilik. Hulle voel dat hul Afrikaanse identiteit onder druk kom en sommige lidmate meen die kerk moet as bolwerk help om die druk op hul identeiteit te weerstaan. Gemeentes en lidmate moet gehelp word om met groter selfvertroue die groter gemeenskap te betree. Die kerk gaan nie impak maak op die samelewing as daar as wit groepie op die kantlyn gestaan word nie. Ons kan die mooiste goed sê en die beste projekte aanpak, maar daar gaan ‘n stuk geloofwaardigheid wees wat ontbreek. Lidmate moet ’n gevoel kry al is hul kerk kleiner, is dit ‘n betekenisvolle kerk. Dan sal lidmate voel dit is relevant en dit help hulle om hul plek in die alledaagse lewe te vind. Ek is optimisties oor die toekoms, maar daar is gevaartekens as mens gaan vasval en nie die uitdaging aanvaar om werklik kerk vir die mense van Suid-Afrika te wees nie. As ons dit nie gaan doen nie kan die kerk inplof. Dus kerk van Here, maar ook vir die mense van Suid-Afrika. Nie net vir ‘n deel van die mense nie – ons wil die hele samelewing tot heil wees.

  • Beukman is redakteur van Beeld
Meer oor:  Moderator  |  Hervorming  |  Kerk  |  Ngk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.