Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
NGV is te vroeg en te ambisieus
Judith February
Judith February.

Die land is in die greep van diep wanhoop. Miskien is dit aangehelp deur die onlangse werkloosheidsyfer van 29%. Dan is daar ook Eskom en die miljarde wat ons vertel word nodig is om die ligte aan te hou.

Gerugte oor ’n reddingsboei deur die IMF en die rampspoedige voorwaardes en gevolge daarvan word ook nie meer net gefluister nie.

Natuurlik is dinge altyd meer ge­nuanseerd en kompleks as die jongste twiets en swartgallige mediaberigte. Die punt is egter dat die staat in ’n krisis verkeer – en ons vind elke dag uit hoe diep die verrotting is. Maar dit is beter om te weet as om nie te weet nie.

Dit is ook beter om Cyril Ramaphosa te hê om ons uit die gat te probeer grawe as Jacob Zuma of die “radikale ekonomiese transformeerders” wat ons in ’n dieper gat probeer ingrawe. Die hervormingsproses is ’n langtermynprojek.

Toe Zweli Mkhize, minister van gesondheid, onlangs die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) onthul het, het die parallelle wêreld waarin die ANC soms leef, na ’n werklikheid gevoel. Die res van ons soek vir enige teken van ekonomiese groei en lig aan die einde van die tonnel (wat daar is, dit vat net ’n bietjie moeite om dit te sien).

Net 16% van Suid-Afrikaners het toegang tot ’n private mediese fonds en die meeste van die burgers is aan ’n gebroke stelsel onderwerp.

Net 16% van Suid-Afrikaners het toegang tot ’n private mediese fonds en die meeste van die burgers is aan ’n gebroke stelsel onderwerp. Dit is onhoudbaar en onregverdig. Die reg tot gesondheidsorg is ’n grondwetlike reg en die armstes van die armes ly weens die ongeërgdheid van die staat.

Dit beteken nie dat daar nie goeie vordering of plek-plek behoorlike gesondheidsorg in die staat is nie. Dieselfde geld dokters en personeel wat in die stelsel is. Hulle werk egter teen die oormag onder onhoudbare omstandighede.

So kom die politici toe met die NGV aangesit. Hulle sê die NGV moet ongeag die huidige ekonomiese klimaat in werking gestel word. Maak geen fout nie – dit is ’n Herkuleaanse onderneming.

Gedurende die NGV-loodsprojek was daar in baie gevalle mislukking weens ’n gebrek aan toewyding, administratiewe kapasiteit, personeel, hulpbronne en natuurlik korrupsie. Maar pleks daarvan om die stelsel verder te toets het die regering besluit om dit in 2026 te implementeer. Wat ons nie weet nie, is waar presies die miljarde vandaan gaan kom om die NGV te finansier en wat presies deur die NGV gedek gaan word.

Die realiteit is dat die huidige stelsel eerder eers reggemaak moet word.

Die staat het gewys hy is onbevoeg om enigiets te bestuur. Wie gaan die NGV-fonds bestuur wat die hele land moet bedien? ’n Oppervlakkige kyk na ons staatsondernemings en die staatsdiens, wat ’n gemors is, wys ons waarheen dit op pad is. Tenderpreneurs lek waarskynlik reeds hul lippe af.

Die realiteit is dat die huidige stelsel eerder eers reggemaak moet word.

Die staat het burgers se vertroue deur amper ’n dekade van ekonomiese wanbestuur en staatskaping vertrap. ’n Bykomende las sonder die nodige kostebepaling en kapasiteit gaan tot net groter frustrasie lei – veral vir die armes.

Boonop gaan die wetgewing byna beslis in die konstitusionele hof draai, gegewe sy potensiële inbreuk op die magte van die provinsies.

Nou is die tyd vir laser-agtige fokus op ekonomiese groei, werkskepping en om verkwistende uitgawes te sny. Los die fantasievlugte vir ’n ander tyd. Kom ons begin klein en maak die gesondheidsorgstelsel verder reg. Die werk hiermee het reeds begin, as deel van die NGV-proses, maar dit is nie genoeg nie.

Wanneer ons weet presies waarmee ons te make het en die ekonomie genoeg gegroei het om te verseker dat ons dit kan bekostig, kan ons begin droom en fyner verstellings aanbring aan gratis gesondheidsorg vir almal.

Vir nou is dit ambisieus net om die skip te laat dryf.

Meer oor:  Ngv  |  Judith February  |  Medies  |  Mediese Fonds  |  Gesondheidsorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.