Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
NGV kan hoop vir SA kankerpasiënte bring

Dinsdag was Wêreldkankerdag met die tema: “Ek is en ek sal.”

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het kanker in 2019 die lewe van ’n geraamde 10,6 miljoen mense wêreldwyd geëis. Baie van dié lewens sou gered kon word met ’n groter klem op voorkoming en diagnosering. As die diagnose vroeg genoeg gedoen is, sou pasiënte meer sekerheid gehad het oor hul opsies, insluitend toegang tot die beskikbare behandelingsopsies.

Dr. Yogan Pillay
Dr. Yogan Pillay.

Daar is in bykans elke land ’n toename in die voorkoms van kanker en gepaardgaande sterftes. Die grootste sterftetoename kom in lae- en middelinkomstelande voor waar sowat 70% van sterftes tans aan kanker toegeskryf word.

Baie kankers kan voorkom word deur slegs jou leefstyl te verander. Risikofaktore vir kanker sluit in rook, alkoholmisbruik, ongesonde eetgewoontes en ’n tekort aan fisieke aktiwiteite. Die kos- en drankbedryf kan ’n bydrae lewer deur ’n omgewing te skep wat gesonde eetgewoontes bevorder.

Die werklikheid oor kanker is dat die meeste mense sterf omdat hulle nie toegang tot behandeling het nie. Dit kan wees omdat dit nie maklik beskikbaar is in sekere gebiede nie of dat dit bloot nie bekostigbaar is nie.

Kanker word steeds beskou as een van die insiggewendste voorbeelde van ongelyke gesondheidsorg. Toegang tot noodsaaklike kankerdienste word gekenmerk deur beduidende ongelykheid. En dít geld oral ter wêreld. In welvarende lande is daar veel groter toegang tot noodsaaklike behandelingsopsies vir kankerpasiënte (chirurgie, bestraling en noodsaaklike medisyne) as in lae- en middelinkomstelande.

Suid-Afrika gaan steeds gebuk onder een van die blywendste strukturele nalatenskappe van apartheid: ’n tweevlak-gesondheidstelsel. Dit speel ’n kernrol in kankersterftes. Die instelling van ’n Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) kan beskou word as ’n kritieke stap om dit aan te pak.

Die meeste onkoloë en bestralingsapparatuur is net in die private sektor – vir pasiënte wat dit kan bekostig – beskikbaar.

Toegang tot behandeling en versorging laat pasiënte en hul families geldelik baie swaar trek.

Wat NGV voorstel, is dat alle geld in een pot gesit word. Dit sal belê kan word in die inwerkingstelling van voorkomingstrategieë, vroeë diagnosering en doeltreffende kankerbehandelingsopsies vir álle Suid-Afrikaners. Dit sal beteken dat álmal toegang het tot alle gesondheidsbronne in die openbare en die private sektor, wat billike toegang tot gesondheidsorg sal verseker.

Daar is ’n noue verband tussen ’n land se ekonomie en die gesondheid van sy mense. Deur die gesondheidstelsel te versterk, is ons verseker van ’n gesonder bevolking en ekonomie.

Die jongste globale data toon die geraamde jaarlikse ekonomiese koste van kanker bedra reeds $1 160 miljard. Die verlies aan produktiwiteit weens voor­tydige kankersterftes in die Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika), bedra reeds meer as $46 miljard. Beter toegang tot gesondheidsdienste sal talle sterftes kan voorkom.

Toegang tot behandeling en versorging laat pasiënte en hul families geldelik baie swaar trek. Met die toename in kanker in Suid-Afrika is daar groter fisieke, emosionele en geldelike druk op individue, families en die gesondheidsdienste.

NGV het nie net ten doel om noodsaaklike gesondheidsorgdienste van gehalte te voorsien nie, maar ook om toegang te verseker tot veilige, bekostigbare en noodsaaklike medisyne en entstowwe wat kankerverwante sterftes in ’n ongelyke samelewing kan verminder.

Gepaard met optrede en ondersteuning op nasionale vlak, beteken dit ’n beter kans op oorlewing vir almal – ryk of arm. Dit kan die lewe van miljoene mense met kanker verander.

Dr. Pillay is adjunk-direkteur-generaal van gesondheid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.