SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
NGV lyk ál meer na ’n duur gifpil
Henry Jeffreys
Henry Jeffreys

Baie mense sal saamstem dat die oogmerke van die beplande nasionale gesondheidsversekering (NGV) verdienstelik is, maar net so baie sal graag oortuig wil word dat dit prakties haalbaar is en, belangriker, dat die land dit kan bekostig.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het verlede week die eerste wetgewing oor die inwerkingstelling van die NGV bekendgestel. Dit is begroet met rooi vlae en skerp vrae oor die wysheid daarvan.

Die verwagting is dat die NGV belastingbetalers meer as R250 miljard per jaar gaan kos. Die te stigte NVG sal baie groter en duurder wees as Eskom, en word beskou as ’n ideale teiken vir staatskaping en burokratiese wanbestuur. Die regering en die ANC blyk egter vasberade te wees om daarmee deur te druk, nieteenstaande al die ingeligte en kundige waarskuwings daarteen.

Mkhize se voorgestelde wetgewing is baie vaag oor hoe dit gefinansier gaan word. Sy voorganger en pa van die idee, Aaron Motsoaledi (nou minister van binnelandse sake), het die idee met ’n gladde mond verkoop soos ’n wafferse slangolie-verkoopsman. Oor die finansiering het hy dikwels vaagweg daarop gewys dat daar van “ryk” Suid-Afrikaners verwag sal word om hul behoeftige landgenote te subsidieer.

Met ander woorde, vat van die gegoedes en gee vir die armes, in tipiese Robin Hood-styl. Dit beteken selfs méér belasting sal gehef word op ’n reeds klein groepie belastingbetalers.

Nog iets waaroor die voorgestelde wetgewing vaag is, is die uitwerking wat die NGV op private verskaffers van gesondheidsdienste gaan hê.

Nog iets waaroor die voorgestelde wetgewing vaag is, is die uitwerking wat die NGV op private verskaffers van gesondheidsdienste gaan hê.

Die verwagting is dat die NGV dalk die einde van die goed ontwikkelde private gesondheidsektor in Suid-Afrika kan meebring. Ons private gesondheidsdienste is nie sonder probleme nie, maar ons hoef nie die baba saam met die badwater uit te gooi nie.

Die NGV kan lei tot ’n grootskeepse uittog van mediese kundiges soos dokters, verpleegsters en spesialiste. Die land kan dit kwalik bekostig, veral in die lig van reeds bestaande tekorte.

Die ANC het duidelik ’n broertjie dood aan private oplossings vir komplekse nasionale uitdagings. Die party glo dat nasionale probleme net deur die staat opgelos kan word, nieteenstaande die talle voorbeelde van hoe die staat sukkel om groot nasionale uitdagings suksesvol te pak. Eskom is ’n jammerlike en duur voorbeeld hiervan.

Dié soort denke oor die NGV is gevestig in die ANC se uitgediende verknogtheid aan sosialisme en kommunisme.

Dié soort denke oor die NGV is gevestig in die ANC se uitgediende verknogtheid aan sosialisme en kommunisme. Hier kan die ANC leer by China, die wêreld se tweede grootste ekonomie.

Die Chinese staat word nog deur die Chinese kommunistiese party beheer, maar die land is ’n goeie voorbeeld van hoe die private sektor se betrokkenheid kan help om ekonomiese voorspoed te bring en miljoene mense uit armoede te lig. Moet my nie verkeerd verstaan nie. China is steeds polities ’n wrede diktatuur geskoei op uitgediende idees van sosialisme en kommunisme.

Die grootste uitdaging vir pres. Xi Jinping en sy kamerade is hoe om te keer dat die ekonomiese vryhede en suksesse in China die onderdrukkende politiek oorspoel en dit uiteindelik oorweldig. Dit is onwaarskynlik dat hulle hul mense se natuurlike versugting vir politieke vryhede vir altyd sal kan onderdruk.

Die NGV gaan Suid-Afrikaners se reg om eie keuses te maak oor hul mediese sorg wegneem. Dit lyk en klink alte veel na ’n katastrofe wat net wag om te gebeur, een baie erger as Eskom.

Soos een hoofopskrif in ’n Sondagkoerant dit die afgelope naweek gestel het: “Die NVG is ’n gifpil wat Suid-Afrika armer en nie gesonder nie sal los.”

Inderdaad.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Mediese Sorg  |  Nvg  |  Mediese Fonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.