Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nico Botha: Het die kerk vroue in die steek gelaat?

Die kerk is ’n baie groot sondaar as dit oor die voortgesette onderdrukking van vroue in die samelewing gaan, skryf Nico Botha.

Is die kerk die ware sondaar wanneer dit by onderdrukking van vroue kom?

Vrouemaand in Suid-Afrika is geruisloos verby. ’n Mens wonder elke jaar of daar iets bereik word met die spesiale veldtog teen geweld teen vroue, behalwe dat dit belangrik is om die kwessie steeds op die nasionale agenda te hou. Nie omdat dit ’n modegier is nie, maar die werklike kwaliteit van ons samelewing hang af van wat met sekere groepe mense, soos vroue, gebeur. Of dit meisies van 12, 13 jaar oud is wat deur ou mans gemolesteer en verkrag word en of dit ’n ryk vrou is wat onder verdagte omstandighede in ’n spoghotel sterf – die nasie behoort erg bekommerd te wees oor wat vroue in ons samelewing aangedoen word.

Maar ek skryf hier as ’n man en daarom is dit gepas om net eers te bely dat ek nie my aandeel aan ’n manlik- gedomineerde samelewing en my gepaardgaande bevoorregting kan ontken nie.

Al probeer ek hard om tuis my hande in die skottelgoedwater te steek en vir die gesinslede tee aan te dra, verander dit weinig aan die hardnekkige patriargale stelsel waar mans die kitaar slaan. Hierdie soort belydenisse is natuurlik ook gevaarlik, omdat dit vroue potensieel kan ontwapen en dalk laat voel dat hulle nie te fel in hulle kritiek teen seksisme moet wees nie.

Die kerk is ’n baie groot sondaar as dit oor die voortgesette onderdrukking van vroue in die samelewing gaan. Die beskuldiging hier is nie dat die kerk doelbewus en uitgesproke die onderdrukking van vroue bevorder nie. Wat wel waar is, is dat die kerk op ’n onkritiese manier praktyke bevorder wat óf neerkom op die onderdrukking van vroue óf ’n klimaat skep waar mense dalk meen dat dit reg is as vroue uitgeskuif of daar teen hulle gediskrimineer word.

Onbedoeld kan die kerk ’n soort teologiese en morele regverdiging aan die ondergeskikte posisie van vroue gee. Enkele voorbeelde: Die kerklike tugpraktyk waar slegs – in die meeste gevalle steeds – ongehude moeders vir kerklike tug moet aanmeld, skep tog ’n bietjie die indruk dat hulle die eintlike sondebokke is. Dít terwyl die syfers wys dat vroue die getrouste en aktiefste lidmate is. Dis húlle wat dikwels hulle vingers stomp werk vir die instandhouding van die kerk, terwyl hulle van die belangrike besluitnemingsprosesse in die kerk uitgesluit is.

Dat hulle in elk geval nog in baie kerke nie eens tot die preekstoel toegelaat word nie, is ’n skreiende skande.

Is die prentjie in die politiek enigsins anders? Hoewel Suid-Afrika met ’n hele aantal vroue in die politiek in die algemeen en in die parlement en kabinet in besonder spog, ontkom ons nie aan die volgende vraag nie: Verander die teenwoordigheid van vroue in die partypolitiek en in die strukture van die land enigiets aan die heersende patriargale stelsel en die bestaande magsverhoudinge?

Nie dat vroue pionne is nie. En dié stellinkie sou positief of negatief verstaan kon word. Negatief sou ’n mens kon verwys na vroue in redelike sterk posisies in die politiek wat ongelukkig niks anders as lakeie van manlike maghebbers is nie en die manne tot die dood toe sal probeer beskerm. Of hulle doen klakkeloos aan die onderdrukking van ander vroue mee. Wat die ekonomie betref, sou dit interessant wees om ten spyte van die baie komplekse aard van die stelsel vanuit ’n geslagsperspektief daarna te kyk en te sien hoe vroue grotendeels nog maar aan die kortste ent trek.

Daar word in Suid-Afrika lankal reeds van die vervrouliking van werkloosheid en armoede gepraat. Natuurlik kan ’n mens ook nie weer in ’n bondel oor vroue praat nie, veral nie in ’n land soos Suid-Afrika nie.

Die vrou in Mandela Village in Pretoria en haar geslagsgenoot in ’n bevoorregte en gegoede buurt moet beslis nie monomanies gelykgestel word nie.

Hoe maak Jesus met vroue? Die indruk ontstaan dat hy steeds in sy ontmoeting met vroue hard probeer het om die letsels wat die stelsel van Romeinse en godsdienstige onderdrukking veroorsaak het, te hanteer.

Daarom steur hy hom nie aan grense wat deur konvensies en kultuur daargestel is nie. Hy herstel vroue in hul vrouwees en daarom in hul menswees en stuur hulle in vryheid weg.

* Prof. Nico Botha is verbonde aan die departement teologie aan Unisa en ’n tentmaker-leraar in die VGK.

Meer oor:  Vrouemaand  |  Kerk  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.