Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vlugskrif
Nie alle lewens dieselfde geag

In hierdie tye waar daar protesoptogte oor die hele wêreld heen is in solidariteit met die Black Lives Matter-beweging, maak Israel gereed om dele van die Wesoewer te annekseer.

In haar boek The Right to Maim (2017) skryf die Amerikaanse teoretikus Jasbir Puar oor die somer van 2014 toe die Amerikaanse polisie ’n swart man in Ferguson, Missouri, doodgeskiet het.

Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

Terselfdertyd het die Israeliese weermag Operation Protective Edge, die 51 dae lange beleg van die Gazastrook, van stapel gestuur. Wat Puar opmerk, is die ooreenkomste tussen gemilitariseerde beheer van Amerikaanse burgers in Ferguson en die Palestyne in Gaza.

Kort voor lank het “Ferguson tot Gaza”-forums ontstaan wat die weerloosheid van swart mense met die weerloosheid van die Palestyne in Gaza onder Israeliese okkupasie vergelyk het. Wat Ferguson en Gaza in 2014 in gemeen gehad het, was die weerstand van burgers teen gewelddadige beheer van sekere bevolkingsgroepe.

Nou het ons ’n soortgelyke scenario. Dit sal waarskynlik nie lank wees voordat ons “Minneapolis tot Wesoewer”-forums begin sien nie, want daar is tans ’n verhoogde sensitiwiteit teenoor polisie- of weermag-brutaliteit.

Puar se werk is egter ook belangrik danksy haar konsep van “die reg tot verminking”. Volgens haar skiet die Israeliese weermag nie om dood te skiet nie, maar om mense te vermink om hulle sodoende in die toekoms te kan beheer.

Gedurende Operation Protective Edge is 2 131 Palestyne dood (waarvan 501 kinders was), 10 918 mense is beseer (wat 3 312 kinders ingesluit het), 10 589 huise en 244 skole is vernietig.

Die operasie het sowat 80% van die bevolking van Gaza, een van die digsbevolkte gebiede ter wêreld (ook genoem die wêreld se grootste opelug-tronk), sonder toegang tot kos gelaat.

Die “skiet om te vermink”-beleid beteken daar word gemik vir knieë, bene en belangrike organe. Beserings het toegeneem nadat plastiekkoeëls in gebruik geneem is. Hierdie koeëls verhoog die kanse om mense te beseer, maar verlaag die kanse om hulle dood te maak.

Volgens Puar is die strategie duidelik: As daar daagliks tussen 500 en 1 000 Palestyne sterf, sal die wêreldmening teenoor Israel baie negatief raak, maar beserings word selde gerapporteer.

Die “skiet om te vermink”-beleid beteken daar word gemik vir knieë, bene en belangrike organe.

Wat bydra om verminking te vererger is dat Israeliese soldate ook ambulanse voorkeer en mediese spanne toegang tot besette gebiede belet.

Die teiken hier is nie lewe nie, maar weerstand. Ons kan seker wees dat as die anneksasie van die Jordaan-vallei in die Wesoewer (waar daar ongeveer 65 000 Palestyne woon) voortgaan, weerstand deur die Palestyne aansienlik sal toeneem en die “reg om te vermink” universeel op hulle toegepas sal word.

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het die anneksasie ’n ernstige oortreding van internasionale reg genoem. Verder het 1 080 parlementslede van 25 Europese lande in ’n brief gevra dat Israel nie voortgaan nie omdat dit vredespogings in die Midde-Ooste ernstig in die wiele sal ry. Ongeag hierdie teenkanting in Europa ondersteun pres. Donald Trump van Amerika Israel se anneksasie, net soos wat hy die Black Lives Matter-beweging met minagting hanteer.

’n Mens wonder oor Israel se tydsberekening. Is dit omdat die wêreld se aandag op die Covid-19-pandemie of die Black Lives Matter-protesoptogte gefokus is, of gee Israel eenvoudig nie om hoe sy aksies geïnterpreteer word nie?

Wat die laaste paar weke ná George Floyd se dood ons wys, is dat daar lewens is wat minder geag word as ander. Soos die filosoof Judith Butler al gevra het: Oor wie se lewens rou ons?

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Black Lives Matter  |  Israel  |  George Floyd  |  Besetting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.