Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie alle mans is so nie . . .

Sy is nou al so keelvol vir die stelling “alle mans is nie so nie . . . ” dat sy besluit dis hoogtyd om dit in detail te bespreek, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Dit word gewoonlik gesneller deur die noem van die volgende feite: Dat vroue in Suid-Afrika meer deur hul eie mans as deur vreemdelinge vermoor word.

Dat in 2014-’15 sowat 40 000 verkragtings* aangemeld is.

Soms begin dit met ’n storie wat ek vertel: Van die man wat nie na my mening wou luister nie.

Of die man wat op ’n eerste afspraak my borste probeer betas het.

Of ek dit nou noem in geselskap of op Facebook of in ’n rubriek, daar is altyd ’n man wat sal reageer met . . . nie alle mans is so nie.

Of: Ons is nie almal so nie.

Eerstens: Hoeveel ponde is daar in jou ons?

En hoe seker is jy van jou feite?

Hoe weet jy dat jou beste vriend, die man wat saam met jou werk, jou buurman, nie so is nie?

Natuurlik is alle mans nie so nie.

Maar daar is mans wat so is. En dít is die punt.

’n Beter antwoord sou wees: “Ek is nie so nie.” Want eintlik is dit al waarvan jy seker kan wees. Dat jy nie ’n chauvinis of vroueslaner is nie. Maar jy kan nie namens jou buurman praat nie.

Maar solank julle mans stilbly in ’n kroeg wanneer die ander mans spog oor hul seksuele oorwinnings of grappe maak oor vrouemishandeling, solank gaan daardie man dink sy gedrag is sosiaal aanvaarbaar.

Tweedens: As jy dan vir my sê dat jy nie so is nie, dan respekteer ek jou, Meneer. Maar dit bring my by my volgende vraag: Wat doen jy daaromtrent?

Deur die verloop van my rubrieke wat ek al hier geskryf het, het ek al ’n paar keer in die kommentare van mans die mening gesien dat vroue vir hulself moet opstaan en nie “by mans moet neul om hul vuilwerk vir hulle te doen nie”.

Vir diesulkes wil ek net noem dat die talle vroueregte-organisasies, vroueregters, polisievroue ensovoorts genoegsame bewys is dat “die susters wel saamstaan”.

Maar solank julle mans stilbly in ’n kroeg wanneer die ander mans spog oor hul seksuele oorwinnings of grappe maak oor vrouemishandeling (Hoeveel vroue het jy nodig om ’n gloeilamp om te ruil? Net een, jy moet haar net hard genoeg klap . . . ), solank gaan daardie man dink sy gedrag is sosiaal aanvaarbaar.

Solank as wat jy niks sê as ’n man vir jou pornografie of seksistiese grappies op WhatsApp stuur nie, solank gaan daardie man dink dat alle mans wel so is.

As jy ’n seun het, maak hom reg groot. As jy ’n dogter het, leer haar wat aanvaarbare gedrag deur ’n man is.

Dis tyd dat dié mans wat so gou is om te sê dat hulle nie so is nie, die daad by die woord voeg en iets doen wanneer hulle ’n onreg teen ’n vrou aanskou of daarvan hoor. En ja, ek weet daar is mans wat help. Maar weer eens, dis nie die punt nie. Die punt is, wat doen jý om te help?

Kry hulp as jy ’n vrou in gevaar sien. As iemand sleg praat van ’n vrou, maak hom stil.

As jy ’n seun het, maak hom reg groot. As jy ’n dogter het, leer haar wat aanvaarbare gedrag deur ’n man is.

Die ding is, daar is mans wat so is. Wat verkrag, aanrand en vroue soos skuim behandel. Daar is selfs mans wat net effentjies so is en diep-diep binne hulself glo dat vroue dommer, benede mans en net daar is vir een ding.

Die punt is dat ons wat nié so is nie, moet opstaan teen dié wat wel ’n onreg teenoor ander pleeg.

Wat as daardie man jou dogter se pad kruis? Wat as daardie man jou vrou aanrand? Gaan jy dan nog agter die skouerophalende stelling “nie alle mans is so nie” wegkruip?

Ons is nie almal renosterstropers nie. Ons is nie almal moordenaars nie. Ons is nie almal pedofiele nie.

Tog gebeur hierdie misdade elke dag.

Want dis nie die punt nie. Die punt is dat ons wat nié so is nie, moet opstaan teen dié wat wel ’n onreg teenoor ander pleeg.

Totdat ons eendag kan sê: Ons almal is nie so nie.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24.

* Bron van verkragtingsyfers: Africacheck.org.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Seksisme  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.