Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie alle sakelui word goeie politieke leiers nie

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa is ’n uitsondering in Afrika, want Benin se Patrice Talon het gewys dat om ’n goeie sakeman te wees nie noodwendig van jou ’n goeie politikus maak nie, skryf Liesl Louw-Vaudran.

In gelukkiger dae. Patrice Talon ontmoet Pous Fransiskus bykans ’n jaar gelede in die Vatikaanstad. Foto: Getty Images

Pres. Cyril Ramaphosa is effens van ’n uitsondering wanneer dit kom by Afrikaleiers. Soos die meeste van hulle is hy skatryk, dit weet ons.

Hoewel ’n mens tog vrae kan vra oor hoe hy so vinnig ryk geword het, is dit duidelik dat hy sy sakeondernemings opgebou het voordat hy president geword het en nie ná die tyd nie. Laasgenoemde is die geval met meeste Afrikaleiers.

Dink maar aan iemand soos Joseph Kabila, die Demokratiese Republiek van die Kongo se uitgetrede leier. Hy het die afgelope 12 jaar as president goed munt geslaan uit sy land se oorvloedige natuurlike hulpbronne.

Mense vertrou Ramaphosa, pas weer herverkies, met die staatskas. Tot die geskiedenis anders bewys, glo die meeste mense ook dat hy ’n demokraat is en sy jarelange ervaring in die vakbondwese hom geleer het om opposisiedenke te akkommodeer.

Dit is raar onder politieke leiers wat uit die sakewêreld kom. Die meeste van hulle verstaan nie die demokratiese spel nie. Of wil dit nie verstaan nie.

Toe hy in 2016 verkies is, het mense gesê Talon sal weet hoe om Benin goed te bestuur.

Soos pres. Donald Trump wat eenvoudig glo dat hy die VSA soos sy eie maatskappy behoort te kan bestuur. Vergeet van demokratiese instellings, hulle is net in die pad, dink Trump.

Nog ’n Afrikaleier wat soos Ramaphosa eers as sakeman uitgeblink het en toe ’n suksesvolle veldtog gevoer het om as president verkies te word, is pres. Patrice Talon van Benin.

Toe hy in 2016 verkies is, het mense gesê hy sal weet hoe om die land goed te bestuur aangesien hy baie sukses gehad het met sy katoen- en ander ondernemings in dié Franssprekende Wes-Afrikaland.

Ongelukkig is daar geen waarborg dat ’n goeie sakeman ook ’n goeie politieke leier sal wees nie.

Mense het gehou van Talon se vernuwende styl en byderwetse uitrustings. ’n President wat reeds sy eie geld gemaak het, sal ook minder korrup wees, word altyd gesê.

Gebeure die laaste paar weke in Benin het baie mense egter van siening laat verander.

Geen opposisieparty se naam op stembriewe

Liesl Louw-Vaudran

Benin is ’n klein landjie en beteken dalk nie veel in die groter prentjie van Afrika nie. Tog het dit groot simboliese waarde. Franssprekende Afrikane sal altyd van Benin praat as ’n voorbeeld van demokrasie.

Dit is ’n bietjie soos ons in Suider-Afrika in die verlede sou van Botswana sou gepraat het – ’n plek met min politieke probleme.

In die vroeg 1990’s was Benin een van die min lande wat ’n demokratiese regeringsverandering beleef het terwyl die meeste Afrikalande nog in diktatorskappe vasgevang was.

Sedertdien het veelpartydemokrasie gedy en Benin het sy reputasie gestand gedoen.

Talon word egter nou daarvan beskuldig dat hy die opposisie met minagting behandel.

Die algemene verkiesing op 28 April het vir die eerste keer plaasgevind sonder enige opposisieparty se naam op stembriewe. Dit was omdat hulle almal deur die verkiesingskommissie gediskwalifiseer is weens redes wat volgens hulle geen gronde het nie.

Protes hierteen het tot ernstige konfrontasie gelei. Verskeie mense is dood, huise is afgebrand en aktiviste is of in die tronk of landuit. Tydens stemdag is die internet ook afgesny.

Nou wil Talon ook die grondwet laat verander en sommige kenners beweer hy gaan langer as sy mandaat van ses jaar aan bewind probeer bly.

Duidelik is dit nie genoeg om sakevernuf aan die dag te lê as jy ’n demokratiese land wil regeer nie.

Benin het boonop in die laaste paar dae ook die slagoffer geword van terreurgroepe wat twee Franse toeriste uit ’n wildpark in die noorde van die land ontvoer en hul gids doodgemaak het.

Met sulke bedreigings op die horison bestaan die gevaar dat die regering vryheid van spraak en van die media kan beperk in die naam van die stryd teen terreur.

Duidelik is dit nie genoeg om sakevernuf aan die dag te lê as jy ’n demokratiese land wil regeer nie. ’n Volledige aanvaarding van die demokratiese spel is van groot belang. In lande, soos Benin, sonder instellings soos ’n onafhanklike verkiesingskommissie, kan dinge maklik skeefloop.

En mag korrupteer – soms selfs die beste mense.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies. Menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Donald Trump  |  Patrice Talon  |  Cyril Ramaphosa  |  Joseph Kabila  |  Benin  |  Suid-Afrika  |  Politiek  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.