Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie almal kan skryf in ’n pienk négligée nie

Barbara Cartland het die lewe van ’n skrywer verleidelik maklik laat lyk. Maar dis harde werk. En om liefdestonele uit te ryg en te hyg nog moeiliker, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Aa . . . Barbara Cartland. Ek onthou nog goed toe ek die eerste keer ’n foto van dié skrywer gesien het.

In ’n pienk deursigtige négligée met volstruisvere versier, blonde, gedoende hare en uitgestrek op ’n fluweel bank soos Cleopatra. Of soos ’n baie selfvoldane Persiese kat.

Was daar ’n sjokolade in haar hand? In my fantasie ja, beslis. ’n Sjokoladehart gevul met aarbeijellie.

Maar die beste van alles was dat Barbara die hele dag lank net op haar bank gelê en stories uitdink het. Dit is dan alles noukeurig neergeskryf en oorgetik deur haar assistent en dan het dit ’n paar weke later wonderbaarlik as ’n romanse verskyn.

Ek kon nie wag om ’n skrywer te word nie.

Ek kon myself net sien . . . smeulend, suigend aan ’n stokkielekker terwyl ek die wonderlikste liefdesverhale uitdink terwyl ’n uiters aantreklike manlike assistent (ek was meer ambisieus as tannie Barbara) notas neem.

So kom ons fast-forward 40 jaar. Dis 2020. Dis die Groot Era van die Inperking en die skryfster (ek) kry opdrag om ’n blitsromanse te skryf. Vir grendeltyd. Gepas getiteld . . . Agter Grendels.

Maak dit sexy, maak dit eroties en maak gou! Dis my opdrag. Hoe opwindend.

Nee.

Veral nie as jy opgesluit is saam met drie katte, skottelgoed wat ophoop en met wenkbroue wat elke dag net gryser word nie.

Hoe raak ’n mens kreatief as jy op jou eie is? Maklik.

Maar hoe skryf jy iets wat so sexy is dit laat jou tone omkrul van lus as jy op die sitkamerbank sit in jou verslete pajamas en wonder hoe jou vloere so vuil geword het?

Dis moeilik. Glo my.

Barbara Cartland voor ’n rekenaar. Sy het skryf so maklik laat klink . . . Foto: Getty Images

So daar sit ek. Met die tema in my kop. ’n Man en vrou saam vasgekeer in ’n huis gedurende inperkingstyd. Hulle het ’n verlede. Die lus drup van hulle af soos heuning, die elektrisiteit vonk tussen hulle soos ’n Eskom-kragstasie.

En al waaraan ek kan dink, is kos. Rondom my braai my bure en bak dit net die een piesangbrood ná die ander. Regtig, al uitweg is dít: Die twee sal mekaar moet beetkry in die kombuis.

Maar hoe?

Op die kombuistafel natuurlik. Die wonderlike ding van skrywer wees, is dat jy dinge uit die lug kan optower soos wat jy dit benodig.

Is jy in die middel van ’n vurige soentoneel en jy besef skielik jou karakters gaan mekaar nou gryp en het dringend ’n tafel nodig of hulle eindig op die vloer?

No problemo! Skryf net ’n tafel in die toneel in.

En nie sommer enige tafel nie. ’n Stewige tafel. ’n Tafel met ’n houtblad afkomstig van ’n boom uit die Knysna-woud. Sterk en dik soos die held se arms.

“91/2 weeks!” hyg ’n vriend oor die foon.

“Sexyste kombuistoneel ever.”

Ek storm dadelik yskas toe en begin lekkernye op ’n bord te laai. Alles in die naam van navorsing, natuurlik.

Ek kyk weer die rolprent. Kim Bassinger lyk presies soos Goldilocks net voor die Pappa Beer haar eet vir ontbyt. Die ene groot oë vol trane en bewerige onderlip.

Die toneel waar hy haar allerhande happies uit die yskas voer, is perfek.

Ek skryf ’n soortgelyke scenario. Die held en heldin is in die kombuis. Die spanning kan met ’n vleismes gesny word, die lus tussen die twee kook amper oor. Hy blinddoek die heldin en dan voer hy haar . . .

Meteens onthou ek my uitgewer se woorde: Gebruik al jou sintuie. Onthou sy is geblinddoek. Wat ruik sy, wat voel sy, wat proe sy!

Ek storm dadelik yskas toe en begin lekkernye op ’n bord te laai. Alles in die naam van navorsing, natuurlik. ’n Vy: die skil is taai en effens skurf, die binneste soet, sappig, stroperig. Ek vind ’n stuk camembert toegedraai in foelie op die kombuistoonbank. Ek maak dit oop. Romerig, loperig, oor my hande, oor my mond.

En so eet ek my pad oop deur die kombuis tot reg in die blaaie van my boek in. Die tafel kreun, hulle steun en uiteindelik is die toneel klaargeskryf. My pajamas vol vykolle, my vingers seer getik, my rug seer.

Barbara het die lewe van ’n skrywer verleidelik maklik laat lyk. Maar dis harde werk. En om liefdestonele uit te ryg en te hyg, nog moeiliker.

Veral sonder ’n ywerige manlike assistent wat aan jou lippe hang.

* Agter Grendels is ’n e-rotiese boek en beskikbaar by Lapa.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Kos  |  Skryf  |  Covid-19-Pandemie  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.